‘Ooreenkoms is bereik’ – Veelpartyhandves

Die handves is Donderdagmiddag deur die leiers van die onderskeie partye onderteken. (Foto: Leon Schreiber/Twitter)

ʼn Ooreenkoms is bereik.

Ná twee dae van intense gesprekvoering deur lede van die sewe partye wat aan samesprekings oor die nuwe Veelpartyhandves vir Suid-Afrika deelgeneem het, is die handves Donderdagmiddag deur die leiers van die DA, IVP, VF Plus, Action SA, Isanco, UIM en SNP onderteken.

Prof. William Gumede, onafhanklike voorsitter van die konvensie, het kort gelede aangekondig dat ʼn ooreenkoms tussen die partye bereik is en hoewel die pad tot daar nie maklik was nie, was dit uiteindelik ʼn historiese oomblik.

Ingevolge die handves sal die partye as outonome, individuele partye aan die 2024-verkiesing deelneem.

“Suid-Afrika het hul land lief, haat wat daaraan gedoen word en is moeg om te hoor wat hulle alreeds weet – dat hulle in die steek gelaat is,” lui die handves.

“Ons erken dat ons doelwit nie meer kan wees om kommentaar te lewer of politieke skuld toe te ken nie. Ons patriotiese plig vereis van ons om Suid-Afrika op ʼn nuwe pad te plaas wat die potensiaal van die Suid-Afrikaanse mense ontketen. ʼn Pad na breë welvaart, vrede en eenheid.

“Om daardie doelwit te bereik, het ons byeengekom om ʼn veelparty-ooreenkoms aan te gaan wat ons aan die Suid-Afrikaanse mense gaan voorlê. Die ooreenkoms word nie gedefinieer deur dit wat ons teenstaan nie, maar eerder deur ʼn nuwe, fassinerende visie wat Suid-Afrikaners wys dat ons vir hulle staan.”

Ingevolge die ondertekende handves sal die onderskeie partye nou die ooreenkoms na Suid-Afrikaners neem sodat hulle weet wat die aanbod is en selfs kan sien hoe die partye tot mense se voordele kan saamwerk.

Hoewel hulle die verkiesing as individuele partye sal betwis, sal Suid-Afrikaners sien dat hierdie samewerking beter as afsonderlike pogings is. “Deur aan kiesers ʼn geloofwaardige alternatief te bied, sal ons diegene wat geen hoop meer het vir ʼn politieke oplossing nie, weer inspireer, ons sal hoop gee aan diegene wat glo hul stem maak geen verskil nie en aan kiesers ware mag gee om die rigting van hul land te verander.”

Só reageer leiers

DA-leier John Steenhuisen het die konvensie as ʼn sukses bestempel en sê toe die idee aanvanklik bekend gestel is, was daar baie doemprofete wat gesê het dat die betrokke partye nie eens almal om dieselfde tafel sou kon sit nie.

Hulle het dié doemprofete nou verkeerd bewys.

Dr. Pieter Groenewald, leier van die VF Plus, het die ooreenkoms as die begin van verandering bestempel en sê indien verandering geskep kan word, word hoop ook geskep.

“Ek beskou dit as ʼn verandering vir die toekoms van Suid-Afrika,” sê Groenewald.

Christopher Claassen, leier van die SNP, sê die konvensie het presies bereik wat dit wou en dat die handves nie ʼn politieke party is nie, maar ʼn ooreenkoms tussen partye wat ʼn alternatief aan Suid-Afrikaners wil bied. Hy het ook die onderneming gegee dat die party lojaal aan die ooreenkoms sal bly.

Neil de Beer, leier van die UIM, het op sy beurt gesê vryheid vereis opoffering en dat dit presies is wat die leiers teenwoordig gedoen het.

Isanco-leier Zukile Luyenge het onderneem om die fout waaraan die party deel gehad het – om die huidige regering aan bewind te bring waarna die oproepe van die gemeenskap geïgnoreer is – nou reg te stel. Volgens Luyenge kan arrogansie nie ʼn party aan bewind hou nie en dat politieke partye nou hul ideologieë opsy moet skuif om Suid-Afrika eerste te stel.

Ook Herman Mashaba, president van ActionSA, sê hy het op die ouderdom van 56 by die politiek betrokke geraak weens sy frustrasie met die bestaande regering. Hy het onderneem om ActionSA tot die handves te verbind en sê die party moet ʼn rol speel om ANC-kiesers na die veelpartygroep te lok.

