Oom Jakkie pak die langpad vir die Voortrekkers

Jakkie van der Colff (Foto: FAK)

Jakkie van der Colff (77), ’n inwoner van Waverley in die Pretoriase Moot, het Saterdag ten aanskoue van honderde Vootrekkers by die Voortrekkermonument as enkelfietsryer op ’n toer vertrek wat hom deur vyf provinsies en vyftig dorpe oor ’n afstand van sowat 2 700 km tot by die Taalmonument in die Paarl sal neem.

Sy doel? Om manalleen, sonder enige begeleidings- of ondersteuningsvoertuig wat hom vergesel, die Voortrekkers as beweging wyer en beter bekend te stel. Dis sy hartsbegeerte dat daar Voortrekkerkommando’s in al die dorpe op die roete van sy fietstoer gestig sal word. Hy gaan ook op sy pad geld insamel deur borge wat hom per kilometer borg sodat diegene wat dit nie kan bekostig om ’n Voortrekker te wees nie, kan aansluit, en die Voortrekkers ook meer gemeenskapsprojekte kan aanpak.

“Ek hoop ook dat meer mense van die Voortrekkers as uitsonderlike organisasie bewus sal word en deel sal word daarvan. Wat die kinders by die Voortrekkers leer, kan jy nêrens anders kry nie.”

Jakkie van der Colff (Foto: FAK)

Dr. Danie Langner, hoofleier van die Voortrekkers, was aanvanklik baie skepties toe “oom Jakkie” hom tien maande gelede kom sien het oor dié fietstoer wat hy beplan. “Jy kon my met ’n veertjie omtik toe oom Jakkie duidelik en ondubbelsinnig aanmeld om manalleen vir die Voortrekkers van die Voortrekkermonument tot die Taalmonument sy fietsketting te laat sing. 2 650 kilometer! Langs die pad wil hy soveel as moontlik Voortrekkerkommando’s besoek en waar daar nie een is nie, Die Voortrekkers bemark en nuwe kommando’s stig. So iets het nog nooit in die geskiedenis van Die Voortrekkers gebeur nie. Ek moet bieg. Ek was eers verstom, toe skepties, ongelowig en realisties, terwyl oom Jakkie gelowig, optimisties en met vertroue die roete myl vir myl beplan het,” sê Langner.

Oom Jakkie se motivering is eenvoudig: “Elke mens ongeag wie jy is, het drie dinge. Sommige het net een, ander twee en sommiges selfs al drie: Tyd, talent en bates. In my geval het ek tyd op hande. Om my tyd nie nutteloos te laat verby gaan nie het ek besluit om tyd te gebruik om iets te doen vir Die Voortrekkers.”

In 2013 het hy sy eerste fietstoer aangepak om soos hy sê geestelik en liggaamlik fiks te wees. “As ’n mens niks doen nie, dan is jy later ook niks. So, ’n mens moet liggaamlik aan die gang bly.” Na sy mening moet ’n mens se liggaam gesond wees om ’n gesonde gees te kan huisves en nie andersom soos die gesegde lui nie.

Oom Jakkie sê woorde kan nie omskryf wat hy ervaar as hy op sy fiets die langpad aandurf nie. “Dis net die vryheid en die ooptes van die veld wat jy ervaar. Jy dink eintlik aan niks nie. Dit is net lekker en jy word sterk.”

Langner voeg by: “Oom Jakkie is ʼn inspirasie en ’n voorbeeld van iemand met fikse denke en dade. Hy praat nie geskiedenis nie, maar trap tree vir tree nuwe geskiedenis. Die Voortrekkers is ʼn jeugbeweging waarin alle jongmense soos oom Jakkie baie welkom is.”

Roete

Jakkie van der Colff (Foto: FAK)

Oom Jakkie sal Saterdag na verwagting ongeveer 70 km aflê tot in Hartbeespoort/Brits-omgewing en Sondag ʼn verdere 134 km tot in Carletonville. Van daar is hy op pad na Potchefstroom, Parys, Kroonstad en Welkom tot hy uiteindelik na verwagting op 25 Augustus in Bloemfontein sal aankom.

Hy beplan om twee dae in Bloemfontein te vertoef voor hy weer die langpad aandurf na Edenburg, Trompsburg, Springfontein en uiteindelik Colesberg voor hy na verwagting op 1 September in Graaf-Reinet aankom. Hier sal hy ook weer ʼn dag lank vertoef.

Van hier bly hy in die Oos-Kaap en vertrek na Somerset-Oos, Paterson, Uitenhage, Despatch tot in Port Elizabeth op 5 September.

Van Port Elizabeth vertrek hy na Humansdorp, Plettenbergbaai, Knysna en kom na verwagting op 9 September in George aan waar hy weer ʼn paar dae sal vertoef.

Op 13 September vertrek hy na Witsand, Swellendam en Bredasdorp op pad na Hermanus, Caledon en uiteindelik Worcester om na verwagting op 21 September in die Paarl by die Taalmonument aan te kom.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Johnny ·

MM kan jul ons op hoogte hou met oom Jakkie se fiets toer wragtig oom Jakkie jy my Hero hoe kan ons hom ondersteen wa kan ek inbetaal

humor ·

Oom Jakkie sukses met dit waarmee jy besig is, maar oom sal moet versigtig wees en die oe oop hou, soos oom seker weet dit gaan maar rof in ons dierbaar vaderland.

Lynne ·

Ek Salueer jou oom Jakkie. Bewonder jou dapperheid met hierdie fabulous inisiatief! Maar, ek moet bieg….ek is baie bekommerd jou veiligheid! Baie sterkte met die reis!

Penellope Jones ·

Ek was ook ‘n Voortrekker in my skooldae – voorspoedige reis oom Jakkie!

Bossie ·

Sjoe… Kan ‘n paar mense, in die dorpe waar oom Jakkie gaan aandoen, nie hom ‘n klompie kilometers gaan ontvang en weer ‘n klompie kilometers uit die dorp gaan afsien nie. So raak elke dorp betrokke en die kilometers wat dit onveilig is bietjie minder.

Joey ·

Mag die oom veilig reis met sy fiets. Ons vertrou dat dit goed sal gaan.

Letty-Ann Möller ·

#RadioOverberg sien uit daarna om met oom Jakkie hier op #Bredasdorp te gesels!
HOU KOERS en hóú bene, HOU!!

Anita ·

Hierdie man dwing bewondering af in hierdie verwarrende onrustige tyd waarin ons leef, kinders word nie meer opgevoed met kennis oor verkeer, daarom soveel ongelukke. Kinders neem ook geen inisiatief om rommel , riviere, tussen oop erwe, ens. as groep skoon te maak nie, ook doen kinders geen vrywillige diens met behulp aan bejaardes, tuin skoon maak, vensters was en diens meer. As alles op ‘n cel foon kan wees sal hulle dit doen die huidige jeug is ‘n verlore jeug vir die toekoms, en hierdie man sit hom in vir redding…mag hy enige sukses behaal.

Vreedsaam ·

Baie respek vir die oom en alle sukses. Ek wonder of dit nie tyd is om die Voortrekkers se naam te verander na iets meer modern nie. Dit sal niks wegvat van die werk of waarde nie, maar dalk meer kinders trek as dit meer modern voorkom.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.