Ooreenkoms bereik oor mynregte-moratorium

Argieffoto

Die Kamer van Mynwese en die departement van minerale hulpbronne het Vrydag ʼn ooreenkoms in die hooggeregshof in Pretoria bereik.

Dit volg nadat min. Mosebenzi Zwane gesê het hy is nie van voorneme om enige van die stappe, wat in ʼn kennisgewing in die Staatskoerant van 19 Julie bekendgemaak is, te doen nie.

Die departement het op die vooraand van die Kamer van Mynwese se dringende aansoek om ʼn interdik teen Zwane se kennisgewing te kry gesê hy sal nie die stappe wat in die kennisgewing genoem word, nastreef nie. Die Kamer van Mynwese wou ʼn interdik bekom om die minister te verhoed om ʼn moratorium op die toekenning van nuwe myn- en prospekteerregte in te stel.

Die Kamer van Mynwese se regspan het Vrydag in die hof aangevoer Zwane het beamptes by die departement opdrag gegee om die verwerking van nuwe aansoeke vir myn- of prospekteerregte wat ná 19 Julie 2017 ingedien is, te staak. Die departement het egter ontken hy het die betwiste moratorium ingestel.

Zwane het verlede maand belanghebbendes genooi om voorleggings te maak oor sy voorneme om die toekenning van enige nuwe aansoeke vir prospekteer- en mynregte, asook aansoeke vir die hernuwing van prospekteer- en mynregte, stop te sit om “die volhoubare ontwikkeling van die land se minerale hulpbronne te bevorder”.

Die Kamer van Mynwese het gesê aangesien ʼn mediaverklaring nie gelykstaande is aan ʼn formele terugtrekking nie, het die partye in die hof ʼn ooreenkoms bereik waarin Zwane se belofte om nie die moratorium in te stel nie uiteengesit word.

Regter Ramarumo Monama het die ooreenkoms ʼn hofbevel gemaak, maar nie voordat hy harde woorde gespreek het teen die minister se versuim om formeel sy standpunt oor die Kamer van Mynwese se dringende aansoek bekend te maak nie. Die hof het die kostebevel in die saak voorbehou.

Die Kamer van Mynwese het in reaksie op die hofbeslissing gesê die regter het in die hof te kenne gegee Zwane se optrede, deur die moratorium-kennisgewing uit te reik en toe ook nie op die hofaansoek te reageer nie, toon “ʼn algehele gebrek aan respek” vir die Grondwet, die wet en die howe.

“Die regter het verder opgemerk dat die minister se optrede afbreuk doen aan Suid-Afrika se beeld en die minister is beveel om binne 14 dae ʼn beëdigde verklaring in te dien waarin hy sy optrede verduidelik.”

Die Kamer van Mynwese het voorts gesê hoewel die hofbevel bevredigend is, is dit steeds ʼn feit dat aansienlike skade aan die beeld en “selfvertroue” van die bedryf gedoen is deur Zwane se “roekelose optrede”.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Mariné Lourens ·

Dagsê Barend

Dankie vir jou kommentaar. Volgens Skryf Afrikaans van A tot Z is die korrekte taalgebruik om te sê stappe (bv. tug- of regstappe) word teen iemand gedoen, nie geneem nie.

Groetnis
Mariné
nms Maroela Media

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.