Oom Jakkie trap fiets vir die vale tot by Bloedrivier

Die 80-jarige Jakkie van der Colff kort nadat hy Donderdag by die Bloedrivier-erfenisterrein aangekom het. (Foto: Verskaf)

Die 80-jarige Jakkie van der Colff het nog ʼn suksesvolle uithourit agter die blad en het Donderdagoggend vroeg op sy fiets by die Bloedrivier-erfenisterrein in KwaZulu-Natal aangekom nadat hy Woensdag in Pretoria met die tog van meer as 450 km weggespring het.

“Ek het nie gedink ons gaan dit maak nie …” het ʼn emosionele oom Jakkie, soos hy allerweë bekend staan, gesê nadat hy kort gelede by Bloedrivier aangekom het.

Daar was ysreën en sterk wind op pad, maar dit het die entoesiastiese groep net aangespoor om harder te trap.

“Ons het van Bapsfontein al die pad die wind van agter gehad. Dit was wonderlik.”

Oom Jakkie is geen vreemdeling vir uitmergelende fietstoere nie en het reeds verskeie soortgelyke ritte ten bate van verskillende organisasies aangepak. Sy jongste rit het gekronkel vanaf die Voortrekkermonument in Pretoria, deur Bapsfontein, Delmas, Leandra, Standerton, Volksrust, Charlestown en Utrecht, waarna die geselskap die pylvak na die Bloedrivier-erfenisterrein gepak het.

Hy het die avontuur kort voor sy vertrek as “net ʼn vinnige fietsrit” bestempel – verskeie van sy vorige fietsritte het al veel verder gestrek. Die belangrikste is egter om jou agterstewe in die saal te hou, het hy toe geskerts. En om seker te maak “jou tenkie word nie leeg nie; bedoelende jou maag moet altyd iets inhê”.

Daarvoor het oom Jakkie se vrou, Marie, behoorlik gesorg.

Van der Colff en sy vrou, Marie, kort voor hy by die Voortrekkermonument in Pretoria weggespring het. (Foto: Verskaf)

ʼn Voertuig het die groep al die pad vanaf Pretoria vergesel, nie net om seker te maak almal is veilig nie, maar ook om die “eet- en drink- en suigdingetjies” vir oom Jakkie en sy span medefietsryers aan te ry.

Een van oom Jakkie se seuns, Jaco, kleinseun Tihan, vriend Pieter Janse van Rensburg en die bekende in fietsrykringe, Teresa Coetzee, het Woensdag by die Voortrekkermonument weggespring.

“Erfenis gaan nie net oor monumente nie,” sê oom Jakkie. “Dit gaan ook oor begraafplase, grafte, jou kultuur, kunswerke, argiewe …

Die span kom by die Bloedrivier-erfenisterrein aan. (Foto: Verskaf)

“Die belangrikste ding is dat ons al hierdie dinge gratis en verniet gekry het en al wat ons moet doen, is om dit in stand te hou en te bewaar.”

Dié bewaring kos egter geld en oom Jakkie sê sy fietsrit het eindelik gegaan oor bewusmaking van die werk wat die Bloedrivier-erfenisstigting doen, asook om spesifiek geld in te samel vir dié terrein.

“As mense meer daarvan weet, sal hulle besef hoe belangrik dit is om die erfenis te bewaar. Daar word soveel navorsing gedoen om die geskiedenis beter te verstaan.”

Benewens die belangrike taak om bewusmaking te skep, is dít die soort fietsrit wat oom Jakkie op sy gelukkigste het. “Op sommige van my vorige toere het ek alleen gery. Dit was net ek en my fiets en die pad. Dit is baie lekker. Daar is niks wat jou bekommer of pla nie. Jy ry met vry gedagtes en ʼn oop gemoed.

“En jy hoor kontreistories by mense wat jy nooit in jou kar sou hoor nie.”

Hy weet nie van nóg so ʼn rit aanstaande jaar nie, sê oom Jakkie, want sy eie jare stap aan. Maar as ʼn mens die rit eers klaargemaak het? Wie weet.

“Ek weet nie wat om te sê nie. Dit was net wonderlik.”

  • Mense kan ʼn SMS met die woord BLOED na 45730 (R1,50) stuur om ʼn skenking ten bate van die Bloedrivier-erfenisterrein te maak.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Di ·

Sjoe wat ‘n wonderlike gebaar! Ja, ons lewe in sulke moeilike tye deesdae dat mens maar min tyd en aandag skenk aan ons erfenis en kultuur.

Papsak ·

Viva vir oom jakkie wil gedoen wees veral op ons geloftedag

Papsak ·

MY HART JUIG IN VREUDE OOR ONX GELOFTEDAG WAT GOD ONS DIE OORWINNING GEGEE HET SO ONS SAL STAAN VIR JOU SUID ARIKA VIVA

Karina ·

Wel gedaan om Jakkie en dankie aan die mede fietsryers en bystandgroep wat daar was vir die nodige eet en drink goedjies. U is vir ons ‘n inspirasie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.