Onwettige sigarette rede tot groot kommer

sigarette

Foto: Sipa/Pixabay.com

Die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) sê hy bestudeer nog ’n verslag wat bevind het hy verloor jaarliks miljarde rand in inkomste weens die verkoop van onwettige sigarette.

Die navorsingsverslag van Ipsos is gedoen in opdrag van die Tabakinstituut van Suid-Afrika (Tisa) en bevat skokbevindings. Dis verlede week bekend gemaak.

Dit het, onder meer, bevind onwettige sigarette word verkoop vir so min as R5 per pakkie in meer as 100 000 winkels in Suid-Afrika. Meer as ’n derde van sigarette in informele winkels, waar sowat 80% van al Suid-Afrika se sigarette verkoop word, word verkoop vir minder as die R17,85 wat as belasting vir elke pakkie sigarette aan die regering betaal moet word.

Die verslag het bevind die vervaardiger Gold Leaf Tobacco Company (GLTC) is verantwoordelik vir tot 75% van die onwettige sigarethandel in die land. Dít ten spyte van die feit dat GLTC se sigarette plaaslik vervaardig word in ’n fabriek wat deur die inkomstediens gelisensieer is.

Een van GLTC se handelsmerke, RG, is nou die tweede grootste in die land, en word vir so min as R10,50 per pakkie verkoop.

In die onwettige tabakbedryf word die RG-handelsmerk gevolg deur Savannah (ook GLTC), Caesar (Best Tobacco Company) en Sharp (GLTC).

Die bokse sigarette is in 2015 gevind waar dit onder ’n taxi versteek is. Foto: SAID

Belastingtekorte

Suid-Afrika se belastingtekort staan vanjaar op ’n geraamde R50 miljard. Die Ipsos-navorsing wys bykans 8 miljard sigarette sal vanjaar onwettig verkoop word. Dít verteenwoordig R7 miljard rand – oftewel 14% van dié tekort – geld wat baie kan doen om die R50 miljard-gat toe te stop.

Francois van der Merwe, Tisa-voorsitter, het die situasie as verregaande beskryf, gegewe die beroerde stand van Suid-Afrika se staatskas én die land se moeilike pad na ekonomiese herstel.

Luidens die navorsing het die sluikhandel in sigarette die hoogte ingeskiet nadat die inkomstediens – toe onder leiding van die nou geskorste kommissaris van die SAID, Tom Moyane – beveel het dat ondersoeke en inspeksies by sigaretfabrieke gestaak word.

Die inkomstediens se Sandile Memela het in reaksie op die navorsing gesê die SAID-bestudeer nog die verslag en kan eers later daarop kommentaar lewer.

Die inkomstediens het egter in Mei vanjaar al aan ’n parlementêre oorsigkomitee gesê hy is besig om weer toegewyde spanne in te stel om onwettige tabakhandel te ondersoek.

Impak op landbou

Die landbouorganisasie Agri SA – waarvan Tisa ’n bedryfslid is – het intussen ’n dringende beroep op die regering gedoen om in te gryp. Hy sê die huidige stand van sake striem nie net groei nie, maar bedreig ook die plaaslike tabakbedryf.

Pietman Roos, hoof van korporatiewe sake by Agri SA, sê die organisasie steun ten volle Tisa se voorstel dat doanebeamptes by elke aanleg ontplooi word. In dié stadium funksioneer die stelsel op vertroue, maar die navorsing wys dis nie die beste opsie nie.

“Die aksyns op sigarette is só hoog, dat dit sin maak om dit te probeer vermy,” het Roos gesê. “Wetstoepassing moet konsekwent wees en dit gaan nodig wees om iemand op die grond te hê.”

Waar klaar vervaardigde sigarette in die verlede ingesmokkel is, word die rou tabak nou toenemend (wettig) uit buurlande na Suid-Afrika ingevoer. Dié tabak word gebruik in die vervaardiging van die sluikhandelsigarette, wat Suid-Afrika se tabakboere uit die waardeketting sluit. Op dié manier word aksyns ook vermy, omdat die belasting op klaargemaakte sigarette gehef word en nié op rou tabak wat ingevoer word nie.

Roos sê die plaaslike tabakbedryf kan na raming bykans verdubbel, sou alle tabak wat in Suid-Afrika in die vervaardiging van sigarette gebruik word, ook by Suid-Afrikaanse boere gekoop word. Die plaaslike bedryf onderhou nie net duisende gesinne nie, maar in baie gevalle hele dorpe.

