Onwaarhede oor rassisme viktimiseer professor verder

Steve Biko-hospitaal Foto: pah.org.za

Steve Biko-hospitaal Foto: pah.org.za

Die vakbond Solidariteit het Dinsdag sterk kapsie gemaak teen beweringe dat een van sy lede, ʼn professor aan die Steve Biko Akademiese Hospitaal, geskors is weens rassistiese opmerkings.

Dit volg nadat Eyewitness News en 702 Radio vandag berig het dat die professor ʼn swart vrouekollega sou gevloek en na bewering gesê het dat neurochirurgie nie vir swart mense is nie en dat hulle nooit hul eksamens sal deurkom nie.

Volgens Johan Kruger, woordvoerder vir Solidariteit, is die beriggewing feitelik verkeerd en onwaar. “Solidariteit verteenwoordig die professor reeds sedert Desember 2013 nadat ʼn aantal klagtes teen hom aanhangig gemaak is,” het Kruger verduidelik. “Daar is geen sprake van enige aanklagte van rassisme teen ons lid nie. Ons is wel bekommerd dat hierdie valse inligting ʼn verdere poging is om ons lid te viktimiseer.”

Solidariteit voer aan dat die professor onlangs geskors is nadat ʼn nuwe klagte teen hom ingebring is. “Sy skorsing was voorkomend van aard en hou geen verband met enige rassistiese opmerking of gedrag nie. Ons glo dat hierdie klagte, net soos die vorige reeks klagtes teen hom, geen meriete het nie en ons sal hom ook hierin bystaan in sy verdediging. Dit is duidelik dat ons lid geviktimiseer word deur hom aan onnodige dissiplinêre prosesse bloot te stel,” sê Kruger.

Die Universiteit van Pretoria en die bestuurshoof van die Steve Biko Hospitaal is oorval deur versoeke vir die opheffing van die skorsing van die professor.

“ʼn Groot aantal registrateurs en mediese personeel in die departement van narkose het versoek dat die professor met sy akademiese verpligtinge moet voortgaan. Die hospitaal het gehoor gegee aan die versoek en sy skorsingsvoorwaardes gewysig sodat hy steeds sy akademiese verpligtinge kan nakom. Dit is aanduidend van sy vermoë en karakter,” het Kruger bygevoeg.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.