Twee vermeende onwettige myners is vandeesweek doodgeskiet en tien wat betrokke is in die onwettige mynbedryf is in hegtenis geneem.
Brig. Leonard Hlathi, woordvoerder van die polisie, het gesê in Evander in Mpumalanga is vier mense Woensdag in hegtenis geneem en twee doodgeskiet toe ʼn skietgeveg tussen hulle en die polisie uitgebreek het.
“Daar is ook beslag gelê op ses vuurwapens,” het Hlathi gesê.
Volgens Hlathi het ʼn geïntegreerde operasie van onder meer die misdaadintelligensie in Mpumalanga, die honde-eenheid sowel as eksterne belanghebbendes ʼn groep wat na bewering vir onwettige myners kos en ander voorraad gevat het, onderskep.
“Hulle het nie gehuiwer om op die polisie los te brand toe hulle genader is nie.”
Die verdagtes, tussen 24 en 30 jaar oud, sal Maandag in die Evander-landdroshof voorkom.
In ʼn ander voorval is twee vermeende onwettige myners Vrydag deur mynveiligheidswagte gewond en vier in hegtenis geneem. Twee sterk tans nog aan in die hospitaal.
“Die verdagtes sal ook na verwagting Maandag in die Evander-landdroshof verskyn vir klagte verbonde aan die oortreding van die minerale wetgewing,” het Hlathi gesê.
Ek het ook verstaan dat hulle goed gewapen is en nou blyk dit so te wees. Veels geluk Evander se SAPD!! Ek verneem ook dat die geringste misdaad soos stamp van ‘n voertuig deur ‘n skuldige hulle volle aandag geniet.
Wens hulle wil bietjie die oos rand so skoon maak hier ry SAP net verby hulle
Jy’s reg Pik, ek sien regs vd die R51 vanaf Springs naby die N12 word daar lustig gewerskaf op die ou mynhope. Sou die metode van onttrekking vd gouderts so swak gewees het dat daar nog iets oor is? By Evander is dit skynbaar die dagsoom wat gemyn word. ‘Dagsoom’ beteken waar die erts op grondoppervlakte sigbaar is.