Onwettige instruksies kan tenders tot stilstand dwing

(Argieffoto: Arnaud Jaegers/Unsplash)

Die nasionale tesourie het onwettige instruksies aan staatsorgane deurgegee, in wat neerkom op ʼn berekende poging om die konstitusionele hof se onlangse verkrygingsuitspraak te systap.

Die instruksies dreig ook om bykans alle staatstenders in die land ongegrond tot stilstand te laat knars en die wat wél toegeken word aan geregtelike hersiening bloot te stel.

Sakeliga het vanoggend ʼn skrywe aan tesourie gerig, waarin die direkteur-generaal dringend aangemaan word om sy instruksie terug te trek.

Die instruksie, wat op 25 Februarie, per omsendskrywe aan alle staatsorgane versprei is, kom ná Sakeliga se oorwinning in die konstitusionele hof op 16 Februarie. Met dié saak kon Sakeliga daarin slaag om die minister van finansies se verkrygingsregulasies van 2017, wat staatstenders onderhewig aan SEB-voorvereistes gemaak het, ultra vires en nietig verklaar te kry. Dit beteken dat staatsorgane voortaan nie die 2017-regulasies as grondslag vir voorafdiskwalifikasie van tenders mag gebruik nie.

“Klaarblyklik ontevrede met die uitspraak is die direkteur-generaal (DG) egter nou besig met verdere onwettige optrede en veroorsaak hy potensieel onwettige optrede deur staatsorgane,” sê Piet le Roux, uitvoerende hoof van Sakeliga.

In sy omsendskrywe van 25 Februarie gee die DG in effek aan staatsorgane instruksie dat

  • geen nuwe tenders geadverteer moet word nie;
  • tenders wat sedert die uitspraak geadverteer is teruggehou word; en
  • tenders wat geadverteer is vóór die uitspraak kragtens die onwettige 2017-regulasies voortgesit kan word.

“Die onwettigheid van die DG se optrede setel in die feit dat hy, ironies genoeg net soos die konstitusionele hof uitgewys het ten opsigte van die minister, nie ag slaan op artikel 2 van die Wet op die Raamwerk vir Voorkeurverkrygingsbeleid (PPPFA) nie. Hierdie artikel bepaal dat staatsorgane sélf vir hul verkrygingsbeleid, binne die raamwerk van die PPPFA, verantwoordelik is.”

Le Roux sê die DG kan, net soos die minister, nie buite die raamwerk van die PPPFA verkrygingshandelinge veroorloof of verhoed nie.

“Die DG se skrywe skep boonop die indruk by staatsorgane dat hulle by magte sou wees om tenders met behulp van onwettige SEB-voorvereistes te finaliseer, mits die tenders vóór die konstitusionele hof-uitspraak geadverteer is. Dít is nie korrek nie. Tenders kan slegs wettiglik gefinaliseer word indien dit binne die raamwerk van die PPPFA gedoen word. Die 2017-regulasies se voorkwalifikasievereistes, en enige voortgesette steun daarop, is onwettig juis omdat dit buite die raamwerk van die PPPFA beweeg.”

Die DG maak in sy skrywe melding daarvan dat die nasionale tesourie die konstitusionele hof vir ʼn bevel wil nader om die regulasies wat ultra vires verklaar is vir ʼn tydperk te laat herleef. “Sakeliga het nog geen kennis van so ʼn aansoek vanaf die tesourie ontvang nie en wys daarom intussen eenvoudig uit dat die tesourie klaarblyklik nie die reg korrek verstaan nie: dit is ʼn staande posisie in die reg dat ʼn bepaling wat ultra vires is, nietig is en nie gehandhaaf kan word op enige wyse nie. Daar is geen rede vir tenderprosesse in die staat om tot stilstand te knars, soos tesourie dit nou laat gebeur nie. Staatsorgane kan eenvoudig onmiddellik en ononderbroke voortgaan om tenders toe te ken en te adverteer, mits dit nie op SEB-tipe voorafvereistes of ander onwettige verkrygingspraktyk steun nie.”

David Maynier, Wes-Kaapse minister van finansies en ekonomiese geleenthede, sê hy het die minister van finansies, Enoch Godongwana, skriftelik versoek dat die DG se skrywe onmiddellik teruggetrek moet word.

Maynier stem saam dat die skrywe beteken dat die algehele verskaffingsketting tot ʼn stilstand gedwing sal word en dat dit onmoontlik sal wees vir die regering om goedere en dienste aan te koop en dienste op infrastruktuurprojekte te lewer.

“Slegs in die Wes-Kaap sal die direkte impak hiervan wees dat 86 tenders ter waarde van R1,85 miljard wat vir Maart 2022 beplan is, onmiddellik tot stilstand kom. Dié tenders is beplan vir onmiddellike implementering in die 2022/23- finansiële jaar.”

Maynier sê hy het ook versoek dat dringende stappe gedoen moet word om nuwe regulasies op te stel vir dié gebiede waar die finansiesminister die magtiging het om regulasies voor uit te reik en dat die regulasies onmiddellik uitgereik moet word.

“Ons kan nie toelaat dat die hele verskaffingstelsel, alle staatsorganisasies, landswyd, tot stilstand kom nie. Dit is noodsaaklik dat die kennisgewing dringend teruggetrek moet word sodat sekerheid bekom kan word vir verkrygingsprosesse.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Swerwer ·

Daarom “blok” ek elke staatstender wat by ons deurkom. Dit is lagwekkend om te sien, daar is geen eenvormigheid in die tenders wat uitgestuur word nie. Bly veilig en moenie eers tyd mors om te probeer tender nie.

Tiaan ·

“Daar is geen rede vir tenderprosesse in die staat om tot stilstand te knars, soos tesourie dit nou laat gebeur nie. Staatsorgane kan eenvoudig onmiddellik en ononderbroke voortgaan om tenders toe te ken en te adverteer, mits dit nie op SEB-tipe voorafvereistes of ander onwettige verkrygingspraktyk steun nie.”

Die staat probeer nie eers om die gevolge hiervan te beperk nie, soos hierbo genoem is daar ander opsies as om als tot stilstand te ruk. Die gevolge hiervan op ons ekonomie is geweldig.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.