‘Oom Beast’ meld aan vir onvergeetlike heli-vlug

Carli (6) en Ian Viljoen (7) saam met ‘oom Beast’. (Foto: Maroela Media)

Hulle was daar sowat ses maande gelede toe klein Ian Viljoen (7) en sy sussie Carli (6) se ma Laurette (36) dood is. Sipho Mahlangu, ʼn veiligheidswag van Fidelity ADT, het in Maart vanjaar op sy knieë langs Laurette se bed gewaak nadat haar familie mediese hulp ontbied en hulle op paramedici gewag het.

Laurette het in daardie stadium reeds bitter lank teen borskanker baklei – kanker wat later na haar bene en lewer versprei het. Mahlangu het daardie dag op sy pos gebly, grappies vertel en vir Laurette opgebeur tot paramedici opgedaag het. Toe het hy haar na die ambulans gehelp dra.

Laurette het die volgende dag op 5 Maart gesterf en Mahlangu is later vereer vir die ongelooflike deernis wat hy daardie dag getoon het. Sedertdien het die gesin ʼn spesiale band met die mense van Fidelity ADT gevorm.

Dit was nie maklik nie, maar eindelik is Mtawarira in die helikopter. (Foto: Maroela Media)

Dinsdag het die span weer opgeruk om Ian en Carli se dag te help opkikker. Hierdie keer in niks minder nie as ʼn helikopter en saam met niemand anders nie as die geliefde Springbokstut Tendai “Beast” Mtawarira.

Hoewel “oom Beast” sy bene kwalik in die helikopter kon kry, kon niks die twee kinders se geesdrif demp nie.

“Die eerste keer was ek bang, maar nou is dit baie lekker. Ek was bang want ons vlieg nogal hoog, maar dis mos eintlik waar ʼn helikopter móét vlieg,” verduidelik Carli doodernstig. Haar boetie Ian druk sy hande in sy sakke. Nee, sê hy ook dapper, hy was niks bang nie.

Charnel Hattingh, nasionale kommunikasie- en bemarkingsbestuurder vir Fidelity ADT, sê die uitstappie – en die kinders se lang verwagte ontmoeting met Mtawarira – is die maatskappy se manier om die gesin se geweldige verlies te help draaglik maak. En hulle aandag vir ʼn paar minute te help aflei.

Laurette Viljoen.

Hulle pa, Etienne Viljoen, sê dit help dat die kinders deesdae weer kan skool bywoon – al is dit in hierdie stadium steeds net af en toe – en dat hulle dinge dag vir dag neem.

“Daar is nie veel wat ʼn mens kan doen nie. Dit gaan so goed as wat dit kan gaan,” sê Etienne oor hoe die gesin hulle verlies probeer verwerk.

Antoinette Pretorius, Ian en Carli se ouma, sê haar dogter was die positiefste en sterkste vrou wat sy geken het. Tot op die einde. Pretorius sê hoewel hulle deesdae talle eerstes sonder Laurette moet vier – spesiale dae soos verjaardae en Kersfees wat net om die draai wag – was die kleinkinders se heel eerste helikoptervlug ook niks anders as onvergeetlik nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

My Mening ·

Sulke stories maak mens weer glo in die goedheid van die mens. Dankie aan almal betrokke wat dinge vir die familie in hierdie moeilike tyd meer draaglik probeer maak.

George ·

Thanx Beast en ADT. Nie net goeie nuus vir n virandering nie maar n positive geleentheid vir die kinders ook.

Adam Adriaan ·

Dankie daar is nog sulke mense wat sulke goedheid in hulle harte koester. Geseënd sal jy wees vir sulke barmhartigheid.

Mallie ·

Bravo dit is nie net vir die jeug nie maar vir ons almal n rol model. Dankie vir jou mensliewendheid. Dit wys net dat jy die regte opvoeding gekry het. Wens net daar was meer van jou en jou soort. Jy sal geseen word. Hou so aan.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.