Oom vertel van ongeluk waarin sussies sterf

Janke Coetzer en haar sussie, Lize. (Foto: Facebook)

Janke (19) en Lize (16) Coetzer het voluit geleef – altyd met ʼn glimlag op hul gesigte.

Só het hul oom, Andries Maritz, Maandag aan Maroela Media gesê. Hy was Saterdagaand een van die eerstes op die toneel ná die gru-ongeluk wat die twee sussies en hul vriendin, Odine Swanepoel (19), geëis het.

“Hulle was twee besige bytjies en het so ʼn positiewe gesindheid gehad. Ek het daai kinders nooit kwaad gesien nie. Hulle wou net almal om hulle gelukkig maak en het lewe uitgestraal. Hulle was twee ligstrale in ons lewe.”

Die twee jong sussies is dood toe hul Volkswagen Polo in ʼn kop-teen-kop-botsing met ʼn Hyundai Tucson op die N18 naby Jan Kempdorp in die Noord-Kaap betrokke was. Janke en Swanepoel was eerstejaarstudente aan die Noordwes-Universiteit in Potchefstroom.

Janke Coetzer. (Foto: Facebook)

Die sussies se neef, Albie Coetzer (19), en nog ʼn vriendin, Martine Degenaar, is ernstig beseer en steeds in die Lenmed-hospitaal in Kimberley. Maritz sê Coetzer het drukking op sy brein en was Maandag in ʼn kritieke toestand nadat dit Sondag begin beter gaan het.

Volgens Maritz was die groep op pad na 18th Avenue in Hartswater toe die ongeluk omstreeks 19:45 plaasgevind het. Hulle sou vriende by dié restaurant ontmoet nadat hulle vroeër die dag by ʼn kerkfunksie gekuier het.

Maritz, wat self tussen Jan Kempdorp en Hartswater woon, was ongeveer 20:20 op die ongelukstoneel.

Hy het die Coetzer-sussies nog vroeër die dag gesien toe hulle sy kinders se hare vir ʼn danskompetisie gevleg het. Dit was by die einste danskompetisie dat Maritz die oproep van die ongeluk ontvang het.

Lize Coetzer. (Foto: Facebook)

ʼn Motoris wat die ongeluk gesien het en ook by die toneel stilgehou het om te help, het aan Maritz gesê dat die Hyundai ander voertuie op ʼn sperstreep verbygesteek het, en teen die Polo gebots het.

ʼn Drankbottel is na bewering tussen die bestuurder van die Hyundai se bene gevind. Al drie insittendes (ʼn man en twee vroue) van dié voertuig is ook op die toneel dood.

Maritz sê daar is ongeveer tot middernag gespook om die laaste slagoffer uit die motorwrakke te bevry. Die polisie kon nog nie nuwe inligting bekend maak oor wat tot die ongeluk gelei het nie, maar het ʼn geregtelike doodsondersoek begin.

Die Coetzer-sussies se dood kom net meer as ʼn maand ná hul ouma, Louise Coetzer (74), se begrafnis.

“Ek het vir die familie gesê ouma gaan ʼn groot verrassing kry as sy Sondag haar oë in die hemel oopmaak en daar staan die twee blondines by haar en sê ‘hoezit, Ouma’,” sê Maritz.

Na verneem word, gaan dit ook nie goed met die sibbe se ouers, Johan en Louisa, nie. Janke en Lize was hul enigste kinders en ook hul oogappels. Nes hul pa, het Lize ook daarvan gehou om poetse te bak. Hulle was ʼn hegte gesin.

Odine Swanepoel. (Foto: Facebook)

“Johan het gister [Sondag] gesê ‘daar gaan my krieketspelertjie en my atleet’.”

Leon Victor, hoof van Hoërskool Diamantveld waar Lize ʼn leerder was en Janke vroeër gematrikuleer het, het ook sy medelye oor hul afsterwe uitgespreek.

