Onwettige mynwerkers gestraf vir polisiemoord

Argieffoto ter illustrasie van onwettige mynbou. (Foto: SAPD)

’n Groep van nege onwettige mynwerkers, ook bekend as zama-zamas, is tronk toe gestuur vir die moord op ’n polisiebeampte byna ses jaar gelede.

Konst. Khumo Kingsley Tsineng is in Julie 2016 tydens ’n klopjag gewond toe die polisie op onwettige mynbedrywighede aan die Oos-Rand toegeslaan het en onwettige mynwerkers skote op polisiebeamptes afgevuur het.

Tsineng (31) is drie maande ná die skietery in die hospitaal dood.

Een onwettige mynwerker is destyds tydens die klopjag deur die polisie doodgeskiet terwyl twee ander gewond is. Dié myners is ook later in die hospitaal dood.

Hul nege medepligtiges is pas in die Pretoriase hooggeregshof tot tien jaar tronkstraf gevonnis nadat hulle skuldig bevind is op aanklag van moord, poging tot moord, die onwettige besit van onwettige en ongelisensieerde vuurwapens, ammunisie en die vervoer van onbewerkte edelmetaal.

Kapt. Ndivhuwo Mulamu, woordvoerder van die Valke, sê die polisie se nasionale intervensie-eenheid het destyds gereageer op inligting oor onwettige mynbedrywighede in die omgewing van  Benoni.

’n Klopjag is gevolglik in Kingsway uitgevoer en ’n Toyota Quantum met 12 vermeende onwettige mynwerkers is voorgekeer. Die groep het egter skote op die polisie afgevuur toe hulle die minibus genader het.

Tsineng is tydens dié skietery gewond.

Sy kollegas het teruggeskiet en een van die verdagtes, Mboneleni Manqele (38), doodgeskiet.

Twee ander mans, Zamokwakhe Petros Buthelezi (35) en Thokozani Zaphina Gumede (33), is in die proses gewond en later in die hospitaal dood.

Die minibus is destyds deursoek en vyf onwettige en ongelisensieerde semi-outomatiese vuurwapens, ammunisie en onbewerkte edelmetaal is gevind.

Die oorblywende nege verdagtes, Siphamandla Victor Xulu (39), Mehluleli Ndlovu (39), Phikwankosi Mbongiseni Shezi (37), Bhekani Bangelakhe Sithole (53), Zakhele Mdletshe (47), Philani Bhekimpilo Mdlolo (39), Kwenzokwakhe Mnchunu (34), Bonginkosi Mfaniseni Msweli (35) en Bonabenza Andile Mdletshe (26), is in hegtenis geneem.

Hulle is eindelik tot 20 jaar tronkstraf gevonnis vir die moord op Tsineng waarvan tien jaar opgeskort is.

Die beskuldigdes is ook tot tien jaar tronkstraf vir poging tot moord, tien jaar tronkstraf vir die besit van onwettige semi-outomatiese vuurwapens, tien jaar tronkstraf vir die besit van ongelisensieerde vuurwapens, tien jaar tronkstraf vir die besit van ammunisie en vyf jaar tronkstraf vir die onwettige vervoer van onbewerkte edelmetaal gevonnis.

Dié vonnisse sal gelyklopend met die moordvonnis uitgedien word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

domheks ·

Julle mors julle asems om vir elke oortreding ‘n paar jaar straf te gee – en dan te besluit om gelyklopend uit te dien.

Casper ·

Wat ‘n klap in die gesig van dienaars wat hulle lewe opoffer vir reg en geregtigheid.Tien jaar vir moord dan is hulle weer vry.Ek hoop die NVG appéleer teen die vonnis.Die minimum vonnis vir moord is 15 jaar.

efjy ·

Die howe moedig misdadigers aan om so veel as moontlike misdade gelyk te pleeg. Hulle word in elk geval slegs vir een misdaad gestraf. Vir die res kry hulle ‘n “get out of jail free” bewys.

Kokerboom ·

Onwettige mynbou moet vir eens en altyd in die kiem gesmoor word. Geld ook vir bendes.

Waarnemer ·

Kom ek wrd julle nie een vN hierdie wetters gaan 10 jaar sit nie…..

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.