Onverwagse wending in ondersoek na staatskaping

Adjunkhoofregter Raymond Zondo. Foto: Getrude Makhafola/ANA

Die ondersoek na bewerings van staatkaping het Maandag ʼn onverwagse wending geneem nadat dit aan die lig gekom het dat Duduzane Zuma, voormalige pres. Jacob Zuma se seun, besluit het om voor die kommissie van ondersoek na staatskaping te getuig.

Paul Pretorius, hoof van die kommissie se regspan, het gesê die kommissie het ʼn brief ontvang van Duduzane se regsverteenwoordiger wat dit stel dat Duduzane van plan verander het en nou bereid is om te getuig.

Pretorius het dié brief aan adjunkhoofregter Raymond Zondo voorgelees. Zuma is glo bereid om getuienis te lewer met verwysing na dít wat Mcebisi Jonas, voormalige adjunkminister van finansies, in sy getuienis gesê het.

Duduzane het aanvanklik gekies om nié te getuig nie aangesien hy teregstaan op strafregtelike aanklagte wat met die staatskapingbewerings verband hou. Dié klagte is verwant aan beweerde omkoopgeld van R600 miljoen wat glo deur die Guptas aan Jonas aangebied is by hul Saxonwold-herehuis.

Dít het glo plaasgevind in Duduzane en die omstrede sakeman Fana Hlongwane se teenwoordigheid.

Duduzane se korrupsiesaak word tans in die gespesialiseerde handelsmisdaadhof aangehoor.

Volgens Jonas se getuienis het Duduzane ʼn vergadering met hom gereël deur middel van oproepe en teksboodskappe. Duduzane en Jonas het mekaar toe glo in 2016 by ʼn luukse hotel in Rosebank ontmoet en Duduzane het herhaaldelik vir Jonas gesê hoe baie sy pa (Jacob Zuma) van Jonas hou.

Volgens Jonas is hy na die Guptas se herehuis in Saxonwold geneem om privaat “met nog mense” byeen te kom. Dit is glo daar dat Ajay Gupta vir Jonas die pos van minister van finansies asook R600 miljoen omkoopgeld aangebied het om “in enige rekening enige plek in die wêreld te bêre”.

Ajay het glo by Jonas gespog dat hul familie baie mense, onder wie Duduzane, ryk gemaak het. Volgens Jonas het Duduzane en Hlongwane nie ʼn woord gesê toe dié aanbiedinge gemaak is nie.

Ajay het hierna glo vir Jonas ʼn voorafbetaling van R600 000 aangebied terwyl hy besig was om op te staan om vir ʼn vlug na Kaapstad te vertrek. Volgens hom het hy albei aanbiedinge verwerp en die huis verlaat.

Zizi Kodwa, woordvoerder van die ANC, het gesê die ANC verwelkom Duduzane se besluit om te getuig. “Ons verwelkom die feit dat mense nou opwarm ten opsigte van die kommissie en wil kom getuig. Mense besef nou die kommissie is die enigste platform om met die kwessie van staatskaping af te reken,” het Kodwa gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

chris ·

Sy getuienis sal seker net uit ontkenning bestaan, want dit is al waarin al die staatskapers en die ANC goed in is. Mnr Jonas en andere sal tot leunaar gemaak word , want hy kan en mag nie teen sy meesters getuig nie.

Chris ·

Ek stem saam. Dit moet hulle taktiek wees. Ek vermoed hy gaan gate in Jonas se getuienis maak, twyfel skep maar niks oor ander kwessies se nie.

Cherokee ·

Ek raai dat Jonas homself die held gemaak het, wetende/denkende dat Zuma nie sal getuig teen hom nie. En dat Zuma nou meer gaan vertel van wie Jonas werklik is. As die raaiskoot reg is, kan dit ‘n onaangename verrassing wees vir Jonas dat Zuma bereid is om te getuig.
Ek wonder of daar ‘n Afrikaanse weergawe is van cut your nose to spite your face.

PJC ·

Ek wonder waarvandaan kom hierdie skielike bravade van Zuma junior nou. Met watter snaakse stories gaan hy nou weer kom.

Peensie ·

Sluit hulle toe en kry al die geld met rente terug , dis die publiek se belasting geld.

Tokkolos ·

Jip ek vertrou nie die skuif nie
LIEG LIEG EN LIEG
Zuma en jy is untouchable

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.