‘Onwettige’ aborsies: Beampte vertel van gru-vonds in vrieskas

hof-hamer

Argieffoto.

Twee vroue wat daarvan beskuldig word dat hulle 25 onwettige aborsies uitgevoer en die fetusse in ʼn vrieskas versteek het, is Vrydag in die Port Elizabeth-landdroshof op borgtog vrygelaat.

Lulama Cabela, ʼn geregistreerde verpleegster, en Babalwa Cabela, haar ontvangsdame, staan elkeen tereg op 25 aanklagte van verberging van geboortes. Die hof het R5 000 borgtog elk aan die twee vroue toegestaan.

Gedurende Vrydag se hofverrigtinge is die ondersoekbeampte se verklaring aan die hof voorgelees waarin hy vertel hoe hy ʼn lasbrief gekry het om ʼn kliniek in Port Elizabeth-sentraal te deursoek. Daar het hy die bevrore fetusse in die vrieskas ontdek.

“Ek het in die kantoor ingegaan en die kisvrieskas wat tot bo met rooi sakke gevul was, oopgemaak. Ek het die rooi sakke oopgemaak en die gevriesde fetusse gesien. Ek het ook beslag gelê op medisyne, toerusting en dokumentasie wat gebruik word om aborsies mee uit te voer,” het sy verklaring gelees.

Die klagstaat het aangedui dat Lulama as verpleegster by die kliniek aangestel was. Die staat beweer dat sy die kliniek se fasiliteite en haar huis gebruik het om aborsies uit te voer op vroue wat al meer as 13 weke swanger was.

Die staat het nie Vrydag borgtog teengestaan nie en gesê die oortredings word as ʼn skedule 1 oortreding gesien. Die vroue se borgtogvoorwaardes sluit in 24 uur huisarres en dat hulle twee keer per week by die Humewood-polisiestasie moet aanmeld.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

jaco ·

waarom dit onwettig en onveilig laat doen as dit wettig, gratis en suksesvol by ‘n staatshospitaal gedoen kan word???

jemma ·

want,jaco, hierdie twee dames het dit seker nie verniet gedoen nie

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.