Oord sê veiligheid is ‘op peil’

Argieffoto van die ATKV-Buffelspoort ter illustrasie. (Foto: ATKV-Buffelspoort/Facebook)

Die ATKV-Buffelspoort-oord naby Rustenburg hou voet by stuk dat sy veiligheidsmaatreëls aan die vereiste standaard voldoen.

Die oord se bestuur sê in ʼn verklaring op sy webblad dat daar verskeie beskuldigings aangaande veiligheid en sekuriteit by die oord is nadat Johannes Brits (68) op 17 Februarie in ʼn chalet doodgeskiet is. Maroela Media het vroeër berig dat die voorval ten aanskoue van Brits se familie plaasgevind het.

“Ná die voorval is die oord se hele omtrekheining geïnspekteer en ons kan hiermee bevestig dat geen skade aan die heining aangerig is nie, en dat alle sones van ATKV Buffelspoort se elektriese heining in goeie werkende toestand is.

“Twee keer per jaar doen die ATKV ʼn interne oudit van die veiligheid en sekuriteit by al sewe oorde. Die beskuldigings dat ATKV Buffelspoort eers ʼn uur ná die voorval gereageer het, is onwaar,” lui die oord se verklaring.

Johannes en Linda Brits (Foto: Verskaf)

Volgens die polisie het twee verdagtes by die chalet ingebreek terwyl ʼn derde persoon buite gewag het. Brits het uit die bed opgestaan toe sy suster, Enna, by die kamer ingestorm het en is toe verskeie kere geskiet. Drie selfone is tydens die voorval gesteel. Niemand is egter nog in verband met die moord of diefstal in hegtenis geneem nie.

Die oord sê die boukontrakteurs op die perseel se besittings is deursoek en geen wapens of gesteelde selfone is gevind nie. Personeel ontvang glo ook traumaberading weens die voorval.

“Dit is nog onduidelik hoe die aanvallers toegang tot die oord verkry het, maar die saak word ondersoek. Bykomende veiligheidswagte is aangestel om die oord te patrolleer.

“Die ATKV het ná die aanval ʼn onafhanklike, eksterne ondersoeker aangestel om die voorval te ondersoek en die polisie by te staan. Bykomende maatreëls sal ingestel word na gelang van die uitslag van die polisie-ondersoek. Veiligheidsmaatreëls by die res van die ATKV-oorde sal ook versterk word, indien nodig.”

Die oord is in dié stadium steeds oop vir besoekers.

Maroela Media het ʼn navraag aan die polisie rakende die vordering van die ondersoek gerig en wag nog op terugvoer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Sarel ·

Enigste Alternatief is dat hulle van binne hulp ontvang het of sekf Vakansiegangers was of nog binne die Oord is

Lillian ·

Ondervra bietjie jul personeel, want dit wil al vir my klink of die moordenaars hulp gekry het van binne.

pieter ·

Maak nie sin nie , as die uitvaagsels nie by die heining ingekom het nie , waar dan ! , hek / in die oord , sterkte

Swerwer ·

Daar is soveel moontlikhede wat tot die voorval kon lei, die ATKV kan nie beskuldig word nie. Die kommunis infiltreer sonder dat enigiemand bewus is daarvan. Hul is oral, die spreekwoord sê, die makste hond byt die seerste.

OW ·

Hierdie skrywe klink te veel na ATKV wat nou sy hande in onskuld was.Al was die heinings in orde gewees moet die wagte wat aan diens was die nag van die moord ondersoek word.Die enigste ander alternatief is die moordenaars het deur die hoofingang toegang tot die perseel verkry en weer daar uit na die moord.As daar wagte aandiens was moet hulle iets weet.

Alfred E Neuman ·

Tipiese verskoning in dié mamparra land. Ons weet niks, ons het niks gesien nie, ons het niks gehoor nie, ons is onskuldig.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.