Oom Jakkie ry die land plat vir Die Voortrekkers

Jakkie van der Colff (Foto verskaf)

Nie eens reën en mis kon Jakkie van der Colff, ’n inwoner van Waverley in die Pretoriase Moot, se epiese fietstoer ten bate van Die Voortrekkers Saterdag van stryk bring nie, waar hy ná byna ’n maand op die pad van die Voortrekkermonument in Pretoria tot by die Taalmonument in die Paarl aangekom het.

Van der Colff het manalleen sonder enige voertuigbegeleiding deur vyf provinsies en vyftig dorpe oor ’n afstand van sowat 2 700 km op sy fiets gery om Die Voortrekkers as jeugkultuurorganisasie wyer bekend te stel.

Sy hartsbegeerte dat Voortrekkerkommando’s in al die dorpe op die roete van sy fietstoer, gestig sal word, is ook verwesenlik waar twee nuwe Voortrekkerkommando’s in Graaff-Reinet en Trompsburg gestig is.

“Ek hoop dat meer mense van Die Voortrekkers as uitsonderlike organisasie bewus geword en ook deel sal word. Wat die kinders by Die Voortrekkers leer, kan jy nêrens anders kry nie,” het hy gesê.

Met sy aankoms by die Taalmonument, waar verskeie Voortrekkers in die Kaap hom ingewag het, het hy dié fietstoer as ’n sielsverrykende ervaring opgesom. Sy vrou van die afgelope 54 jaar, Marie, het ook vir hom by die eindpunt gewag. Sy twee seuns, Jaco van Hartbeespoort en Marius van Glentana naby George en sy kleinseun, Ardou (9) en nog ’n paar familievriende het die laaste ent tot bo by die Taalmonument saam met Van der Colff gery.

“Alles was net lekker gewees. Ek is so bly dat ek kon deel wees van hierdie projek.”

Jakkie van der Colff (Foto: FAK)

Dr. Danie Langner, hoofleier van Die Voortrekkers, was aanvanklik baie skepties toe “oom Jakkie”, hom tien maande gelede kom sien het oor dié fietstoer wat hy beplan.

“Die dieper waarde van die epiese rit lê nie net in die reusagtige prestasie van die daad nie, maar in die inspirasie van oom Jakkie se voorbeeld,” het Langner gesê. “Met elke kilometer, opdraand, afdraand, gelykpad en bergpas het oom Jakkie bevestig waar ’n wil is, is ʼn weg. Dit maak nie saak hoe jonk of oud, groot of klein jy is nie, elkeen kan deur diensbaarheid ’n positiewe verskil maak. Ons land het dit broodnodig. Daarvoor sê ons vir oom Jakkie dankie.”

Langner het ook elke Voortrekker bedank wat Oom Jakkie so gasvry en entoesiasties ontvang, ondersteun en selfs saam met hom gery het. “Dit was inderdaad ʼn onvergeetlike, monumentale rit! Dit was inderdaad ʼn monumentale tog!”

Van der Colff se motivering is eenvoudig: “Elke mens ongeag wie jy is, het drie dinge. Sommige het net een, ander twee en sommiges selfs al drie: Tyd, talent en bates. In my geval het ek tyd op hande. Om my tyd nie nutteloos te laat verbygaan nie, het ek besluit om tyd te gebruik om iets te doen vir Die Voortrekkers.”

In 2013 het hy sy eerste fietstoer aangepak om soos hy sê geestelik en liggaamlik fiks te wees. “As ’n mens niks doen nie, dan is jy later ook niks. So, ’n mens moet liggaamlik aan die gang bly.”

Na sy mening moet ’n mens se liggaam gesond wees om ’n gesonde gees te kan huisves en nie andersom soos die gesegde lui nie.

Hy kan nie in woorde omskryf wat hy ervaar as hy op sy fiets die langpad aandurf nie. “Dis net die vryheid en die ooptes van die veld wat jy ervaar. Jy dink eintlik aan niks nie. Dit word net lekker en jy word sterk.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Fiets ·

Uitstekend!! Dit wil gedoen wees!! ????????????????????????????
Bietjie meer tegniese details asb, watse fiets, onderhoud benodig ens :)
Dankie

Jaco ·

Sjoe, dit wil gedoen word
Oom jy is n held. Ek hoop die kinder sal dit nooit vergeet nie.

Genoeg ·

So min kommentare vir so ‘n ysere wil en deursettingsvermoë, om duisende jong kinders te leer van Die Voortrekkers. Oom Jakkie, jy verdien ‘n monument vir jou dapperheid en opoffering . ????????????????????????????

Martie Squier ·

Beste Jakkie, GrysKrag is so trots op jou. Welgedaan. Groete. Martie Squier XXXX

Wolf ·

Wat het dit nou eintlik vir die voortrekker beweging gedoen? Net vir oom jakkie n murse outing gegee.

Drikus ·

Nee , Wolf. Die oom is ‘n voorbeeld vir almal van ons. Hy het nie net gepraat nie, maar gedoen. In die proses het die Voortrekkers ten minste twee nuwe takke bygekry en is die ander lede regdeur die land weer saam gesnoer.

MH ·

Wolf, Hy het GEDOEN. Hy het nie op sy agterent gesit en KRITISEER nie. Groot verskil.

Julie Jansen van Rensburg ·

Die is vir kinders/jongmense baie voordelig om by enige jeugorganisasie betrokke te raak. Voortrekkers, Scouts, GirlGuides – in my tyd was ek op sekere maniere by aldrie betrokke en ek het hierdie jongmense sien in verantwoordelike volwassenes opgroei. Enige kind van vandag kan – en sal – iets goed leer deur by enige van die organisasies aan te sluit – doe so voort – hierdieland veral het meer mense nodig om as “offisiere” betrokke te raak om kinders/jongmense lewensvaardighede te leer. Doe so voort!!!

Sophia ·

Ek dink dis ‘n briljante idee van Oom Jakkie om weer ons almal bewus te maak van die Voortrekkers! En dit kan ons kinders net goed doen deur aan te sluit, veral nou waar hulle dissipline geleer moet word sonder die belt… Ons ouers kan ook net so betrokke raak soos die kinders, en SO kan ons ons nasie se respek vir mekaar verhoog en ons koppe optel!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.