‘Onwettige’ wapeneienaars kry binnekort uitsluitsel

vuurwapen-rewolwer-koeels-wapen

Foto: Stevepb/Pixabay.com

Vuurwapeneienaars sal vir ʼn rukkie langer nog geduldig moet wees voordat hulle duidelikheid sal kry oor hul posisie rakende vuurwapenlisensies wat reeds verval het.

Die grondwethof het op Woensdag 7 Februarie uitspraak voorbehou in ʼn lankverwagte aansoek om die verwarring hieroor op te klaar, maar ʼn uitspraak hieroor word binne die volgende drie maande verwag.

Die hofsaak spruit uit ʼn aansoek van die SA Jagters- en Wildbewaringsvereniging (SA Jagters) om verlede jaar se hooggeregshofbeslissing oor die gebreke in die wet op die beheer van vuurwapens (Wet 60 van 2000) te bekragtig. Die minister van polisie het terselfdertyd ʼn aansoek vir die verlof tot appèl teen die hooggeregshofbevel gebring.

Ongeveer 300 000 vuurwapeneienaars, wat tans “onwettig” in besit van hul vuurwapens is, word deur die uitspraak geraak omdat hulle nie – soos die wet vereis – minstens 90 dae voordat die lisensie verval aansoek vir die hernuwing gedoen het nie. Die SA Jagters voer aan die wapenwet bevat geen administratiewe meganisme vir die laat hernuwing van vuurwapenlisensies nie.

Regter Ronel Tolmay, van die Gautengse hooggeregshof, het op 4 Julie 2017 ten gunste van die SA Jagters beslis en artikels in die wet oor lisensiehernuwings ongrondwetlik verklaar. Dit hou ook verband met die omstandighede waaronder ʼn vuurwapen aan die staat verbeurd verklaar moet word. Sy het die parlement 18 maande gegee om die wet in pas met die grondwet te bring.

Fred Camphor, uitvoerende hoof van die SA Jagters, het gesê die organisasie is vol vertroue dat die volbank regters voldoende argumente aangehoor het om ʼn goeie idee te kry van die beperkings wat deel is van die wet, asook die onsekerhede wat deur die interpretasie en implementering geskep word vir wettige vuurwapeneienaars en die polisie self, wat dit moet hanteer.

“Ons is vol vertroue dat die hof se uitspraak ons sal akkommodeer en help om te minste sommige van hierdie onsekerhede op te klaar,” het Camphor gesê. Hy was egter versigtig om nie te spekuleer oor die moontlike uitspraak nie, maar het gesê dat ʼn uitspraak ten gunste van die vereniging se aansoek moontlikhede kan skep om ander tekortkominge in die wet te hersien.

“Sou die hof die wet na die parlement verwys om artikels 24 en 28 te hersien, sal dit sin maak om die geleentheid te gebruik om die wet in sy totaliteit te hersien.”

Camphor het verder gesê die hof kan, buiten om dele van die wet ongrondwetlik te verklaar, ook leiding gee oor die presiese interpretasie van hierdie twee afdelings binne die breër vereistes van die wet asook spesifieke instruksies oor die inwerkingstelling daarvan.

Tolmay het in die uitspraak van verlede jaar talle probleme met die problematiese artikels in die vuurwapenwet uitgewys:

  • Dit is onduidelik hoe ʼn vuurwapeneienaar, wat nie by die spertyd van 90 dae gehou het nie, dié situasie kan regstel.
  • Daar is geen vasgestelde proses oor wat gedoen moet word wanneer ʼn vuurwapenlisensie verval nie.
  • Daar bestaan onsekerheid oor hoe ʼn vuurwapeneienaar van sy of haar wapen moet ontslae raak nadat die lisensie daarvan verval het.

Die uitspraak het ook beslis die wet oortree artikel 9 van die grondwet omdat vuurwapenlisensiehouers verskillend behandel word, na gelang van die omstandighede waarin hulle hulself bevind in gevolge die wet. Dit oortree ook artikel 25 van die grondwet omdat dit geen voorsiening maak vir vuurwapeneienaars wie se lisensies verval het om op ʼn wettige manier hul vuurwapens te verkoop of dit by ʼn vuurwapenhandelaar of die polisie vir veilige bewaring in te gee nie.

Die minister van polisie het in sy aansoek om verlof tot appèl aangevoer die bevindings oor grondwetlike oortredings is te breed. Hy het aangevoer daar is ander maniere om die onsekerhede op te klaar as om die betrokke artikels van die wet te skrap en oor te skryf.

Verder meen die polisie dit is nie ʼn oortreding van die eiendomsklousule in die grondwet (artikel 25) om ʼn vuurwapen waarvan die lisensie verval het, te konfiskeer nie. Dit is volgens die polisie ʼn wettige uitoefening van mag vir die doel om die welsyn en veiligheid van die breër samelewing te verseker.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

PJC ·

Hopelik kom hier goeie nuus vir ons wapeneienaars. Ek moet egter bieg ek is baie skepties oor die grondwethof weens die rasbehepte hoofregter.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.