Nagenoeg R500 000 se onwettige sigarette is in 2014 in die vermeende gesteelde dubbelkajuitbakkie gevind. Foto: SAPD

Goedkoopste sigarette ter wêreld

Luidens die Ipsos-studie het Suid-Afrika die goedkoopste sigarette ter wêreld en 50c is al wat ’n nuwelingroker vir ’n los sigaret by ’n informele winkel gaan opdok. Dit is maklik bekostigbaar en vryelik beskikbaar, ook aan kinders. Die studie het bevind die praktyk ondermyn dus ook die regering se pogings om rook te ontmoedig.

Volgens die Tobacco Atlas (wat die skade meet wat die tabakbedryf wêreldwyd aanrig) sterf meer as 42 100 Suid-Afrikaners jaarliks weens tabakverwante siektes. Meer as 55 000 kinders (10-14 jaar oud) en meer as 6 miljoen volwassenes (15 jaar+) gebruik daagliks een of ander vorm van tabak.

Die minister van gesondheid Aaron Motsoaledi is ’n onbeskaamde antiroker en het in Maart vanjaar by die Wêreldkonferensie oor Tabak en Gesondheid in Kaapstad selfs strenger wetgewing daarteen beloof.

Die departement van gesondheid het by navraag gesê die onwettige handel in tabakprodukte hou groot gesondheids-, ekonomiese en veiligheidsgevare in, nie net in Suid-Afrika nie, maar wêreldwyd.

Woordvoerder Foster Mohale sê die departement doen nie self inspeksies in die tabakbedryf nie, maar dat die inkomstediens weet wat die impak van die verkoop van onwettige en goedkoop sigarette op die ekonomie is. Hy sê die gesondheidsdepartement werk ook saam met ander departemente om die Wêreldgesondheidsorganisasie se protokol oor die onwettige handel in tabakprodukte te laat bekragtig.

Mohale sê hoewel die departement bekommerd bly oor die verkope van álle tabakprodukte, word die meeste van die sigarette wat onwettig verkoop word, boonop nie ingevolge wetgewing vervaardig nie.

sigarette-rook-nikotien

Foto: Markusspiske/Pixabay.com

Wettige verkope daal

Terwyl die sluikhandel in sigarette die afgelope paar jaar geblom het, het die verkoop van wettige, gereguleerde en belaste sigarette, binne twee jaar met 15% gedaal.

Die wettige tabakbedryf skep 108 000 werksgeleenthede, waaronder dié vir tussen 8 000 en 10 000 plaaswerkers. Tisa sê dié werksgeleenthede gaan toenemend bedreig word, tensy die regering beslissende stappe doen om die sluikhandel in sigarette te stuit.

Nie almal stem saam met navorsing

Die Fair-Trade Independent Tobacco Association (Fita) het die navorsingsverslag egter skerp gekritiseer.

Die vereniging sê as daar na fiskale risiko gekyk word, moet die héle waardeketting ondersoek word. Dit sluit in alles van die landboubedryf, vervaardiging, verkope en uitvoere. Fita sê daar moet ook gekyk word na álle belasting, waaronder maatskappybelasting, BTW, persoonlike inkomstebelasting, werkloosheidsversekering en invoerbelasting.

Fita sê die plaaslike tabakbedryf is deurspek van ongerymdhede en dat dit álles ondersoek moet word. Hy sê groot tabakmaatskappye beheer die mark, terwyl nuwe toetreders tot die bedryf geteister en verdag gemaak word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

33 Kommentare

Onnie ·

Nou kom die minister nog met belaglike rookwette, wat anyway net nagekom gaan word deur “ons” wat wettige sigarette koop. Ok maar leka stupid!

Irma ·

Darem ongelooflik hoe vinnig onwettige handel en kriminêle bedreiwighedeoral toegeneem het. Moet wees omdat Suid Afrika ‘n wettelose hawe vir al wat skelm is, geword het. Die wetteloosheid is absoluut oral in elke faset van die lewe sugbaar. Regte mafia staat. Wonder of dit in ons lewe gaan einde kry. Daar is net heeltemal teveel van die kriminêle in elke sektor betrokke. Hul optrede in die samelewing is walglik en hou bykans altyd gevaar vir ons almal in.

Robert ·

Ja onwettige sigarette is ‘n rede tot kommer, MAAR die onwettige immigrante wat daagliks die land infiltreer is ‘n BAIE GROTER rede tot kommer! Aan beide sal niks gedoen word nie!!

Nettie ·

@Robert – ja-nee, ek stem. Die ouens wat twak vat, vat twak op hul eie risiko. Los dan nog tog maar die man wat sy ou rokie wil rook. Maar kyk maar gerus watter “sake-belange” oompie Moyane het. Kom ek waarborg jou: hy het ‘n vinger in die pastei by dié Gold Leaf Tobacco Company.

