‘Onverantwoordelikheid’ lei tot ontbinde liggaam in hospitaal

Argieffoto

Die LUR van gesondheid in Noordwes het gesê geen steen sal onaangeraak gelaat word in die ondersoek waar ʼn ontbinde liggaam by Mahikeng- provinsiale hospitaal gevind is nie.

Rose Mosikare (60) is op 6 September in die hospitaal opgeneem vir hoë bloeddruk en vermoedelik ʼn kardiovaskulêre voorval. ʼn Skandering is gedoen en sy is na Tshepong-hospitaal in Klerksdorp oorgeplaas waar sy ʼn operasie ondergaan het. Sy is daarna weer na Mahikeng-hospitaal oorgeplaas maar het op 25 Oktober 2020 gesterf. Haar liggaam is in die hospitaal se lykshuis gehou.

Toe haar familie die volgende dag opgedaag het om haar na ʼn begrafnisondernemer te neem, is hulle versoek om terug te keer ná ʼn nadoodse ondersoek wat vir 27 Oktober geskeduleer is. Toe hulle die dag daarna terugkeer, het hulle ontdek haar liggaam het reeds ontbind en hulle het geweier om die liggaam in ontvangs te neem.

“ʼn Voorlopige ondersoek het onthul die liggaam het ontbind omdat dit die aand van 25 Oktober in ʼn yskaslaai geplaas is wat onklaar geraak het,” het LUR Madoda Sambatha in ʼn verklaring gesê. “Die familie het ʼn formele klag ingedien. Die hospitaal het aanspreeklikheid aanvaar vir die voorval en het onderneem om berading aan die familie te verskaf.”

Die familie het ook ʼn skriftelike verskoning van die bestuur van die hospitaal geëis.

Die betrokke beampte is voorlopig geskors.

Sambatha het gesê die voorval is onverantwoordelik. Hy het reeds die familie besoek en onderneem dat sy departement ondersoek sal instel. “Ons betuig ons meegevoel met die familie, want behoorlike prosedures om ʼn liggaam in ʼn lykshuis te hanteer, is nie gevolg nie. Die feit dat ʼn liggaam in ʼn lykshuis ontbind het, is ʼn teken dat daar ʼn gebrek aan werksetiek en sorg vir oorledenes bestaan by lykshuispersoneel en -bestuur. Ons betuig ons dankbaarheid dat die familie die saak op ʼn ordelike wyse hanteer, ondanks die feit dat hulle treur en baie seergemaak is deur die onaanvaarbare voorval,” het hy bygevoeg.

“Ek moet sê, hierdie voorval dui op onverantwoordelike gedrag van die betrokke beamptes. Dit wys op ʼn gebrek aan behoorlike lykshuisbestuur. Ek weet die familie is diep seergemaak en teleurgesteld oor die wyse hoe die liggaam van hul geliefde hanteer is. Ek vra groot om verskoning en stuur my innige meegevoel.”

Gavin Edwards, DA-LP in Noordwes, het vroeër gesê die DA het Sambatha versoek dat die lykshuispersoneel dadelik geskors moet word.

Edwards het gesê die gesin was woedend en getraumatiseer deur die ontbinde toestand van die liggaam en het ʼn formele klag ingedien. “Die departement het daarna in ʼn brief om verskoning gevra. Die uitvoerende hoof wou die gesin dwing om die liggaam so gou as moontlik te begrawe.”

Die DA eis ook dat strafregtelike aanklagte aanhangig gemaak moet word teen diegene wat skuldig bevind word aan nalatigheid en wangedrag.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Gert Johannes ·

Jammer vir die familie, maar dit is algemene praktyk dat onvermoeë en werksetiek die probleem ooral oor is.

Pieter ·

Dis onbevoegdheid van die bestuur wat hiertoe lei. Om te dink in die een hositaal in Johannesburg moet die pasiente ge-abba word omdat die hysbakke al ‘n geruime tyd buite werking is.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.