Onwaarskynlik dat mosies slaag, tog bly ‘simboliek’ belangrik

Pres. Cyril Ramaphosa. (Foto: Elmond Jiyane/GCIS)

Die kans dat twee afsonderlike mosies van wantroue – een teen pres. Cyril Ramaphosa en die ander teen sy ganse kabinet – Woensdag in die parlement gaan slaag, is bitter skraal.

Roland Henwood, ʼn politieke ontleder van die Universiteit van Pretoria, sê die mosies is nietemin ʼn belangrike stap om rekenskap te verbeter en die foute, mislukkings en swakhede van spesifieke mense uit te lig.

Die ATM het ʼn mosie van wantroue teen Ramaphosa ingedien, terwyl die DA ʼn mosie van wantroue teen die hele kabinet – Ramaphosa uitgesluit – ingedien het.

In Suid-Afrika stem LP’s as ʼn politieke blok en dit is onwaarskynlik dat genoeg ANC-LP’s ten gunste van ʼn mosie teen hul eie party gaan stem. As daar dus vandag ʼn verrassing in die parlement is en die mosies slaag, sal hy baie verras wees, sê Henwood.

Dit beteken egter nie daar is nie nut in die pogings nie.

Wat betref die mosie van wantroue teen Ramaphosa, meen Henwood die president het waarskynlik nie veel om oor bekommerd te wees nie. Nie in die parlement nie, in elk geval. “Ek dink nie dit is die plek waar die stryd in die ANC hom gaan uitspeel nie.

“Dit beteken egter nie die mosies is nie belangrik nie, want dit vorm ʼn belangrike deel van oorsig en rekenskap en skep ʼn geleentheid vir debatvoering.”

In die doodsnikke van oudpres. Jacob Zuma se termyn het talle LP’s – ook verskeie ANC-rebelle – in ʼn mosie van wantroue teen die voormalige president gestem. Daar was nie genoeg stemme om die mosie deur te voer nie, maar daar was steeds genoeg steun vir die mosie om die ANC te laat skrik, sê Henwood.

Hoewel daar dus verwag word dat albei mosies later vandag gaan misluk, het soortgelyke mosies elders ter wêreld wél al geslaag. Daar is dus geen werklike waarborge nie.

Henwood sê daar is ʼn ratverskuiwing in die benadering wat opposisiepartye nou volg. Die DA fokus spesifiek op swak ministers en hul swak leierskap en die party vestig met die mosie van wantroue in die kabinet die aandag op die mislukkings van die ANC-regering, nie dié van Ramaphosa nie.

“Simbolies is dit belangrik en dit is ʼn kreatiewe benadering tot partypolitiek en hoe dit in die toekoms in die parlement bedryf kan word.”

Volgens Henwood is die verwagting dat alle ANC-LP’s teen die mosie sal stem – maar deur dit te doen, verbind hulle hul eintlik ook tot die vrotsige leierskap waaraan Suid-Afrikaners in baie gevalle onderwerp word. Hiervan is daar talle voorbeelde.

Henwood verwys onder meer na die departement van vervoer – onder leiding van Fikile Mbalula – die “ramp by Prasa” en die sowat 2,5 miljoen motoriste wat ná môre nie meer ʼn geldige rybewys gaan hê nie.

Nosiviwe Mapisa-Nqakula, deesdae speaker van die parlement, is as minister van verdediging gepos en verskeie ernstige bewerings, ook van korrupsie, word teen haar ondersoek.

Waterwese het ʼn droewige geskiedenis van ministers, openbare ondernemings steier van een krisis na die volgende en die intelligensie-omgewing is die afgelope paar maand herhaaldelik skerp gekritiseer vir sy vertoning.

“En dan is daar korrupsie, korrupsie en korrupsie. Kyk wat gebeur op plaaslike regeringsvlak. Kyk hoe word die Covid-19-pandemie en die ramptoestand hanteer,” sê Henwood.

“Dit ondermyn alles wat die president probeer doen.

“Indien die mosie slaag, sal dit die hele Suid-Afrika help – maar dit is hoogs onwaarskynlik.”

Daar word nou nie meer ʼn benadering gevolg dat “alles in die ANC sleg is nie”, maar eerder ʼn geteikende een waar druk op spesifieke mense en kwessies tot praktiese verandering kan lei.

Geen geheime

Mapisa-Nqakula het vroeër besluit teen ʼn geheime stemmery in die mosie teen Ramaphosa, al het die ATM aangevoer die politieke omgewing is so gespanne en toksies dat LP’s nie volgens hul gewete sal kan stem nie.

Henwood sê dit is nie noodwendig ʼn goeie beginsel om geheime stemmings in die parlement te hê nie. Dit is ʼn ruimte wat oop en deursigtig moet wees en boonop geniet LP’s beskerming vir dit wat hulle in die parlement sê.

“Daardie voordeel weeg swaarder as dié van ʼn geheime stem. Dit behoort nie ʼn instelling te word dat geheime stemmings in die parlement plaasvind nie want dit kan ook ʼn agteraf bekokery tot gevolg hê wat nie goed is vir die demokrasie nie,” sê Henwood.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

JohanR ·

Kan iemand vir my please explain? As jy jou stem gaan gooi dan is dit privaat en net jy weet vir wie jy gestem het. Maar hier in ons afgebrande parlement moet almal weet vir wie jy gestem het. Maar bietjie belaglik ne maar alles met die ANC in 28 jaar was maar belaglik!

Kokerboom ·

‘n Oop stemming werk slegs in ‘n behoorlike demokrasie. Nie waar lede mekaar vrees vir vergelding sou hul teen iemand stem. Persoonlike belange en gierigheid is endemies

hendrie ·

Geheime stemmings kan van groot nut wees wanneer wantroue debatte gevoer word oor die bevoegdheid aldan nie, van die staatshoof en/of sy kabinet.
Die welsyn van ‘n staat en sy inwoners se belange, is van veel groter belang as ‘n ondoeltreffende, korruptiewe staatshoof s’n.
Om nie eers van diesulkes se ego’s te praaaaat nie. :-)

Manie ·

En daar dop hulle toe die logika toets ook. Hoe op dees aarde sal die kabinet wat moet stem of hulle in die pad gesteek moet word, aldan nie ooit teen hulself stem? Dis geheel en al belaglik om selfs net daaroor te wil redeneer. Beide die 69 IK en 30% slaagsyfer kom nou mooi deur.

domheks ·

te bang die ander partye stem die hele kaboedel uit – sou dan lekker kon lag!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.