Ooreenkoms beëindig Emfuleni-waterkrisis

Argieffoto

Die burgerregtewaghond AfriForum het ’n ooreenkoms met Rand Water bereik rakende die ernstige waterkrisis wat reeds maande lank in Emfuleni (Evaton, Sebokeng, Vaaloewer, Vanderbijlpark en Vereeniging) en Victor Khanye (Delmas) heers.

Rand Water het versoek dat ʼn skikking buite die hof bereik word nadat AfriForum verlede maand hofstukke teen die waterverskaffer ingedien het in ’n poging om hom te dwing om voldoende watertoevoer na die betrokke gemeenskappe te herstel.

Maroela Media het vroeër berig inwoners van Emfuleni het sedert Februarie ernstige waterprobleme ondervind nadat Rand Water die waterdruk as ʼn kredietbeheermaatreël verlaag het. Dit is gedoen omdat die Emfuleni- plaaslike munisipaliteit nie sy waterrekening betaal het nie.

Die ooreenkoms behels nou onder meer dat die burgerregteorganisasie sy hofsaak laat vaar op voorwaarde dat die waterverskaffer onderneem om die waterdruk te herstel en nie weer in die toekoms die waterdruk te verlaag nie.

AfriForum sê die ooreenkoms is deur die hof bekragtig en die waterdruk is luidens berigte reeds in groot dele van Emfuleni herstel.

Stephanus Blignault, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Wes-Rand, het die ooreenkoms as ’n reuseoorwinning vir die gemeenskap bestempel.

“Dit is ’n bewys dat groot entiteite nie die gemeenskap van basiese menseregte kan ontneem nie. Dit bly vir AfriForum ’n prioriteit om gemeenskappe se regte te beskerm.”

Bronwen Pretorius, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Hoëveld, beaam dit.

“Dit is vir ons ’n groot sukses wanneer ons kan toesien dat gemeenskappe – wat voorheen gesukkel het om basiese huishoudelike take weens ’n tekort aan water uit te voer – nou gerus kan wees oor dié kwessie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

JohanR ·

Hoekom vra hulle nie vir die DA van Midvaal om te hulp nie? Twee plekke reg langs mekaar en een is skoon, netjies en werk met jare van skoon oudit’s, en die ANC kant is vuil en niks werk nie. Dan moet ek die ANC hier in die Kaap instem….nooit en nooit gesien nie!

fs ·

laat ons nou net hoop al die mense wat nou lekker genoeg water het stem vir die party wat vir hul regte baklei… so wen ons hulle een vir een en sal ons weer ons mooi land ophou! ONS SAL SELF!!

koos10 ·

AfriForum, volgende is nou om die munisipaliteit in die hof te tekkel. Vind uit waar die geld heen is wat die verbruiker aan die minusipaliteit oor betaal het? Skuus, dom vraag.

Pampoen ·

Plaas die mislikepaliteit onder bestuur en betaal die water rekening af. Ja die mense moet water hê, maar jy kan ook nie verwag dat Rand Water dit verniet moet verskaf nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.