Oor dié banke kla mense die meeste

Die ombudsman van bankdienste (OBD) het haar jaarlikse verslag van 2019 bekend gemaak, waarin die banke wat die meeste klagtes ontvang het, asook die demografie van klaers, uitgelig is.

Volgens dié verslag het die meeste klagtes oor internetbankdienste gehandel en die bank wat die meeste klagtes ontvang het, was FNB met 1 707 klagtes.

Absa was die bank met die tweede meeste klagtes (1 483) en Standard Bank het 1 127 klagtes ontvang. Die bank met die minste klagtes was Habib Overseas Bank Ltd, aangesien hy geen klagtes in 2018 óf 2019 ontvang het nie.

Die klagtes dui wel nie vanselfsprekend op meer foute by die gegewe bank nie, maar eerder op die aantal formele klagtes wat by dié ombudsman deur die klante van ʼn spesifieke bank ingedien is.

Ombudsman Reana Steyn sê banke verskil wat kliënteprofiele en produkte betref, en hierdie faktore beïnvloed uiteraard die klagtes teen die banke.

Die OBD het gedurende 2019 altesaam 6 472 formele sake van klagtes geopen en 6 333 van hulle afgehandel en afgesluit.

Volgens die verslag het die meeste klagtes gehandel oor internetbankdienste (18%), kredietkaarte (15%) en kitsbanke (13%).

Steyn sê die topdrie kategorieë vir klagtes het almal ʼn element van bedrog en diefstal gehad, eerder as swak administrasie of dienste.

“Ons grootste kategorie vir die vierde jaar agtereenvolgens was bedrog in internetbankdienste. Ons ontvang steeds op ʼn daaglikse grondslag klagtes van mense wat slagoffers van bedrog is, en dit wil lyk of die einde van hierdie tendens nog nie in sig is nie.”

“Wat wel bemoedigend is, is die effense afname in die persentasie van hierdie soort klagtes,” sê sy.

Steyn sê hulle verwag ’n toename in klagtes oor kredietkaarte weens die ekonomiese situasie waarin Suid-Afrika hom tans bevind, met baie mense wat nie hul skuld kan terugbetaal nie of wat te diep in die skuld is.

In ooreenstemming met die vorige jaar word die meeste klagtes oor bankdienste in Gauteng gemaak met 44% van al die klagtes wat in dié provinsie voorkom.

Volgens die verslag is die demografie van die mense wat die meeste kla swart mans ouer as 40. Die meeste klagtes oor persoonlike lenings kom van wit vroue ouer as 40 af.

Oor die algemeen kom sowat 64% van alle klagtes van mense ouer as 40 af, 56% van klaers is mans en klaers was 52% keer swart, 32% wit, 9% bruin en 7% Asiaties.

Die verslag toon dat daar in die afgelope jaar 643 minder klagtes was as die vorige jaar.

“Die meeste banke het minder klagtes as die vorige jaar ontvang en ons glo dit is meestal danksy die doeltreffende manier waarop die klagtes reeds in die verwysingstydperk hanteer is, sodat mense dit nie nodig vind om ʼn formele klag in te dien nie,” sê Steyn.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Burgermeester ·

Die banke is deesdae nes die Regering, hulle wil jou geld hê, maar hulle wil nie ‘n diens lewer nie. Deesdae is daar ‘n afname in die kwaliteit van dienslewering, maar ‘n styging in pryse. Ek sê nie dat ek ‘n renperd met ‘n donkie se prys wil aanskaf nie, maar as ek betaal vir ‘n renperd dan wil ek ‘n renperd hê, en hy moet kan hardloop.

Anoniem ·

Burgermeester ja, die kwaliteit het baie afgeneem in die laaste klompie jare. Maar as die wenperd aangesê word om sy ry te kry is daar ongelukkig niks wat ons daaromtrent kan doen nie.

Michael 1 ·

Ek het gevind uit ondervinding dat Capitec die beste diens gee,Nedbank was pateties en Absa se diens is so so maar ek dink dit is oor absa so groot is baie rompslomp.

Daleen ·

Michael 1 dis net so jammer daar is so min Capitec takke. Ek moet 20 km ver ry om by een van hulle takke uit te kom.

Eish ·

Toe ek van bank verander het Capitec toe, het die bestuurder van die Capitec die moeite gedoen om self vir Telkom te skakel om my stoporder te verander. Dit wil sowaar gedoen wees!

Erica ·

Ek gaan ook bank verander. FNB is baie swak. Dit het my een dag van 8am tot 3.55pm gevat om iemand te kry om my te help. Na 37 oproepe moes ek bes gee en weer die volgende dag weer probeer. Hulle is swak verby.

Stof ·

Ek kan met dank getuig dat Capitec al die ander banke ore aansit. Hulle diens, hulle kostes en die bevoegdheid en kennis van hulle amptenare, is bewonderenswaardig.

Dirk Mostert ·

Een frustrasie met Absa en ENB is die alewige fica opdatering. Jou ID verander tog nie van jaar tot jaar nie. Wanneer ‘n rekening oopgemaak word moet jy buitendien bewys van addres, ens. verskaf.

By beide hierdie banke het dit maande se gesukkel gekos om waarborge te kanselleer, ten spyte van briewe van die begunstigde dat waarborge nie meer nodig is nie. Nadat ‘n waarborg opgehef is, vind jy daarna uit dat daar steeds ‘n “sessie” op die rekening is. My besigheidsrekeninge by hierdie banke lank reeds gesluit.

By die plaaslike tak van Standard Bank is bankure verminder tot 9-12 en die tak is net op Maandag, Woensdag en Vrydag oop. Dieselfde aantal kliente het steeds soveel dienste nodig soos tevore. Die gevolg is lang toue en lank wag.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.