En die spul onwettige immigrante wat van heinde en verre, van Oos na Wes en Noord na Suid oor ons landsgrense INSTAP – nie infilteer of insyfer nie – INSTAP, is sowaar as heilige vet weet ‘n BAIE GROTER probleem, soos jy daar sê. ‘N MOEWIESE GROOT PROBLEEM, want hulle kom pleeg misdaad hier, loop dan weer terug oor die grens en kom nooit iets oor nie. Boonop kom vat hulle die kos, werk, behuising ens. alles uit ons plaaslike volk se monde en hande en bring hulle dwelms in die land in.

Nee wat. Suid-Afrika is só ver die verderf in, omdraaikans is daar g’n niks nie ….. Presies wat ons voorvaders, soos Dr. Malan, Dr. Verwoerd en kie. wou verhoed het destyds. Net: hulle het dit op die verkeerde manier gedoen. Hulle moes meer ….e…. subtiel gewees het en nooit, ooit, ooit daai word “Apartheid” genoem het of segregasie in die gemeenskap ingebring het nie. “There are many ways to skin a cat”, sêg die Ingelse ……

Gawie ·

So lang stories oor tabak en die plaas moorde word weggepraat.

Esté Meyer Jansen ·

Dagsê Gawie

Die situasie rondom plaasaanvalle en -moorde is iets wat die span by Maroela Media baie naby aan die hart lê. Lees gerus ons breedvoerige beriggewing hieroor op ons webwerf by https://maroelamedia.co.za/tag/plaasaanvalle/

Groetnis
Esté Meyer Jansen
namens
Maroela Media

Gawie ·

Hi Este

Skies ek het dit verkeerd gestel. Wil dit graag net regstel

Maroela Media is die enigste koerant wat ek geniet om te lees. Dit wat ek gese het was glad nie op julle gemik nie maar die regering.

Ek weet julle steek nie sommer iets weg nie

Vra onverskoning

Snippie ·

Ja en dan praat ek nie eers van die plaasmoorde wat al hoe meer toe neem en nie aandag kry en samewerking en oplossings, MAAR ROOK NOU NET!!!

Irene ·

Daar is erger kommer as rookgoed in sa brand alles af moorde onwettige mense in sa korupsie

bren ·

Sleg om te rook; ek self rook; daai goedkoop sigarette is terrible!! daai goed maak jou summier dood! Goedkoopste ordentlike sigarette is R35 n pakkie; geen mens kan daai R10pakkies rook nie!!

Andre Coetzee ·

Almal sit die pot mis. Die hoë belastings op sigarette veroorsaak die sluikhandel. Verminder daardie belasting tot n realistiese vlak en doen dan wetstoepassing en almal sal wettige suid afrikaanse sigarette en tabak koop as dit meer bekostigbaar is en die staat sal steeds sy deel kry.

zoom zoom ·

Dit is daai onwettige rookgoed wat sekere lede wat reeds groot paychecks en voordele het se bankbalans maandeliks aanvul.

Petro ·

Ons wat rook word soos melaatses behandel maar ons geld is goed genoeg om julle sakke te vul

Noellene ·

Hulle bekommer meer oor dwelms en onwettige sigarette en hie dit dit en dat benadeel ens ens ens…. hulle kan gerus fokus en prioritiseer op die onnodige plaasaanvalle en moorde op mense in versorgingseenhede. Al die land se prioriteite is agterstevoor

LHS ·

Nou is ek heeltemal in die war. Aan die een kant word rookwette ingebring om mense te laat ophou rook, goed nou rook minder maar tabakprodukte se pryse word net al hoe duurder, die artikel verklaar nou alles, minder mense koop tabak maar die belastinggaarder soek steeds sy inkomste en jaarliks meer daarom word die pryse so belaglik hoog. Aan die een kant moet mense ophou rook maar aan die ander kant moet die bedryf steeds geld inbring en mense werk verskaf. Hierdie is mos die mees belaglikste scenario nog van gehoor. Geen wonder struikrowers, seerowers en ander mafia lede gaan met sluikhandel floreer nie. Moet nie verbaas wees as sommige wetmakers deel van die planne is nie.

JMC ·

Gewonder hoekom my British American Tabacco aandele die afgelope tyd so swak vaar. Daar is duidelik nie ‘n tekort aan rokers nie.

Kannaland ·

Want hulle maak geld deur om uit te brei na minder goed opgevoede mense in ontwikkelende lande wat nie die volle gevare van rook besef nie, dit is n baie onetiese skuif van hulle.

