Onvoltooide brûe in Kaapstad moet met verkeersprobleme help

Die bekende onvoltooide brûe in Kaapstad (Foto: eNCA)

Die bekende onvoltooide brûe in Kaapstad (Foto: eNCA)

Die stad Kaapstad sal binnekort begin soek na ʼn privaat vennoot om planne te beraam om die bekende onvoltooide brûe in die middestad af te handel.

Patricia de Lille, burgemeester, het Dinsdag gesê die brûe moet help om verkeersopeenhoping te verlig en die projek moet ook bekostigbare behuising insluit.

“Ons is op soek na ʼn vennoot wat met ʼn kreatiewe en verbeeldingryke oplossing kan kom,” het sy gesê. “Dit moet bydrae tot die aantreklikheid van Kaapstad as ʼn internasionale bestemming en ons help om die uitdagings van ʼn groeiende middestad aan te spreek, waar verkeersknope die stad verhinder om sy volle potensiaal te bereik.”

Konstruksiewerk aan die onvoltooide snelweg het in die 1970’s begin, maar is laat vaar weens ʼn gebrek aan fondse en te min verkeer.

Nou, byna 50 jaar later, gaan die stad op 8 Julie ʼn dokument op sy webwerf publiseer om voornemende beleggers en ontwikkelaars te nooi om met ʼn oplossing vorendag te kom.

Die stadsgrond, onder die brûe, sal beskikbaar gestel word aan die privaatsektor indien padinfrastruktuur en ʼn ontwikkeling, wat volhoubare ekonomiese groei kan verseker, aangebied word.

De Lille het verduidelik ʼn gedeelte van die ontwikkeling moet aangewend word vir bekostigbare behuising aan begunstigdes en aansoekers wat vir dié geleenthede kwalifiseer.

Die prospektus, ʼn openbare dokument, sal volledige inligting bied oor die grootte en presiese ligging van die grond, die vereistes van die ontwikkeling, sperdatums en die bieproses.

Die publiek sal genooi word om kommentaar te lewer sodra bieërs hul ontwerpe en voorstelle ingedien het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Johann Marx ·

Net voor daar met konstuksie aangegaan word, moet die bestaande strukture eers getoets word….deur ‘n blou-lig brigade teen 200km/uur…in die nag.

Wat-ek-lees ·

Solank dit net ‘n voorheen benadeelde ingenieur, argitek, kontrakteur ens. is behoort die joppie klopdisselboom te loop . . .

John ·

Die brue is monumente van ons land se vooruitgang sedert 1994. Los dit net so asseblief! Die simboliek is veelseggend. Maak eerder daarvan ‘n toeriste-aantreklikheid met ‘n groot kennisgewing: ‘The end of apartheid: A new beginning.’

Reinhardt ·

Die konstruksie van daardie brue was gestaak in die 70s. Effens onregverdig om die skuld vir die nuwe regering te gee.

Reinhardt ·

Dit is uiters idioties om die brug te voltooi om “verkeer te verlig.” Dit is al menigte kere bewys dat meer paaie slegs meer karre in gevolg het. Die oplosing vir vervoer lê in ‘n geïntigreerde vervoerstelsel (busse+treine+fietse+privaat motors). So, teensy hulle die brug voltooi om plek te maak vir nuwe MyCiti busroetes, mors hulle geld. Om meer bane te maak vir privaat motors het nog nooit enige probleme opgelos nie. Dit is nie ‘n populêre opinie, maar dit is die waarheid.

Dit is so ·

Reinhardt, in Europa is ‘n baie besonderse fiets stelsel wat wonderlik werk. Ek stem met jou saam dat openbare vervoer groter aandag moet kry. Dit gaan die oplossing wees. Maar wanneer kom dit Noordelike voorstede toe. My City Busroetes ontwyk nog hier.

Reinhardt ·

Jy kan maar agteroor sit en ‘n koppie koffie gaan maak, daai busroetes sal eers die noordelike voorstede teen 2030 sien… as ons gelukkig is. Noordelike voorstede is ongelukkig een van die meer wel-af areas en meeste mense kan ‘n kar bekostig. Dit ontvang dus laaste prioriteit. Kaapsevlaktes gaan nou eers gedoen word, dan suidelike voorstede, dan die vere suide soos Kommetjie en heel laaste Noord.

Reinhardt ·

Terloops, die naam van die munisipaliteit moet met n hoofletter geskryf word.
“Stad Kaapstad”, nie “stad Kaapstad” nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.