Oordrag van Zimbabwiese eiendom in Kaapstad ná 6 jaar afgehandel

Dié eiendom, wat in Kenilworth, Kaapstad geleë is, is aan ’n private bieër vir R3.7 miljoen verkoop.

Dié eiendom, wat in Kenilworth, Kaapstad geleë is, is aan ’n private bieër vir R3.7 miljoen verkoop.

Die huis in Kenilworth, Kaapstad, wat verlede jaar regsgeskiedenis gemaak het toe dit tydens die eerste eksekusieveiling van ’n Zimbabwiese eiendom in Suid-Afrika vir R3,7 miljoen verkoop is, is Vrydag in die naam van die nuwe eienaar geregistreer.

Die balju van Wynberg sal vervolgens die opbrengs van die verkoping pro rata tussen drie skuldeisers wat op die eiendom beslag gelê het, verdeel.

AfriForum het Sondag in ʼn verklaring gesê die registrasie van die eiendom span die kroon op ʼn regstryd van ses jaar wat die organisasie namens Zimbabwiese boere, wat deur pres. Robert Mugabe se grondvergrype geraak is, gevoer het. Dit was waarskynlik ook die eerste keer in die internasionale regsgeskiedenis dat ʼn litigasieproses oor menseregtevergrype wat deur private individue teen ʼn staat gevoer is, gelei het tot die beslaglegging op, verkoping en oordrag van die betrokke staat se bates in ʼn buurstaat.

AfriForum is in November 2009 deur Louis Fick, Ben Freeth, Wynand Hart en die voormalige president van die Commercial Farmers’ Union, Deon Theron, genader om hulle behulpsaam te wees om ʼn bevel van die SAOG-tribunaal teen Zimbabwe af te dwing. Die tribunaal het in November 2008 beslis dat Mugabe se grondgryp-beleid onwettig en rassisties was en dat dit gestaak moes word. Mugabe het hom egter nie aan die bevel gesteur nie en die proses voortgesit, het AfriForum gesê.

Gedurende Februarie 2010 het die hooggeregshof in Pretoria die SAOG-tribunaal se bevel bekragtig as ʼn buitelandse hofbevel wat in Suid-Afrika afdwingbaar is. Nadat AfriForum se prokureurs vir die eerste keer in Maart 2010 op die eiendom in Kenilworth beslag gelê het, het ʼn uitgerekte proses van tersydestellingsaansoeke en appèlle in die Pretoriase hooggeregshof, die Johannesburgse hooggeregshof, die appèlhof in Bloemfontein en uiteindelik op 28 Februarie 2013 in die konstitusionele hof gevolg.

Op 27 Junie 2013 het die konstitusionele hof by monde van hoofregter Mogoeng Mogoeng beslis dat uitsprake van ʼn internasionale menseregtehof soos dié van die SAOG-tribunaal inderdaad in Suid-Afrika registreerbaar en afdwingbaar is. “Sodoende het Suid-Afrika se hoogste hof inderwaarheid die posisie van Zimbabwe se wit boere gevindikeer en die uitspraak van die tribunaal bekragtig,” lui AfriForum se verklaring.

Die veiling wat op 20 September verlede jaar plaasgevind het, was ʼn gevolg van die feit dat die Zimbabwiese regering die kostebevele wat teen hom verleen is, vir langer as ses maande geïgnoreer het.

AfriForum se prokureur, Willie Spies, het in sy reaksie op die afhandeling van die eiendomsoordrag gesê dat AfriForum nou die boek kan toemaak ten opsigte van sy regstryd oor die grondhervormingsproses in Zimbabwe. “In omstandighede soos in Zimbabwe, waar geregtigheid en die waarheid deurlopend deur bewindhebbers verwoes word, is die gevolge uiteindelik vernietigend vir sowel die korrupte bewindhebbers as die slagoffers van die vergrype. In baie gevalle verloor die slagoffers ook hul perspektief en loop hulle die gevaar om eweso hul basiese begrip van reg en verkeerd te verloor. Hulle ly sodanig onder die ontneming van hul eie waardigheid en eiendomsreg, dat enkele slagoffers self ook hul respek vir die waardigheid van ander verloor en sodoende word die saad geplant vir die disintegrasie van ʼn samelewing,” het hy gesê.

“Dit onderstreep bloot die vernietigende effek van ʼn staat wat sy morele kompas verloor het. AfriForum se roeping is om die lig van waarheid en geregtigheid aan die brand te hou en slagoffers sowel as bewindhebbers voortdurend te herinner aan wat waar en regverdig is. Daardie stryd sal ons voortsit,” het Spies gesê.

Spies het gesê AfriForum staan tans drie Zimbabwiese boere, Luke Tembani, Richard Etheredge en Ben Freeth, by in hul poging om as mede-applikante toe te tree tot die prokureursorde van Suid-Afrika se hofaansoek teen pres. Jacob Zuma om dié se aandadigheid aan ʼn proses wat tot die ontbinding van die SAOG-tribunaal gelei het, onwettig te laat verklaar. Die aansoek om toetrede sal waarskynlik nog in die eerste helfte van 2016 in die Pretoriase hooggeregshof aangehoor word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Ans ·

Baie geluk aan Afriforum en die regspan. Jul bewys weereens dat jul opstaan vir die regte van mense wat benadeel word.

Dee ·

Maroela, julle het vergeet om hierdie berig te klasifiseer onder die hoof: Goeie Nuus!

Gerhardt ·

Bietjie geregtigheid. Goeie werk Willie en span. Kan iemand in mooi amaZulu vir Mnr Zuma die veduidelik?

Liewe lulu ·

Gerhard hy gaan dit nie verstaan. Dalk moet hulle vir hom prentjies teken. Oeps, nou gaan my kommentaar weer verdwyn

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.