Oord ‘dankbaar brandskade was nie erger’

Een van die gebrande rondawels by die ATKV se Goudini Spa-oord by Rawsonville. Foto: Twitter via @GertDel

Een van die gebrande rondawels by die ATKV se Goudini Spa-oord by Rawsonville. Foto: Twitter via @GertDel

Die ATKV se Goudini Spa-oord by Rawsonville het bevestig dat vier of vyf rondawels vlamgevat het toe die oord Woensdagmiddag weens ʼn veldbrand ontruim moes word.

Maroela Media het vroeër berig gaste is inderhaas ontruim weens veldbrande digby die oord. Paaie naby die oord is ook gesluit weens die digte rook. Die brand het vroeër in die Hessekwa-bergreeks agter die oord uitgebreek.

Volgens ER24 is 22 mense in die gebied vir rookinaseming behandel.

Reinard du Plessis, woordvoerder van die ATKV, het gesê die ATKV is dankbaar dat daar geen lewensverlies of erge skade deur die veldbrand aangerig is nie. “Daar was skade aan so vier of vyf rondawels wat gebrand het, maar verder net geringe rookskade. Die oord is operasioneel en ons verwag ons naweekgaste met oop arms,” het Du Plessis gesê.

Hy het gesê gaste wat gister of vandag by die oord moes arriveer het, sal terugbetaal word of die ATKV sal help om alternatiewe akkommodasie te bespreek. Met die gaste wat reeds op die oord was ten tyde van die brand, word daar direk mee gekommunikeer.

“Die meeste gaste kom gisteraand by die oord slaap en dié wat, weens veiligheidsredes, nie kon nie, kon ook al reeds hul besittings kom haal,” het Du Plessis gesê.

Die Goudini Spa-oord het op sosiale media die brandbestryders, polisiebeamptes en nooddienste, asook hul buurplase en verskeie organisasies bedank wat hulp aan die oord se personeel verleen het tydens die brand.

ʼn Woordvoerder van die oord het gesê daar was teen Donderdagoggend geen meer sigbare vlamme naby die oord nie, maar hy kon nie bevestig of die brand in die gebied al heeltemal geblus is nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Alida ·

Hierdie brande word gestig. Dit raak nou te erg. Hulle sal nie rus voor alles nie verwoes is nie.

Francois le Cochon ·

Indien jy ‘n behoefte het om iets te vermag, maar het nie die vermoe om op te bou nie, dan bevredig jy jou behoefde deur af te breek.

Wonder ·

Ek wonder hoe waar dit is, maar blykbaar het n politieke party n Facebook blad waarop hulle hul ondersteuners aanmoedig om brand te steek. Op die manier kan hulle ondersteuners gouer gratis grond bekom. Hoeveel waarheid oor die blad is, wonder ek net en met die aantal vure klink dit waar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.