‘Onvergeeflik’ wanneer amptenary van armes steel – Ramaphosa

Pres. Cyril Ramaphosa. (Foto: Elmond Jiyane/GCIS)

“Die onthulling in die parlement dat duisende staatsamptenare maandeliks onwettig maatskaplike toelaes ontvang, wys dat ons nog ʼn lang pad moet gaan om ʼn etiese kultuur in die staatsdiens te vestig.”

Só skryf pres. Cyril Ramaphosa in sy weeklikse nuusbrief waarin hy ook staatsamptenare wat toelae gebruik om hul salarisse aan te vul, gekap het.

Die amptenare kwalifiseer nie vir die toelae nie omdat hulle reeds ʼn salaris van die staat ontvang. Slegs diegene wat geen ander inkomste verdien nie, kwalifiseer vir die toelae. Nietemin het duisende amptenare toelae ontvang, sê Ramaphosa.

“Hierdie geld is veronderstel om na die armes te gaan en die betrokke staatsamptenare steel doelbewus die geld. Dit is onvergeeflik,” skryf die president.

Volgens Ramaphosa gaan die regering sy pogings verskerp om ʼn stokkie voor hierdie soort uitbuiting te steek en streng stappe gaan gedoen word teen diegene in die staatsdiens wat hulle aan sulke misdrywe skuldig maak.

Die regering het vandeesmaand ʼn nuwe eenheid vir openbare etiek, integriteit en dissiplinêre tegniese bystand bekend gestel. Dit moet binne openbare instansies die nodige dissiplinêre stappe doen teen staatsamptenare wat hulle aan wandade skuldig maak en moet saam met ander staatsorgane werk om die amptenary tot verantwoording te roep.

Ramaphosa sê die nuwe eenheid het reeds staatsamptenare geïdentifiseer wat onregmatig maatskaplike toelae ontvang het.

“Die eenheid sal korrupsiesake na die regering se taakspan teen korrupsie verwys en met die onderskeie departemente opvolg om te verseker dat staatsamptenare wat by strafsake betrokke is, dissiplinêr vervolg word.

“Die eenheid sal die uitvoer van leefstyloudits van staatsamptenare monitor en waar departemente korrupsie en onverklaarbare rykdom identifiseer, sal die sake na die polisie verwys word.”

Ramaphosa sê ʼn ander belangrike aspek van die eenheid se werk is die institusionalisering van etiek en integriteit in staatsdiensgeledere.

“ʼn Paar staatsamptenare is oor die jare van mening dat hulle, hul vriende en gesinne finansieel voordeel uit die staat kan trek. Ons moet alles in ons vermoë doen om hierdie houding te verander.”

Volgens Ramaphosa sal die nuwe eenheid norme en standaarde stel oor etiek, integriteit en gedrag. Dit sal ook die afdelings se vermoë opbou om amptenare wat aan wangedrag skuldig bevind is, te dissiplineer.

“Soos ʼn aantal skandale met betrekking tot staatsamptenare wat onwettig deur staatsgeld bevoordeel is, getoon het, sal die proses moeilik en tydsaam wees. Ons sal egter nie tou opgooi nie.

“Nasionale prioriteite kan slegs bereik word indien ʼn bekwame staat aan die stuur van sake is. En dit kan nie gebeur indien aanspreeklikheid nie aanvaar en etiese gedrag nie bevorder word nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

32 Kommentare

jongste oudste gewildste
Pablo

En jy ontdek dit nou eers en doen terselfde tyd niks om die skuldige “staatsamptenare” aan te kla en van hulle poste onderneem nie. Daar is nie n vlak in die ANC regering wat nie korrupt is nie en niks gaan gebeur om dit stop te sit nie.

Persheks Adri

Jy’s snaaks Cyril! Jy’s seker so ernstig oor die saak soos om korrupsie hok te slaan! Ons sien nog niemand wat in die tronk sit nie…

Malan

Maar dit word heeldag gedoen en CR doen niks daaraan nie.

Werner

Dit is hy wat die kaders ontplooi.So weereens n nikseggende uitlating van n afwesige president.Hy is seker kwaad omdat hy nie iets gekry het nie.

Dries

Dit is mos BEE amptenare. Dit is mos JOU kaders. JY is so aandadig hieraan . Nou maak jy of jy regtig gepla is daaroor. Siek man