Onwettige besetters in Centurion verwyder

Die besetters is vandeesweek verwyder. (Foto: City of Tshwane/Facebook)

ʼn Groep onwettige besetters is vandeesweek op ʼn stuk grond naby SuperSport-park in Centurion verjaag nadat die Stad Tshwane ingegryp het om die eienaar van die grond te help.

Die stuk grond, wat in private besit is, is reeds geruime tyd gelede beset en deur ʼn groep individue gebruik as ʼn sentrale punt om informeel afval te herwin.

Randall Williams, burgemeester van die Tshwane-metro, sê ʼn uitsettingsbevel is aan die besetters oorhandig, waarna hulle van die grond verwyder is.

“Die eienaar van die grond het onderneem om dadelik ʼn deeglike skoonmaakproses, insluitend die verwydering van enige afval, van stapel te stuur om te verseker dat die gebied weer tot sy natuurlike toestand herstel word,” sê hy.

“Dit is voorts ook die plig van die eienaar om te verseker dat sy eiendom teen toekomstige besetters beskerm is.”

Volgens die Stad sal die skoonmaak van hierdie gebied veral die omstandighede van naburige gemeenskappe verbeter en verhoed dat die Hennopsrivier verder besoedel word.

(Foto: City of Tshwane/Facebook)

“Die Stad verdra nie onwettige besettings soos dié nie, en sal voortgaan om die uitvoer van uitsettingsbevele teen individue wat onwettig ʼn stuk grond beset, te ondersteun,” sê Williams.

“Die Stad Tshwane sal tot die beste van sy vermoë voortgaan om vakante grondgebiede te monitor om enige onwettige besettings te verhoed en te beveg.”

Onwettige grondbesettings het egter ʼn groot probleem in Tshwane geword met voorbeelde van grondgrype in onder meer Wolwespruit in die ooste van die stad en langs die R21 naby Elephantweg.

Die burgerregtegroep AfriForum het vroeër gesê dat sy klagtes oor onwettige grondbesettings in Tshwane op dowe ore val. Williams het tydens sy herverkiesingsveldtog onderneem om ʼn taakspan te stig wat die regte van wettige inwoners in die stad sal beskerm teen onwettige besetters.

Inwoners wag egter nog om die sukses van dié taakspan te sien.

Verskeie munisipaliteite landwyd gaan ook gebuk onder onwettige grondgrype.

Meer onlangs het onwettige besetters hul huise op ʼn begraafplaas in Pietermaritzburg gebou, terwyl Kaapstad steeds swoeg en sweet om besetters in die Stad te verwyder, berig News24.

  • Om gevalle van grondgrype aan te meld kan die polisie se 24-uur-noodlyn geskakel word by 012 358 7095/6, of stuur ʼn e-pos na [email protected].
  • Klik hier vir meer inligting oor onwettige grondgrype.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Genis ·

Goeie nuus… en ek wet julle dis buitelanders… Gaan probeer dit in hulle land…. Danksy Mandela…

Souterig ·

Alles goed en wel, maar waar gaan hulle hulle nou vestig wonder ek.

Toy ·

Sies kyk hoe lyk dit daar, morsig om die minste te se. Dit is om van naar te raak.

Johan ·

Ek draf daar verby en daar was sekerlik n paar duisend wat daar gebly het. Net altyd sleg om te sien hoeveel jong kindertjies daar bly…wel seker gebly het.

Marius ·

Dit is goed dat plaaslike regerings onwettige grondbesetters verwyder. Daar is sekere politieke partye wat onwettige grondbesetting aanmoedig en daar moet teen hulle opgetree word. Niemand is verhewe bo die wet nie.

Misky ·

Lekker lag ek nou…… Bel die polisie se 24 uur noodlyn!!!!

Hulle help nie eens as jy by die polisiestasie instap nie, nog minder oor ‘n foon

Kobus ·

Probleem is die regering wat immigrante toelaat. Soos Plastic Vally langs Moraletta Park. Ek verstaan dis net Swazi’s wat daar bly. Die kerk onderhou hulle en verder is hulle aanwas onbeperk. Kinders wat nou gebore word is SA burgers en ek glo hierdie mense staan ook in die ry vir toelae’s. Indien hulle eers strukture oprig, moet die munisipaliteite alternatiewe huisvesting voorsien,,,,tot volgende keer. Hierdie situasie het heeltemal handuit geruk

Swerwer ·

Dit is die hele probleem, die wat ordentlik opgevoed is onderhou die indringers.

Swerwer ·

Waarom moet die eienaar van die grond ʼn deeglike skoonmaakproses van stapel stuur. Die onwettige grondbesetters moet onder toesig van die plaaslike Munisipaliteit die vullis verwyder.
Hoe verseker jy dat jou eiendom beskerm is teen toekomstige besetters. Die ANC gee nie ‘n duit om of daar Palasade of elektriese heining om jy eiendom is nie. As hul wil in, klim hul bo-oor.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.