Onwettige vissers plunder Pongolapoortdam

Foto: SAPD/Twitter

Die dood van drie onwettige vissermanne wat verlede week deur ’n seekoei in die Pongolapoortdam, KwaZulu-Natal, aangeval is, het opnuut kommer oor die stropery van vis in dié dam laat ontstaan. Die ongereguleerde vang van tiervis en kurpers met ’n kiewe-net is al jare lank ’n probleem en volgens inwoners raak dit ’n al hoe groter uitdaging. Tiervis is boonop ’n beskermde spesie.

Maroela Media het Sondag berig die liggame van drie vissermanne is Donderdag in die Pongolapoortdam gevind nadat hulle deur ’n seekoei aangeval is. Volgens kapt. Nqobile Gwala, woordvoerder van die polisie, was dié drie mans onwettige vissers. Gwala sê die mans het verlede Woensdag omstreeks 16:00 met hul kiewe-nette en ʼn tuisgemaakte boot onwettig vis gevang toe die seekoei hul boot omgestamp het.

Ingevolge die Wet op Lewende Mariene Hulpbronne van 1998 is dit onwettig om vis met kiewe-nette te vang, behalwe met die nodige magtiging van ’n permit wat deur die minister van omgewingsake uitgereik is.

Visse raak verstrengel in dié nette en honderde visse kan op een slag só gevang word.

Volgens ’n verslag van die Waternavorsingskommissie van Suid-Afrika, laat die vissermanne die nette invoer van lande soos Mosambiek. ’n Net kan tussen R300 tot R1 200 kos.

’n Lid van die Pongolapoortdam-natuurreservaat het vertroulik aan Maroela Media gesê die stropery van die visse het ’n negatiewe impak op die ekotoerisme van die Pongola-dam. Besoekers vang dikwels hier tiervis vir pret, wat hulle dan weer in die water vrylaat.

“Met die toename in die stropery van visse, gaan ons later nie meer vis oorhê om te hengel nie,” sê die man.

Volgens die man is die Pongolapoortdam die enigste dam in die land waar tiervis vir pret gehengel kan word, wat die dam enig in sy soort maak. Hy sê behalwe dat die tiervis ’n beskermde spesie is en deur stropery uitgeroei kan word, beïnvloed die onwettige vang van vis ook die groter akwatiese ekostelsel.

“Die stropery kan ’n groot invloed op die algemene visbevolking hê en later op die hele ekostelsel van die dam.”

’n Ander betroubare bron wat deel uitmaak van die poging om onwettige vissersaktiwiteite te bekamp, sê stropers vang nie die vis vir oorlewing nie, maar eerder om die vis teen ʼn wins te verkoop.

Die bron sê die polisie is bewus van die probleem en het al onwettige vissers in hegtenis geneem. “Die polisie vind gereeld die nette in die dam, maar sukkel om dit met spesifieke verdagtes te verbind.”

Hy sê die stropery gebeur ook meestal in die aande, en dié vissermanne word selde op heterdaad betrap.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Di ·

Wys my iets in hierdie land wat NIE gestroop word nie. Ons gaan nooit ontslae raak van hierdie probleem nie, dit word inteendeel net erger by die dag. Een van die dae is hier ook niks meer oor soos in Zimbabwe nie.

B-Man ·

Jy bedoel dan seker dat hierdie stropery net die oortjies van die seekoei is?

Barend ·

Nie net daai dam nie. Ander damme word al baie lank geplunder met kiefnette.

Nie Verbaas ·

N jarelange probleem? Maar die slim regering doen niks daaraan nie? Wat van patrollies met n boot?

isabelle ·

hul het nie daar gehoort nie Maar sjoe dis steeds n baie nare dood daai sommer 3 van hulle

Adam Adriaan ·

The same as the ANC/EFF every thing must be plundered

Rudolph ·

So diegene wat hengel vir pret kla oor diegene wat hengel vir kos. Dieselfde belaglike redenasie as die mense wat op diere teikenskiet vir die pret wat kla oor die wildstropers wat skiet vir kos.
My voorstel is los die diere en die visse uit. Ons het hulle nie nodig om hulle dood te maak om gesond en gelukkig te leef nie

Danie ·

Stadig, al ooit gehoor dat hengel vir pret behels dat visse vrygelaat word?
En waar en deur wie word teiken geskiet op diere?
Of praat ons nou van jag in n natuurreservaat soos wat die pongolapoortdam is?
Kry asb die feite agtermekaar.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.