Onvoltooide Bloem-pad moet nou klaar

David McKay, DA-raadslid van die metro, het die onvoltooide pad besoek. (Foto: Verskaf)

Die inwoners van Mangaung aan die suide van Bloemfontein het opnuut daarop aangedring dat die halfgeboude Vereeniging-rylaan, wat al maande lank vir verkeer gesluit is, teen Februarie oopgestel word.

Die aankondiging dat die burgemeester van die Mangaung- metropolitaanse munisipaliteit dalk vervang gaan word, kan egter vir verdere vertragings sorg.

David McKay, DA-raadslid van die metro, sê hy spook al maande lank om owerhede te dwing om die broodnodige pad oop te stel. Die pad sou reeds in Maart verlede jaar voltooi gewees het, maar weens die regering se versuim om die kontrakteurs te vergoed is dit steeds nie klaar gebou nie.

“Die kontrakteurs het geloop nadat die munisipaliteit nie sy kontraktuele betalingsooreenkoms nagekom het nie,” sê hy.

“Die kontrakteurs se tender is aanvaar, binne die bedrag wat volgens begroting deur die nasionale regering toegestaan is. Daar is dus geen geldige rede waarom die kontrakteurs nie betaling moes ontvang het nie.”

Die pad is tans 92% voltooi en die straatligte wat deur die wet vereis word voordat ʼn dubbelbaanpad oopgestel kan word, is reeds opgerig.

Die munisipaliteit is in die inwoners se jongste skrywe versoek om werk daarvan te maak om te verseker dat die pad teen middel Februarie oopgestel word.

Die ANC in die Vrystaat het egter vandeesweek aangekondig dat hy veranderinge aan die munisipaliteit se bestuurstruktuur sal aanbring “weens die stand van dienslewering in die metro”.

“ʼn Voorstel sal gemaak word oor die veranderinge rakende die burgemeestersposisie,” sê Paseka Nompondo, die ANC se provinsiale koördineerder in die Vrystaat.

“Hierdie veranderinge is nodig om dienslewering te verbeter en die nodige politieke leierskap te bied wat die gebied nodig het.”

Nompondo sê die party hoop om die saak so gou moontlik op te los.

ʼn Beswaarskrif met 661 handtekeninge is verlede jaar aan die munisipale hoofde oorhandig waarin inwoners gelas het dat die pad in Augustus al oopgestel word. Niks het egter daarvan gekom nie en steeds moet inwoners ʼn 30 km lange ompad werk toe ry.

“Die rylaan is een van die hoofare na die Hamilton-nywerheidsgebied van Bloemfontein en word deur talle vragmotors en diegene wat daar werk, gebruik,” sê McKay.

“Die ompad jaag hierdie mense meer geld uit die sak omdat hulle meer brandstof uitry. Boonop eis dit in die huidige ekonomie ʼn groot tol op pendelaars.”

Die padsluiting veroorsaak boonop ook onwettige storting van vullis.

“Dit sal verskeie onnodige uitgawes wat inwoners en die munisipaliteit moet aangaan, uit die weg ruim as die kontrakteurs net betaal en die pad oopgestel word.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Hasie ·

Hoogtyd dat die Burgermeester verander word . Hul kan net praat en geen aksie . Dit ‘ n geval van iemand sal dit doen solank dit nie EK is nie …

Ettienne ·

Elke dag meer en meer verheug dat ek weg is uit daardie ANC hool.

Nico ·

Wat doen Delmas aan die pad tussen Delmas en die N12, die pad is begin en net so gelos, kom julle ministers kom ry met julle privaat voertuie op daardie stuk pad, die president en die minister van vervoer sit lekker en slaap en die motoris moet sy motor stukkend ry, wat se slegtig is die met hierdie kommunistiese regering van ons.

Marcello ·

Die inwoners moet maar die saak onder e.nuus se aandag bring, sodat die hele land dit kan sien, moontlik gebeur daar dan iets. Want die ANC wil nie hê almal in die land moet sien hoe pateties hulle is nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.