Onwettige myners in Mpumalanga vasgetrek

Die onwettige myners se toerusting. (Foto: Verskaf)

Wetstoepassingsagentskappe wat betrokke was by Vala Umgodi, die operasie gemik op onwettige mynbedrywighede, het Vrydag nege verdagtes op ʼn plaas buite Nelspruit in hegtenis geneem en op 30 kragopwekkers en talle ander items myntoerusting beslag gelê.

Kol. Donald Mdhluli, woordvoerder van die polisie, sê ʼn verslag toon dat die spanlede, verbonde aan die polisie sowel as amptenare van die departement van binnelandse sake, het op inligting oor onwettige mynbedrywighede op ʼn berg in Schoemanskloof gereageer toe hulle op die verdagtes afgekom het.

“By die span se aankoms het ʼn groep beweerde onwettige mynwerkers besef dat hulle in die moeilikheid is. Hulle het van die toneel na nabye geleë bosse gevlug in ʼn poging om inhegtenisnemings te ontduik.

“Die toegewyde span het egter daarin geslaag om nege verdagtes tussen die ouderdomme van 24 en 63 vas te trek.

“Sewe van die verdagtes is op aanklag van die oortreding van die Immigrasiewet in hegtenis geneem. Die ander twee verdagtes is onderskeidelik vir die besit van goud en vermoedelik onwettige myntoerusting in hegtenis geneem,” sê Mdhluli.

Die polisie het daarna ʼn deeglike soektog in die digte bosse van stapel gestuur waarna hulle op 30 kragopwekkers, agt lugdrukbore, drie apparate waarmee goudstof gesif word, twee elektriese motors, twee gasbottels, 13 skopgrawe, 11 spitgrawe, 16 pikke, 45 beitels en 19 hamers beslag gelê het.

Lt.genl. Semakaleng Daphney Manamela, provinsiale kommissaris van die polisie in Mpumalanga, het die inhegtenisnemings verwelkom en die spanlede geloof vir hul toewyding in die stryd teen onwettige mynaktiwiteite.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.