Ooreenkoms geteken om Wonderboom-lughawe te red

Die Wonderboom-lughawe. (Foto: Verskaf)

Na jare se gespook om die Wonderboom- Nasionale Lughawe van ondergang te red het die Tshwane-metro Dinsdag ʼn historiese memorandum van ooreenkoms (MoU) met die Lughawemaatskappy van Suid-Afrika (Acsa) gesluit om die bestuur van die lughawe en bedrywighede by die lughawe te bevorder.

Dit beteken daar sal voortaan samewerking wees ten opsigte van tegniese lugvaartadvies en die nakoming van lugvaartregulasies sowel as die bestuur en uitvoering van geïdentifiseerde projekte op die lughawe.

Ironies genoeg is Wonderboom-lughawe Dinsdag vir die soveelste keer die afgelope vyf jaar deur Burgerlugvaart gesluit; die keer omdat die ses drumpel-ligte (threshold lights) van die hoofaanloopbaan reeds maande lank buite werking is.

Die lughawebestuurder, Nnditsheni Madavha, sê in ʼn brief wat laat gister aan die huurders van sakepersele op die lughawe gestuur is, dat ʼn ad hoc-inspeksie van Burgerlugvaart bevind het die ligte is nie in ʼn werkende toestand nie en dat alle nagvlugte opgeskort is tot die nodige herstelwerk gedoen is.

Sowat 50 huurders, waaronder 15 vliegskole en ondernemings wat huurvlugte bedien, word hierdeur geraak.  “Almal was deur Covid-19 en die streng inperking lamgelê en nou sluit die lughawe oor swak bestuur en geen instandhouding nie,” was die woedende reaksie van een van die huurders met wie Maroela Media gisteraand gepraat het.

Wonderboom is sedert 2017 gereeld om die verkeerde redes in die nuus terwyl dit deur ʼn privaat kontrakteur bestuur is. Die lughawe het glo uitstekend gefunksioneer tot Professional Aviation Services (PAS) onwettig aangestel is, kort nadat die DA die administrasie van die stad in 2016 oorgeneem het. Dit het toe vroeg reeds duidelik geword dat die lughawe op ʼn afdraande pad is.

Die lughawe was toe ook kortstondig gesluit as gevolg van veiligheidsrisiko’s en die Burgerlike Lugvaartowerheid het dit ook van ʼn kategorie 5- tot ʼn kategorie 2‑ lughawe afgegradeer.

Vroeg verlede jaar het die Wonderboom Lughawe Belangegroep (WAIG) op ʼn  dringende basis in die hooggeregshof ʼn bevel verkry om Tshwane onder meer te verplig om van PAS ontslae te raak en kundiges aan te stel om die lughawe te bestuur. Die aansoek is toegestaan.

Tydens gister se ondertekening van die ooreenkoms het Mpofu gesê Acsa is opgewonde oor die potensiaal wat die stap inhou. “Ons is trots op die kundigheid en vaardighede wat die Lughawemaatskappy van Suid-Afrika ontwikkel het deur internasionale projekte in Ghana en Brasilië en wil dus graag aan ons kollegas by Wonderboom wys wat aangebied kan word.”

Volgens Williams is die ooreenkoms slegs die basis van die vennootskap en dat niks onmiddellik gaan gebeur nie. Hy het ook bevestig dat daar nie gou besluite oor die Tshwane-personeel by Wonderboom geneem sal word nie.

“Daar sal deurlopend onderhandelings tussen Tshwane en Acsa wees en dit sal besluite oor personeel insluit.”

ʼn Kenner van munisipale wetgewing, wat verkies om anoniem te bly, sê volgens die voorskrifte van die Munisipale Stelselswet sal ʼn ondersoek eers gedoen moet word voordat die bestuur van die lughawe oorgeneem kan word.

Vir elke taak waarmee Acsa vir Tshwane mee gaan help, sal daar ook ʼn projekvoorstel en ʼn kwotasie ingedien moet word. Die aanstelling wat gemaak word, sal verder aan munisipale wette en regulasies onderworpe moet wees.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Casper ·

Ons weet natuurlik nou al wat die wette en regulasies beheld.BEE en regstellende aksie.

Annelize ·

Die lughawe is seker gesluit net vir nagverkeer, aangesien ek gistermiddag laat daar verby is en twee vliegtuie het kort na mekaar geland.

Linda ·

Goed so, ons gesin het jare terug altyd daar na die valskerm springers gaan kyk op Sondae middae.

Stefan ·

Is dit regtig gered of maar net weer die volgende fase van looting?

Androclus ·

Gaan die lughawe se naam nie verander word Zuma-Gupta Lughawe.

Pieter ·

Vrot balkie op die DA se baadjie. Het dieselfde ondervind met die DA in Meyerton se rioolaanlegbestuur, die swakste in die area. Ook maar baantjies vir boeties.

Jakes ·

Die stryd by Wonderboom is te danke aan swak en onbevoegde bestuur. Dit is egter nie n verrassing nie maar eerder die norm in die nuwe SA sedert 1994.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.