Onwettige jag op plase ʼn ‘krisis’

Die praktyk om onwettig met honde te jag, word as ‘n krisis vir talle boere bestempel. (Foto: SA Polisie)

Mense wat onwettig met honde op boere se plase jag, is ʼn krisis wat toenemend handuit ruk.

Bertus van der Westhuizen, voorsitter van TLU SA-Vrystaat, sê nie net is die praktyk dikwels uiters wreed nie, dit skep ook die gevaar van groeiende konflik.

Dr. Jane Buys, ʼn veiligheidsrisiko-ontleder verbonde aan Vrystaat Landbou (VL), stem saam en sê die onwettige jag op plase hou verband met verskeie ander misdrywe wat saakbeskadiging, betreding of veediefstal insluit.

Buys sê boere beland dikwels in ʼn konfliksituasie met onwettige jagters wanneer hulle dié mense op hul plase betrap. “Die boer is alleen. Soms is die ander mense gewapen met knopkieries of selfs vuurwapens. Dit is dikwels ʼn groep jagters en daar kan tot 15 honde op die plaas wees.

“Wat is ʼn boer veronderstel om te doen?”

Boere kla dat die polisie traag is om te reageer wanneer voorvalle van betreding of onwettige jag aangemeld word. Hulle daag soms ure later, indien enigsins, by die plaas op. Die betreders word dan van die plaas af begelei en sonder enige gevolge by die plaashek gelaat.

Buys sê dit plaas boere in ʼn geweldig moeilike posisie – en die onwettige jagters weet dit. Luidens ʼn opname wat verlede jaar gedoen is, word selfs kinders by die onwettige jagpraktyke betrek, wat die polisie oënskynlik selfs nog meer onwillig maak om daadwerklik op te tree.

In sommige gevalle word ʼn saakdossier nie eens geopen nie en die gebeurtenis word net in die polisie se voorvalleboek opgeteken.

“Ons sit met ʼn krisis,” sê Buys.

Volgens Van der Westhuizen sal die polisie die misdaad in ʼn veel ernstiger lig moet beskou en meer moet doen om die praktyk stop te sit. Daar word boonop van boere verwag om agteroor te buig om honde te vang en betreders te probeer aankeer wat onwettig op hul plase jag.

“Daar lê groot konflikpotensiaal in hierdie misdryf opgesluit: Nie net konflik tussen gemeenskappe nie, maar ook tussen boere en die polisie self,” sê hy.

In een van die jongste voorvalle is Piet Kleynhans, ʼn boer van Ventersburg, die afgelope week van poging tot moord aangekla nadat hy ingelig is dat daar jagters met honde op sy grond is. Kleynhans het vyf van die honde glo doodgeskiet.

Die aanklag van poging tot moord spruit uit die jagters se bewering dat hulle tussen die diere was toe Kleynhans die honde van kant gemaak het. Hy het vroeër vandeesweek in die hof verskyn en die saak teen hom duur voort.

“Honde is wrede jagters en ruk hompe vleis uit lewende prooi tot die stomme dier so verswak deur pyn is dat hy nie meer kan vlug nie. Wanneer die jagter of jagters dan op die toneel verskyn, word die dier dikwels met byle afgemaai,” sê Van der Westhuizen.

“Geen boer beskou hierdie manier van jag as ʼn sport of vermaak nie.”

TLU-Vrystaat het ʼn beroep op die polisie en die regbank gedoen om boere te help in hul stryd teen dié soort misdaad, eerder as om van hulle misdadigers te maak.

“Boere sterk inderwaarheid eerder die polisie se hand in hul stryd teen onwettige jag.”

Buys sê ook die polisie het provinsiale en nasionale riglyne en opdragte oor die kwessie en hulle moet dit uitvoer. Sy én Van der Westhuizen het ʼn beroep op boere gedoen om aan te hou om voorvalle aan te meld.

“In belang van die diere en ons roeping op die aarde, kan ons dit nie net los nie. Ons kan nie diere op daardie manier laat doodgaan nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

16 Kommentare

jongste oudste gewildste
Kokerboom

Blatante uitlokking, oortreding en rassisme!! Die ellendige President van land moet nou iets in rat kry en die kwaadwillige optredes aanspreek!

Barney

Dit gaan net erger word soos wat die land verval en Agenda 2030 globale kommunisme toeneem. Ons gaan nog almal vrek van die honger.

Werner

Dit is n baie groot probleem.As jy jy jou oe uitvee maak hulle jou poue en kleinvee om jou huis dood.Skiet die honde en hulle kla jou aan vir poging tot moord.Natuurlik sit jy nie stil as jy jou diere hoor skree as hulle doodgemaak word nie.Ons word geterroriseer deur die regering en sy bendes

Pierre

Stropers het so maand gelede vriend se plaas aan die brand gesteek uit weerwraak na hy klomp gevang het wat met hond op sy plaas gejag het. Ongelukkig moes hy die honde van kant maak, na hulle die honde aangehids het om hom aan te val. Hy was vir dae lank omgekrap daaroor siende dat hy groot diere liefhebber is.

FBS

Dit klink as of n hond meer waarde het as n skaap, n duiker of n steenbok.
Waar is die greenies nou hoekom skryf Dr. Louw nie nou nie. Is dit omdat hulle nie nou kan bedel nie? Jag met hond op plase is ’n onding.