“Altwee was veelsydige sportvroue met tonne talent. Janke het provinsiale kleure in atletiek (400m hekkies) en netbal gehad en Lize was ʼn provinsiale netbal en krieketspeler. Altwee was baie spontaan en gewild onder skool- en koshuismaats en onderwysers,” het hy Maandag aan Maroela Media gesê.

“Die verlies van die twee jongmense is ongelooflik tragies en het ons as skool tot stilstand geruk. Ons innige meegevoel met Johan, Louisa en naasbestaandes.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

34 Kommentare

mynie ·

Ek het nie woorde nie. Huil my oe uit hier waar ek sit en skryf vir hierdie ongelooflike verlies. Maar een ding is seker, net die Here Jesus dra n mens deur so n donker tyd. Vir my as moeder, is dit nou 6 maande gelede………………….

Hannelie ·

Sterkte Mynie, jy is nie alleen, God loop elke treë saam jou xx

VASTI ·

Baie baie sterkte Mynie. God se genade dra mens deur elke seer dag.

Trotse Boervrou ·

Hoe maak mens weer harte heel? Watter trooswoorde gaan help? Hierdie breek almal se harte. Sterkte aan al die ouers, boetie en al die ander familie en vriende van hierdie 3 pragtige kinders. Daar was dan drank betrokke maar daaroor en oor hulle wat lewens verwoes het mag ons nie praat nie. God moet my vergewe vir wat ek dink. Ek weet net dat die Hemel drie pragtige, pragtige engele bygekry het. Mag God almal wat agtergebly het vertroos. Ons bid vir jul almal.

AmY ·

Bitter tragies.
My hart gaan uit na die familie en al die vriende.

Miskruier ·

Ek woon aan n nasionale pad in Limpopo. Die hoeveelheid drankbottels wat uit verby bewegende voertuie uitgegooi word is skrikwekkend. Ouers bid dat jul kinders veilig op hierdie paaie reis.

Mariaan ·

Hierdie is net hartverskeurend!!! Sulke goed maak nie vir my sin nie…daar kan mos niks “goeds” v so n tragedie kom nie..net gebroke harte lewenslank…nee man…so baie sterkte aan hierdie families..

Trotse Boervrou ·

Ek het nagelaat om te sê ons sal ook bid vir Albie, Martine en al hul geliefdes. Mag God sy Hand van Genesing oor julle hou en julle spoedig beter raak. Sterkte.

Mariana ·

Dit is asof al die positiewe jong mense se lewens die laaste jaar kort geknip word. Die wat voluit lewe. Wat iets beteken vir hulle medemens en samelewing. So ook my seun. My hart gaan uit na julle. Ek ken daai seer.

mynie ·

Baie baie sterkte. Loop die pad. Moenie bitter word nie, word beter.

VASTI ·

So jammer vir jou. Die vrae bly maar altyd en die antwoorde min veral soos jy sê , die jong kinders wat positief geleef het en verseker baie tot die samelewing nog kon bydra, maar God se gedagtes en weë is nie ons sin nie. Mens kom op ‘n plek waar jy kan berusting vind. Baie sterkte.

Di ·

So tragies! Besope bestuurders het al soveel onskuldige mense se lewens geneem. Regering moet strenger begin optree teen drink en bestuur. Daar is TE VEEL in hierdie land wat nie hulle perke en plek ken as dit by drank verbruik kom nie. Kyk maar na al die voorvalle by die “taverns” . Sterkte aan die familie en vriende wat 2 engele verloor het in hierdie wrede wereld

Vinny ·

Dit is ‘n verskriklike verlies, al my simpatie aan die ouers en ander geliefdes.

Hannelie ·

Dis so so hartseer, die kinders was nog so jonk. Sterkte aan die families asook die families van die ander twee kinders wat in die hospitaal is.
Ouers moet deur ‘n bitter seer gaan, want deesdae ry en drink jy sommer.

BullsBabe ·

Ek verstaan nie….’n ooggetuie het bevestig dat die Hyundai ander voertuie op ʼn sperstreep verbygesteek het, en teen die Polo gebots het….en en en….ʼn drankbottel is na bewering tussen die bestuurder van die Hyundai se bene gevind.

