Onwettige besetters moet uit én opdok vir skade

Die eenhede is teen ‘n koste van net meer as R53 miljoen gebou. Dit is byna heeltemal voltooi. (Foto: Tshwane-metroraad)

ʼn Groep onwettige besetters wat hul intrek in nuutgeboude laekoste woonplekke in Mamelodi, in die ooste van Pretoria geneem het, het sewe dae gekry om hul tasse te pak nadat die Tshwane-metroraad ʼn uitsettingsbevel teen hulle gekry het.

Meer as ʼn honderd onwettige besetters het die woonstelle vroeg in Desember beset. Hulle het toegang tot die eenhede gekry deur deure en slotte oop te breek. Die hooggeregshof in Pretoria het net meer as ʼn week later die bevel toegestaan dat hulle verwyder mag word.

“Die stad moes blitsig optree en die hof op ʼn dringende basis nader om die besetters te laat verwyder,” het Sello Maimane, burgemeesterskomiteelid vir behuising, gesê.

Die besetters – altesaam 186 van hulle – het die hofaansoek teengestaan.

Die ontwikkeling in Mamelodi is 97% voltooi en is gebou teen ʼn koste van meer as R53 miljoen. Dit bestaan uit 252 eenhede oor 14 blokke. Elke blok het 18 tweeslaapkamer woonstelle van 40 m². Die eenhede word ten volle deur die staat gesubsidieer (vantevore het dié soort behuising as HOP-huise bekend gestaan).

Die plakkers het deure oopgebreek om toegang tot die woonstelle te kry. (Foto: Tshwane-metroraad)

ʼn Heining moet nog om die ontwikkeling opgerig word, die gedeelte waar vullisdromme gestoor gaan word moet klaar gebou word, sypaadjies moet voltooi en beligting aangebring word. Elf van die blokke is bykans klaar, met net enkele loodgieterswerk wat nog afgehandel moet word. Die ander drie woonstelblokke benodig ook net die laaste afwerkings, het Maimane gesê.

Die stad het reeds met die voorlopige toekenning van die huise aan begunstigdes begin toe die besetters hul intrek daar geneem het. Die voorlopige toekenning beteken begunstigdes kry ʼn huisnommer wat hulle toelaat om ʼn diensterekening by die munisipaliteit te open.

Die dringende aansoek is Donderdag aangehoor en die besetters het tot Maandag om die eenhede te ontruim. Die metroraad het gesê hy gaan geen besettings duld nie en gaan ook nie huiwer om op te tree teen besetters nie.

Onwettige besetters lees die uitsettingsbevel wat die Tshwane-metroraad teen hulle gekry het. (Foto: Tshwane-metroraad)

“Dit is onwaar dat die stad die eenhede aan die onwettige besetters beloof het. Die eenhede behoort aan kwalifiserende begunstigdes wat op die nasionale behuisingsregister se databasis is en plaaslike burgers is,” Maimane gesê.

Die stad gaan ook ʼn saak van opsetlike saakbeskadiging aanhangig maak in ʼn poging om die skade wat aan die woonstelgeboue aangerig is, van diegene verantwoordelik daarvoor te verhaal.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Wielspore ·

Daar is ‘n baie slegte kultuur in SA waar landsburgers aanspraak maak op reg, reg op huise, reg op werk, reg op ‘n nuwe motor, reg op geld, reg op vergoeding sonder om te werk, reg om te eis.
Oplossing, verantwoordelikheid om te werk en vir jouself en gesin te sorg.

Bambi ·

Buitelanders? Ons eie mense moet toegang tot die kry!! Dis hoekom daar xenophobia ontstaan; en ek kan verstaan hoekom.

Louna ·

Ek is vas oortuig ons kort geen Menseregtedag nie, maar eerder ‘n Mense-verantwoordelikhededag!

Koos ·

Moenie geld mors om die geld te probeer verhaal nie asb.
Dis goeie geld agter slegte geld aangooi. Neem kennis asb dat die MY geld is.

Suzette Geringer ·

Nog nie eens klaar nie en dit word al weer afgebreek.. Dit is die enigste ding wat hulle goed kan doen is afbreek!!

Johanna Botha ·

SA is net wetteloos omdat die polisie so useless is en bly

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.