Oord-‘ma’ op Balfour-plaas aangeval

Argieffoto: Lorraine Claasen

Argieffoto: Lorraine Claasen

Die algemene bestuurder van ʼn tehuis vir intellektueel gestremde kinders en volwassenes is Dinsdagaand op ʼn plaas buite Balfour in Mpumalanga oorval waartydens sy alles in haar vermoë gedoen het om minstens sewe aanvallers van die inwoners af weg te hou.

Louw Maritz, direkteur van die Sunfield Fortuna-tehuis, het Woensdag aan Maroela Media gesê die oord se bestuurder, Brenda Gouws, is omstreeks 21:00 in haar huis, op dieselfde perseel as die tehuis, oorval.

“Twee volwasse oordinwoners, ʼn man en ʼn vrou, het by haar gekuier. Hulle was in die kombuis besig toe tussen sewe en tien gewapende mans toegang tot die huis verkry het deur die kombuisdeur met ʼn breekyster oop te breek.”

Die mansinwoner het probeer terugbaklei, waarna hy met die breekyster aangerand is. Die aanvallers het almal se hande met kabelbinders vasgemaak, en die twee inwoners se voete ook.

Gouws is aangerand en met ʼn vuurwapen gedreig om deur haar huis te loop om waardevolle besittings en geld uit te wys.

“Hulle het haar deurlopend op haar naam genoem en persoonlike inligting van haar geweet waarmee sy gedreig is. Hulle het haar daarna na die kantoor gedwing wat sowat 200 meter van haar huis af is en gedwing om die kluis oop te maak. Hulle het gedreig om haar te verkrag en die inwoners te vermoor totdat sy die kluis oopgesluit het. Sy werk al sewe jaar by die oord en die inwoners is vir haar soos kinders en sy vir hulle ʼn ma. Sy het kopgehou en kalm gebly om die inwoners te beskerm.”

Sy het die kluis oopgemaak, maar daar was nie kontant in die kluis nie. Die groep het toe aangedring dat Gouws ʼn kontanttjek van R100 000 uitmaak. “Sy het gesê daar is nie genoeg geld in die tehuis se bankrekening nie en het R20 000 aangebied en gesê sy weet dié bedrag sou deurgaan.”

Die aanvallers is daarna terug na haar huis waar hulle die huis geplunder en met waardevolle besittings en selfone in die oord se bussie op die vlug geslaan het. Die bussie is later verlate sowat 20 km van die oord af opgespoor.

Gouws kon omstreeks 23:30 daarin slaag om haarself en haar twee gaste te bevry. Aangesien haar selfoon gesteel is, het sy na die kantoor gehardloop om Maritz te bel en hulp te ontbied.

Volgens Maritz is Gouws erg getraumatiseerd, maar het nie hospitaalbehandeling nodig gehad nie. Sy ontvang wel berading. Die ander twee inwoners is ook ontsteld en nie ernstig beseer nie. Die res van die inwoners is ongedeerd.

Maritz het gesê hulle het wel veiligheidstelsels en dat dit verder opgeskerp gaan word.

Brig. Leonard Hlathi, provinsiale polisiewoordvoerder, het die voorval bevestig en gesê ʼn soektog na die verdagtes is van stapel gestuur.

“Niemand is nog in verband met die voorval in hegtenis geneem nie en die ondersoek duur voort,” het Hlathi gesê. Hy het ʼn beroep op die publiek gedoen om die polisie by te staan met die ondersoek. Mense met inligting oor die verdagtes word versoek om konst. Jabulani Madonsela by 071 036 6766 of 0860 010 111 te bel.

Maritz het gesê die oord is naby die plaas waar Gert Smuts (78), sy vrou, Paulina (71), hul seun, Louis (47), en skoondogter, Belinda (42), in Februarie aangeval en op teregstellingwyse doodgeskiet is. Twee Mosambiekers is reeds weens die moorde in hegtenis geneem en steeds in aanhouding. Twee Nigeriërs is in hegtenis geneem nadat gesteelde goedere van die Smuts-gesin in hul besit gevind is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Jean ·

Die hel is los in BALFOUR. Obviously is dit ‘n groep mans wat in hierdie gebied opereer., ‘n paar is gevang, maar duidelik daar is nog tussen 8 – 10 van hierdie kriminele op straat. Dis TYD dat die polisie hulle nou vasvat en die regering ordentlike BELONINGS uitloof vir hierdie spul! Hoeveel mense moet nog onder ‘n klomp kriminele deurloop voordat daar ernstig gesoek word na hulle? EK is baie dankbaar almal is veilig, MAAR die feit dat hulle persoonlike inligting het, beteken NET EEN DING. INSIDE INFORMATION. Daar is ‘n informant wat hulle alles vertel wat daar aangaan en waar die waardevolle artikels, kluis ens is. Jou VYANDE is die naaste aan jou, die mense waarvoor jy elke dag sorg en goed doen. Hoop julle almal herstel gou, en sorg dat daar ‘n sekuriteitswag aangestel word, kan nie glo ‘n OORD het nie beskerming vir sy personeel en inwoners nie.

Eric ·

Lafaards dus wat hulle is te same met die lafhartige regering

Dirk01 ·

Indien soveel inligting bekend was aan rowers begin by werker’s 1ste as verdagtes .

Leonie ·

Iemand wat daar werk gee inligting uit dis meestal die geval. Ondersoek die kombuiswerkers of van die werkers op die perseel. Hoe het hulle haar naam en als geken. Defnitief inside job. Dat die gemors op so plek toeslaan waar gestremde kinders bly is ‘n damn skande. Die Here sal hulle goed straf. Nou wonder hulle hoekom dit met hulle sleg gaan. Sterkte aan Brenda Gouws en die ander man en vrou wat seergekry het.

N Lourens Reitz ·

Brenda moes die tjek van honderd duisend Rand uitgeskryf het en daarna kon hul dan vas getrek word by die bank waar hul die tjek vir kontant sou wissel.
Sy sê dan daar was of is nie voldoende fondse bekikbaar vir die bedrag.

Liezl ·

Dink ek nou aan dieselfde ding…en sy kon die bank die oggend eerste ding bel om hulle in kennis te stel

Rc ·

Ek wonder ook hoekom het sy nie die tjek uitgemaak vir die bedrag soos hulle versoek het. Daar was mos nie genoeg fondse nie, dit sou gehop het dan kon hulle vasgetrek geword het. Of nie?

Annie ·

Hulle jag in pakke soos wildehonde … lafaards … ons land het in n nes van skelms en moordenaars ontaard.

AL ·

Wat gaan die regering doen aan ernstige geweldsmisdade? Is daar al druk geplaas op die provinsiale kommissaris vd polisie om die varke te jag?

Kobus ·

Die antwoord is niks. Niks gaan gedoen word aan ernstige geweldmisdade nie en nee, geen druk is al geplaas of sal geplaas word op enige kommissaris van die polisie nie.

Tanya ·

Tussen 7 en 10 rowers wat by ‘n plek soos die inbreek en dink hulle gaan genoeg waardevolle items en geld kry om tussen hulle te verdeel? Gaan my verstand te bowe dat die goed so onnosel kan wees. Dis mos te lekker om te loop en te steel waarvoor ander hard werk. Daar is geen salf meer te smeer nie. Niks nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.