“Nou is die tyd,” het Velenkosini Hlabisa, leier van die IVP, op sy beurt gesê. En hoewel die afgelope twee dae geweldig uitdagend was, was dit ook suksesvol en dat die partye na vore tree met hernude hoop vir die toekoms van die land. Volgens Hlabisa vererger die situasie in die land by die dag en is dit tyd vir Suid-Afrikaners om te sê genoeg is genoeg.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

26 Kommentare

Republikein in die Wes Kaap ·

Die groep het ook besluit dat die kabinet moet die bevolking reflekteer. Same old same old. Die amtenary gaan dieselde wees. Niks gaan vir Afrikaners verander nie.

gatgogga ·

Ja, jy sien mos dit word nou al meer en meer erken dat ons in die steek gelaat is. En later sal ons nog saamstem dat ons boonop verneuk was. Maar as ons weer op die ashoop wil gaan le en grens, in stede van saamstaan, dan verdien ons niks beter nie.

Republikein in die Wes Kaap ·

Daai “ons” sluit nou mense in wat vere voel vir Afrikaners. Hulle sal nie vir jou baklei nie. Jy is net ‘n stem. Sterkte!

Goldy ·

Nou moet almal net in massas by die stembus opdaag, en nie n woord kla oor armoede of misdaad as jy nie gaan stem nie.

annie ·

Ja, die spul trekboere wou en wou hul destyds in Natal vestig, al is hul gewaarsku oor Dingaan se sluwe vriendelikheid…

Jaco ·

Oppas maar vir die IVP. Na die munisipale verkiesing in 2021 het hulle in ‘n paar munisipaliteite in KZN met die ANC in koalisie gegaan.

Republikein in die Wes Kaap ·

En dít sal weer gebeur. Politici is pragmaties en stel eie belang eerste.

annie ·

Raai, raai wie sit voor in die middel onder die lamp om die operasie te doen: die droompresident. Die ANC lag lekker vir die selfmoord van die dromers. Die land lê in armoedige skade en skande. John se van is Kannie.

Kobus ·

Jammer ek is pesimisties maar gaan nie my asem ophou nie. Wat nou gesê word en wat gedoen gaan word sal die sukses hiervan bepaal. Ek hoop ek is verkeerd.

Theresa ·

Ek stem hiervoor, gaan in julle massas en stem vir verandering, nie omdat ons wil nie, maar omdat ons nie n keuse het nie..

george ·

Ek dink eerlik dit sal die laaste kans wees om te red wat daar nog te redde is. Terwyl daar nog iets oor is wat gered kan word. Ek is daar by die stembus. My stem gaan 100%. Ons het die een kans om uit die ashoop te verrys. Voorwaarts!!!!!!

WynandM ·

Almal moet maar nou stem, al is jy hoe negatief of aanvaar jy nie die ANC regering of stem proses. Dis beter om te weet jy het darem geprobeer om iets te doen as om ‘n stoepsitter te wees wat net kla maar niks doen.

Eden ·

Nou moet miljoene swartmense net die Maanskyn pakt ondersteun. Ek het nie veel hoop nie. Sassa praat harder.

Elméne ·

Ek wil nie “nat waslap” wees nie, maar ek persoonlik sou BAIE beter gevoel het, sou die ACDP deel was van hierdie konvensie.

Wakkerslaper ·

Snaaks hoe hierdie my laat dink aan die referendum waar ons so gepaai en aangemoedig was om tog net “JA” te stem vir “verandering en onderhandeling” ….en kyk net waar het dit ons gebring, nê?

Papsak ·

Dankie vir julle wat saam staan bly om te sien julle wil SA help glo God gaan met julle en ons heke land SA wees bravo

annie ·

En so kinders, het die ooms toe almal saam hul waens gepak, hul pragtige Kaapse opstalle net so gelos en noord getrek om vry te wees… vir ewig! Ja Jannie? Juffrou, was hulle toe vry? Het julle diefwering en ‘n veiligheidsheidsisteem by die huis? Ja, juffrou.

Jaco ·

Kan almal ASSEBLIEF nou saamwerk?
1. In die 1980’s kon die regse Konserwatiewe Party en die ewe regse Herstigte Nasionale Party NOOIT saamwerk nie.
2. In 1991, toe ALMAL al geweet het dat die ontbande ANC ‘n veelrassige verkiesing sou wen, het net 60 mense darem Orania gestig, maar na 31 jaar het Orania net 3000 mense, wat terloops in 8 kerke verdeel is. So selfs daar is onenigheid.
3. Byna 1 miljoen nee stemme in 1992 se referendum was in 1994 af na 425 000 vir die Vryheidsfront.Die Konserwatiewe Party het mos daardie verkiesing geboikot. Daarna het die VF-Plus in elke verkiesing verswak, tot by bietjie van ‘n oplewing in 2019.

Ons het kanse verspeel deur oplossings af te skiet met “dis rassisme”, “dit sal nie werk nie” en” daars nie geld daarvoor nie”, enersdenkende groepe wou ook nie saamwerk nie en ons boikot verkiesings.Ons grawe lekker aan ons eie graf. So kan ons almal ASSEBLIEF nou saamwerk en deelneem en betrokke raak?

Marietjie ·

Ek voel 2024 is n baie belangrike jaar en dat dit baie veranderinge gaan bring in SA.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.