Polisie se terugvoer…..kon nog nie nuwe inligting bekend maak oor wat tot die ongeluk gelei het nie, maar het ʼn geregtelike doodsondersoek begin.

Askuus…maar is ek super dom, want dis tog vanselfsprekend wat die flippen oorsaak was!!!! Iets/mense word beskerm of weggesteek…..deur die polisie!!!! Is die alkoholvlakke van die bestuurder in die Hyundai getoets…..of, gaan dit ooit getoets word?

MJ ·

Die mense in die Hyundai is ook dood…. maar dit bring geen berusting vir hierdie pragtige kinders se ouers nie ….

Rocco ·

Dit is ‘n verskriklike tragedie. Ek kan nie myself indink, die groot hartseer waardeur , die ouers, familie en vriende van die oorledenes in Polo motor gaan nie.
Jammer dat ek nie dieselfde oor die persone in Hyundai motor sê nie – hul families gaan ook deur ‘n slegte tyd, maar die feit dat daar alkohol in voertuig gevind is, en die bestuurder oor ‘n sperstreep verbygesteek het, laat my koud. Die direkte gevolg het die dood, van drie pragtige jong kinders veroorsaak.
Ek wil graag ouers vra om, as jou kind leer bestuur, hul vir gevorderde bestuursklasse te stuur, waar hul opgelei word om in gevaarlike roekelose omstandighede te bestuur – dit opleiding behels ook, dat hul geleer word hoe om voorbereid te wees op misdadige optredes wat op die paaie plaasvind. Dit sal die beste belegging in hul lewe wees, om te oorleef in Suid Afrika

Sandra ·

Hulle was sulke pragtige stralende meisies. En dit lyk vir my die twee sussies was baie na aan mekaar. Dit is verskriklik hartseer dat die mense se enigste twee kinders, wat hulle met soveel liefde grootgemaak het, deur ‘n moontlike dronkbestuurder uitgevee was. Mens kan sien hulle is stralende engele en Godskinders, seker soos hulle ouers hul grootgemaak het. My innige simpatie weereens aan albei ouerpare wat hul pragtige dogters.

Janeh ·

RIV jonge dames,
Sterkte aan al die gesinne van beide voertuie, mag God julle almal troos gedurende die tyd…..

Kwikkie12 ·

Weet van ‘n man wat besope was en in ‘n huis se muur vas gejaag het. Die mense wou nie die SAP bel want hulle het hom te jammer gekry.

Swerwer ·

Woorde kan die seer nie wegneem of verlig nie maar aan die ouers en familie van die jong dames, jul bly in ons gebede . Innige simpatie en meegevoel. Vandag is my seun se 1ste verjaardag by ons Hemelse Vader, dit bly deel van ‘n mens se menswees wat niemand van jou kan wegneem nie.

VASTI ·

My innige meegevoel dit bly ‘n harde seer pad om te stap!

Danie ·

Ek is jammer oor julle groot verlies.Mag die Here jul bystaan met vertroosting.

Heleen ·

Jo man, die is erg.
Ek kry sulke koue rillings as ek van sulke ongelukke lees. Soms wonder ek hoekom gebeur sulke goed met ons, wil God ons net laat besef Hy is nog in beheer??! Hoe kan ‘n God van liefde dit aan ‘n ma en pa doen ?!! My hart is saam met julle seer, al ken ek julle nie!

VASTI ·

My hart is STUKKEND! Ek huil my oë uit! Pragtige Godskinders vir ewig weg en stukkende stukkende ouers wat agterbly. My innige meegevoel aan die ouers en familie. Stap die pad self al vir 21 maande. My 19 jarige dogter, ook ‘n Potch student, is ook weg na Jesus toe. Net God alleen kan hierdie ouers help dra aan so ‘n bittere bittere swaar kruis. Baie baie sterkte! Julle sal jul pragtige engel kinders verseker weer sien.

Andries ·

Weereens dronk soos ‘n tor en gekoopte bestuurlisensie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.