Jacky Strydom ·

Okay. As ons rokie moet weg. Moet almal se biertjie hier en wyntjie daar en dobbeljols en alles sommer gou verban word.
Pleks hulle eers begin worry oor die mense wat alkohol misbruik en werklik lewens verwoes, deur voertuie bestuur onder die invloed, gesinsgeweld en misdaad.
O jaaaa.
Rook is tog só erg, maar bande word daagliks by die tientalle regoor ons land gebrand vir tjol, ons kla mos nie meer oor die osoonlaag daar nie, net as dit die gatsakke raak.
Komaan mense, daar is baie ander, erger dinge aan die gang as om weer oor die selfde ou simpel redenasie te redeneer.
Los die mense wat rook uit. Ja ek rook ook.
Ek mishandel nie my man en kinders daaroor nie.
Ook nie my werknemers nie.
En ek is nie daardeur onbevoeg om ń voertuig te bestuur nie.
Dit help tog duisende mense daagliks met inkomstes wat werk vir hulle geld.
Nou moet hulle ook nog sonder werk gaan sit, waar gaan misdaadsyfers dan heen?
Ek wens iemamd wil iewers ń bietjie “common sense” op ń uitverkoping aanbied.

christa ·

hulle worry oor ons land wat miljarde verloor??? wat n grap. Die regering kan reeds nie voorbly om geld te mors en te laat mors nie. Plaas hulle aandag gee op meer belangrike dinge

Moeksie ·

Los die ouens wat die goedkoop sigarette wil koop – hulle gaan vinniger in die hek duik…

Andre ·

Begin om die taxi-eienaars en honderde duisende informele verkopers op te skroef dat hul begin belasting betaal, dan kan SARS op so ‘n wyse sy tekort opmaak.

carel ·

ek het vir 50 jaar gerook. kon nie ophou nie. toe een aand kry ek n hart stilstand.. twee aande later nog een in die hospitaal.. twee hartomleinings later voel ek soos n ander mens. nog nooit weer gerook nie maar dis seker nie mak.ik om hartaanvalle te bestel nie.ek is sooooo dankbaar dat die pes kon los en nog my lewe ook behou. ek weet hoe moeilik dit is om die verslawing te los, en kan dus nie raad gee nie. die heel beste wat ek kan doen is om die jonges te vra om tog nat nie te begin nie. na alles stink jy permanent

Fokus ·

Dit is mos baie minder werk vir die polisie om sulke “maklike” misdade op te los. Dan lyk hulle statistieke ook beter. Hulle moet fokus op die goed wat saak maak, die geweldaadige misdade en korupsie in die goverment. Bring daai 2 af dan sal die ander goed ook af kom.

Eish ·

Die bedryf floreer juis weens politieke beskerming. Lees Jaques Pauw se boek.
Onlangs is weer bewys dat self Malema se party, die Enterprising Economic Favours se registrasiedeposito deur opbrengste uit die oord gefinansier is sowel as sy belastingrekening by SARS.
Daar is met ander woorde, nie n wil om dit gat toe te stop nie.

Se maar net ·

Wat gaan aan met sommige mense dat hulle die plaasmoorde by elke enkele berig waar daar kommentaar gelewer word insleep. Ja, ek stem saam die paasmoorde is erg. My kind is twee keer in sy eie huis aangehou met ‘n vuurwapen en beroof, dus weet ek van die trauma daaraan verbonde. Verstaan my mooi ek het die wêreld se simpatie met die wat aangeval was en bid saam dat dit iewers sal stop.

Of daar nou oor onwettige sigarette of wat ook al berig word, plaasmoorde word daarby ingesleep. Nee regtig! Hou dit by dit waaroor berig word. Jou kommentaar oor plaasmoorde gaan niks maar absoluut niks aan die saak verander nie. Dit word regtig soos ‘n plaat wat vasgehaak het en oor en oor dieselfde deuntjie speel.

HPV ·

Sê maar net, vra ek ook. Daar word 50 mense per dag in die land vermoor, maar in baie komentare is dit net plaasmoorde voor en agter sefs in onverwante berigte.

HPV ·

Mens kan geen roker kwalik neem wat die sigarette koop nie, dit geld ook vir ander produkte soos brandstof wat oorbelas word en met allerhande belaglike heffings daarop. Die regering dink niks daarvan om miljoene Rand daaglik te mors en wan aan te wend nie. Die voorbeeld word deur die regering gestel.

Lerato ·

Cyril sal die inkomste diens regruk. Met behulp van die Sunday Times, het baie goeie amptenare hul poste veloor.
Die sogenaamde rough unit wat juis op die tabak spoor was

marlyn ·

LHS jy praat so waar as die minister sy Budget speech gee is die sonde belasting betalers eerste op die lys. Hulle moet besef baie mense het op ge hou koop want hulle het opgehou rook omdat hulle so gestraf word met BTW en die rook wet is waansinig.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.