Onwettige straatjaers in Kaapstad vas

Straatwedrenne

Argieffoto ter illustrasie (Foto: Unsplash)

Altesaam 24 mense is onlangs in hegtenis geneem tydens onwettige straatwedrenne in Kaapstad, van wie agt glo onder die invloed van drank bestuur het terwyl hulle aan dié hoëspoedaktiwiteit deelgeneem het.

JP Smith, die Stad Kaapstad se burgemeesterskomiteelid vir veiligheid, sê die onwettige straatwedrenne het in die omgewing van Bellville, Century City en Seepunt plaasgevind.

“Bestuurders is tydens elkeen van hierdie operasies in hegtenis geneem omdat hulle onder die invloed van drank bestuur het.

“Tydens een van die operasies is ses mense in hegtenis geneem omdat hulle dronk bestuur het. Hierdie geleenthede lok toeskouers wat onskuldige slagoffers kan word en dit is onaanvaarbaar dat bestuurders dronk agter die stuur inskuif.”

Volgens Smith is daar beslis ’n toename in persone wat onverskillig in die Moederstad bestuur. Dít nadat die stad se owerhede die afgelope paar dae altesaam 100 mense in hegtenis geneem, meer as 59 000 boetes uitgereik en 127 voertuie en 101 selfone geskut het.

’n Motoris is ook in Lwandle in hegtenis geneem nadat hy probeer het om metropolisiebeamptes met R100 om te koop sodat hy nie ’n boete opgelê sou word nie.

“As jy die wet oortree, moet jy bereid wees om tronkstraf uit te dien wanneer jy gevang word. Die omkoop van beamptes is onwettig en sal by die aanklagte teen jou gevoeg word,” sê Smith.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Jaco ·

dit lyk asof die dronk bestuur die eintlike oortreding is. blykbaar is straatwedrenne OK, moet dit net nie dronk doen nie.

skinderbek ·

Uys Krige rylaan in Panorama, Parow is lankal nie meer n 60 zone nie, meer n jaagzone. Stopstrate word geignoreer asof dit glad nie bestaan nie. Dit is tyd dat n paar kameras opgerig word, met daardie inkomste kan die hele dorp se slaggate herstel word met nog n kersbonus ook.

Jaco ·

daars nie geld vir kameras daar nie. al die geld is uitgegee om daardie straat se naam te verander. dit was voorheen HF Verwoerd Rylaan…

Genis ·

Vat eerder die taxi’s vas… hulle is die grootste oortreders van die wet,.. en die wat die meeste opeenhopings veroorsaak…

Androclus ·

almal kan nie motors bekostig nie,los die taxi’s moenie selfsugtig wees nie.Dankie

Casper ·

Genis dit gaan hier oor onwettige straatwedrenne en bestuur onder die invloed van drank.Baie mense is al tydens hierdie wedrenne gedood of ernstig besteer.Ek stel voor skort sy bestuurderslisensie op.Gaan jaag op Kilani of Kayalami as jy so groot jaag het of neem deel aan georganiseerde motorsport.

Suzette ·

Sulke “onverskilligheid” is ‘n alledaagse gesig in Bloemfontein….

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.