Onwettige myners vas ná skietery

Onwettige mynbou aan die Oos-Rand gaan met bendebedrywighede gepaard. Argieffoto: SAPD

Die Gautengse polisie ondervra ses mans wat na bewering by onwettige mynboubedrywighede in Benoni en Springs aan die Oos-Rand betrokke is.

Die mynbougebiede van Ekurhuleni gaan al jare lank gebuk onder onwettige mynbou wat gepaard gaan met bendebedrywighede waar spanne onwettige myners goud en ander edelmetale probeer myn en by mekaar afvat, berig African News Agency.

Polisiebeamptes het Dinsdagmiddag die myners omsingel en in hegtenis geneem waar hulle aan die skiet was op mekaar in ʼn oop veld in Actonville, suid van Benoni se middestad, sê kol. Lungelo Dlamini, Gautengse polisiewoordvoerder.

Beslag is gelê op vyf ongelisensieerde vuurwapens – ʼn rewolwer en vier pistole. Die voorval word nog ondersoek aangesien die bendes moontlik verantwoordelik was vir talle moorde op onwettige myners asook huisbrake in die omgewing.

Die inhegtenisnemings het gevolg nadat die polisie Dinsdagmiddag gereageer het op ʼn klagte van ʼn skietery tussen die strydende groepe in die omgewing van Dubestraat in Actonville.

Dlamini sê een van die myners was reeds beseer toe die polisie by die toneel opgedaag het. Hy is onder polisiebewaking na die Verre Oos-Rand-hospitaal gebring.

Aanklagte van moord, die besit van ongelisensieerde vuurwapens en onwettige mynbou word ondersoek. Die verdagtes sal na verwagting Donderdag in die landdroshof in Benoni voorkom.

In Januarie verlede jaar is die liggame van vermeende onwettige myners in ʼn oop veld in Benoni gekry nadat hulle doodgeskiet is. Die polisie ondersoek dié voorval en sal die wapens waarop hulle nou beslag gelê het, forensies laat ontleed om vas te stel of dit dalk destyds gebruik is.

Dlamini sê al ses die aangekeerdes tydens Dinsdag se skietery is buitelandse burgers.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

PIPPIE LAGKOUS ·

Wat soek julle in ons land??? Ek se bou ‘n muur!!! Ons soek nie uitlanders hier nie, julle is verantwoordelik vir 80% van al die kriminele aktiwiteite in SA. En dan is hier ook meer werk vir ons eie mense.

Karolis ·

So bek kort konfyt.
Dalk ‘n klok om die konfyt agterna af te sluk ook.

tamboti ·

En daar le die groot SA probleem: hulle kan nie net rustig voortgaan op hul eie nie, maar paratiseer op wetsgehoorsames.
Dis wat die regering nie verstaan of wil stop nie, misdaad gaan al hoe sterker en groter rol speel en naderhand die “wettige” bestel oorneem .
Of is ons alreeds daar?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.