‘Onwettige’ dieresmouse in Noordwes vas

Een van die skilpaaie waarop die NDBV beslag gelê het. (Foto: NDBV)

Die Nasionale Dierebeskermingsvereniging (NDBV) het Sondag in ʼn gesamentlike operasie toegeslaan op handelaars wat diere onwettig op die R556 – die pad na Sun City in Noordwes – verkoop.

Dié pad is al jare lank ʼn gewilde verkoopplek van wilde diere. Enigiets van verkleurmannetjies tot skilpaaie, ietermagogs en selfs slange word daar gesmous.

Goedhartige motoriste dink ook dikwels hulle help deur die gevange diere te koop, eerder as om die diere in die hande van die onwettige handelaars te los. Kenners sê egter dit doen meer skade as goed omdat ʼn mark só geskep word. Dit is boonop onwettig.

Sondag is vier bergskilpadjies gered toe die NDBV, die polisie se veediefstaleenheid, die Noordwes-parkeraad, die Noordwes-departement van ekonomiese ontwikkeling, omgewing en toerisme én die Royal Bafokeng-reaksiespan in die omgewing toegeslaan het.

Die skilpaaie word nou in Johannesburg by ʼn veearts wat in wildlewe spesialiseer, vir rehabilitasie gehou.

Volgens die NDBV is drie verdagtes in hegtenis geneem. Onder hulle is twee smouse wat die NDBV al etlike kere tevore vir dieselfde beweerde oortreding betrap het. Dié sake is nog hangend.

“Die [beweerde] oortreders moet die volle mag van die regstelsel besef omdat hulle aanhou om die land se wette en die gevoel van dié wesens te verontagsaam. Ons glo die enigste gepaste vonnis is lang tronkstraf,” het Douglas Wolhuter, ʼn senior inspekteur verbonde aan die NDBV se Wildlewebeskermingseenheid, gesê.

Noordwes se departement van ekonomiese ontwikkeling, omgewing en toerisme het vantevore al gesê die koop van wilde diere op dié plekke is óók onwettig. Die departement sê hy gaan nie net wetgewing op die verkopers afdwing nie, maar ook op diegene wat enige van die diere koop.

“Die uitwerking wat dié misdaad het, is verwoestend: Nie net vir die diere wat gestroop word nie, maar vir die hele wildlewebevolking. Die misdaad betrek ook onskuldige burgers – kinders word dikwels onwetend gebruik om die diere te vang en vorm deel van die misdadigheid. Dit is ʼn misdaad wat ons natuurlike erfenis en samelewing verwoes,” het Wolhuter gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Peet ·

Ek het dit persoonlik 2 jaar terug by die Dept natuurbewaring raporteer. Daar is ek meegedeel ons weet daarvan en hou jouself daaruit hulle is gevaarlik. So gaan ek amper weekliks daar verby en word skilpaaie verkleurmannetjies teen jou ruit gedruk. Dan hou ek verby. Hoog tyd iemand neem leiding en doen iets. Ek wonder net hoekom nou eers????

Scalla ·

Ek verstaan hul vang ook ystervarke en verkoop dit as skrootmetaal.

Niklaas ·

Wie koop dit by die smouse, mense uit Asië, soos die kopers van renosterhorings en ietermagô skubbe? Daar moet ‘n mark wees anders sal niemand die moeite doen nie. Geen dier is meer veilig nie, dit sal gaaf wees as daar ‘ n mark is t. o. v. muskiete, vlieë en brommers

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.