Ooginstituut skenk 60 gratis katarakoperasies

ʼn Span van vyf oogspesialiste van die Pretoria Ooginstituut het Donderdag Wêreldsigdag gevier deur 60 gratis katarakverwyderingsoperasies uit te voer. (Foto: Verskaf)

ʼn Span van vyf oogspesialiste van die Pretoria Ooginstituut het Donderdag Wêreldsigdag gevier deur 60 gratis katarakverwyderingsoperasies uit te voer.

Katarakte word veroorsaak deur die vertroebeling van die gewoonlik deursigtige, kristalhelder lens van die oog. Die operasie behels die chirurgiese verwydering van die lens onder plaaslike verdowing en die vervanging daarvan met ʼn kunsmatige lens.

Ongeopereerde katarakte is een van die grootste oorsake van die minstens een miljard mense wêreldwyd wat ly aan voorkombare sigverliestoestande en is ook verantwoordelik vir meer as 50% van gevalle van blindheid in Suid-Afrika.

Die goeie nuus is dat katarakte suksesvol behandel kan word. Vyf oogspesialiste, dr. Hamza Tayob, dr. Kathy Bridgens, dr. Eben Laubscher, dr. Jan Niemandt en dr. Sanushka Moodley, het in ooreenstemming met die Wêreldgesondheidsheidsorganisasie (WGO) se tema vir vanjaar se Wêreldsigdag, Wees lief vir jou oë (Love your eyes), met hul passie vir optiese uitmuntendheid 60 pasiënte se lewe verander.

Volgens dr. Sanushka Moodley is katarakte nie net iets wat ouer mense beïnvloed nie, maar ook ʼn toestand wat kinders en jong volwassenes kan beïnvloed.

“Babas kan met katarakte gebore word as hulle infeksies in die baarmoeder ontwikkel het en dit kan binne ses weke geopereer word. Diabetes en ander trauma, soos ʼn oog wat beseer word wanneer daar byvoorbeeld ʼn hou in die gesig toegedien word, kan ook ʼn katarak veroorsaak, al ontwikkel dit nie onmiddellik nie,” verduidelik Moodley aan Maroela Media.

ʼn Span van vyf oogspesialiste van die Pretoria Ooginstituut het Donderdag Wêreldsigdag gevier deur 60 gratis katarakverwyderingsoperasies uit te voer. (Foto: Verskaf)

Sekere soorte medikasie en seldsame sistemiese siektes kan ook katarakte veroorsaak. “In jonger mense kan tabakrook, blootstelling aan die son en diabetes ook katarakte veroorsaak.”

Sy sê dat ouderdomsverwante katarakte tussen die ouderdom van 40 en 50 jaar reeds kan ontwikkel en dat die meeste pasiënte dit nie agterkom nie totdat dit reeds in ʼn gevorderde stadium is.

“Katarakte kom gewoonlik in albei oë voor, hoewel een oog vinniger kan verswak as die ander een en nie altyd tegelykertyd nie.”

Simptome sluit in onduidelike of wasige sig en bril- of kontaklensvoorskrifte wat dikwels verander moet word.

“Gewoonlik opereer ons een oog op ʼn slag vir ingeval die pasiënt ʼn infeksie ontwikkel, dan het hy of sy darem nog die gebruik van die ander oog. Dit gebeur egter bitter selde dat daar komplikasies ontwikkel tydens ʼn katarakoperasie en dus kan pasiënte dieselfde dag nog huis toe gaan. Hulle ontvang plaaslike verdowing en sommige operasies kan slegs tien minute tot ʼn halfuur duur.”

Volgens Moodley was dit vir haar belangrik om haar tyd en diens op Wêreldsigdag gratis aan te bied om pasiënte wat nie toegang tot oogsorg het nie, te help.

“Vir my is die belangrikste deel van my werk om vir mense hulle lewensgehalte terug te gee. Baie van dié mense is arm en vanuit landelike gebiede afkomstig waar hulle vir hulself moet sorg. Ek hoef nie eens twee keer daaroor te dink om deel te wees van die span wat my tyd en diens gratis aanbied nie. Om te sien hoe mense glimlag wanneer ons die wondbedekking afhaal en hulle besef hulle kan weer sien, maak dit absoluut die moeite werd.”

ʼn Span van vyf oogspesialiste van die Pretoria Ooginstituut het Donderdag Wêreldsigdag gevier deur 60 gratis katarakverwyderingsoperasies uit te voer. (Foto: Verskaf)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

JohanR ·

Altyd dankbaar as iemand van hulle talent en tyd verniet gee vir sy medemens. Dankie Pretoria Ooginstituut en Doctors.

Dup ·

Welgedaan.Sekere lewensveranderende operasies behoort gratis uitgevoer te word.

Harley Davidson ·

In Suid Afrika word dit as ‘n guns beskou in Duitsland is dit ‘n basiese mensereg en doen die regering dit verniet in hulle staatshospitale wat beter is as Suid-Afrika se top privaat hospitale.

Karina ·

Seen die dokters wat die wonderlike diens gratis lewer. As jy katarakke begin kry, is dit nie lekker as die lewe begin dof word nie. Na die operasie sien jy weer doer ver wat jy nie voorheen kon doen nie. Wonderlike gebaar.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.