Ooievaar maak draai by dié bekendes in 2019

Die ooievaar het vanjaar ʼn draai gemaak by ʼn hele paar plaaslike en internasionale bekendes. Ons kyk terug op die babas wat reeds hul opwagting gemaak het, en kyk wie se babas op pad is.

Swangerskappe:

Donnalee Roberts en Ivan Botha het met dié sonar die nuus gedeel dat hulle 'n seuntjie verwag. (Foto: Instagram)

Donnalee Roberts en Ivan Botha het met dié sonar die nuus gedeel dat hulle ‘n seuntjie verwag. (Foto: Instagram)

Donnalee Roberts en Ivan Botha het in September vanjaar aangekondig dat sy swanger is met hul eerste kind saam. In Oktober het hulle laat hoor dat dié baba ʼn seuntjie gaan wees.

Roberts en Botha is op 17 Mei vanjaar op die Blaauwklippen-wynlandgoed in Stellenbosch getroud. Lees meer.

Die bekende “Rooilipsoene”-sangeres, Karlien van Jaarsveld, is vir ʼn vierde keer swanger. Sy het reeds ʼn tweeling, Daniël en Eliah (5), saam met haar eksman en rugbyspeler Derick Hougaard, en ʼn tweejarige dogtertjie, Elah, saam met haar man, Joe Breytenbach.

Sy het ook in 2015 op 19 weke ʼn miskraam gehad met ʼn dogtertjie wat sy Evah genoem het. Lees meer.

Caroline-Grace Brussöw (33) en manlief, die rugbyspeler Heinrich (33), verwag hul eersteling. Die paartjie het intussen bekend gemaak dit is ʼn seuntjie, Marcel. Lees meer.

Rolene Strauss (Foto: Janie Monsieur/Maroela Media)

Die voormalige mej. Suid-Afrika en mej. Wêreld Rolene Strauss is swanger met haar tweede kind. Hoewel sy destyds in ʼn onderhoud met Maroela Media gesê het sy en haar man, D’Niel Strauss, hoop vir ʼn dogtertjie, het sy onlangs op sosiale media onthul sy verwag ʼn seuntjie.

Sy en haar man is reeds die ouers van ʼn driejarige seuntjie. Lees meer.

Die bekende sanger Heinz Winckler en sy vrou, Alette-Johanni, het in Junie aangekondig dat hulle nog ʼn pienkvoet ryker gaan word. Dié egpaar wat in 2006 getrou het, het reeds drie seuns, Lian (9), Simeon (7) en Reuben (5).

Hul nuutste toevoeging sal ʼn dogtertjie wees wat volgens die Wincklers se Instagram-profiele Alannah sal heet. Lees meer.

Geboortes:

Chris Chameleon en sy vrou, Daniella, het op 27 November vir die eerste keer ouers geword. Dit was nie algemeen bekend dat Daniella swanger was nie.

“[Woensdagoggend] om 07:25 het ek en Daniella vir die eerste keer ouers geword. Haar naam is Lente. Sy is nuuskierig, gesond en rustig,” het Chameleon op sy Facebook-bladsy geskryf. Lees meer.

Tien jaar ná hul troue het die akteur, sanger en danser Izak Davel en sy vrou, Mericke, vir die eerste keer ouers geword. Hul babadogtertjie, Zia Mericke Davel, is op 9 Julie met ʼn keisersnit en ʼn gewig van 2,2 kg gebore. Lees meer.

Irene-Louise saam met klein Kelsey in die hospitaal. (Foto: Instagram)

Die popsangeres Irene-Louise van Wyk het ses maande ná haar troue met Nick du Preez aangekondig dat sy swanger is met hul eersteling. Hul dogtertjie, Kelsey, is op 3 September gebore. Lees meer.

Die bekende Dwaalster-aktrise Erica Wessels en haar man, Willem Boshoff, se eersteling is op 11 Oktober gebore. Stella Kato Boshoff is Wessels en Boshoff se eerste kind en Wessels was 41 toe sy gebore is. Lees meer.

Die Getroud met Rugby-paartjie, Marijke van der Westhuizen en Werner Coetser, se babadogtertjie is op 5 Augustus gebore. Haar naam is Layla. Lees meer.

Die hertog en hertogin van Sussex, prins Harry en Meghan, se seuntjie is op 6 Mei gebore. Die jongste Britse koninklike baba heet Archie Harrison Mountbatten-Windsor. Lees meer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.