Ooreenkoms oor Telkom-afleggings ʼn hofbevel gemaak

Grafika: businesstech.co.za

Grafika: businesstech.co.za

Die arbeidshof in Johannesburg het Dinsdag die ooreenkoms wat verlede week tussen Solidariteit en Telkom bereik is, ’n hofbevel gemaak. Die ooreenkoms volg nadat Solidariteit onlangs ’n dringende aansoek om ’n interdik teen Telkom in die arbeidshof gebring het om die gebrekkige konsultasieproses wat tot op hede gevoer is, te stuit.

Kragtens die bevel moet ’n fasiliteerder aangestel word om die konsultasie rakende die afleggingsproses te fasiliteer. Die bevel bepaal ook dat Telkom nie enige aanstellings of afleggings mag doen totdat die fasiliteringsproses afgehandel is nie.

Volgens Johan Kruger, adjunkhoofsekretaris van Solidariteit, het die fasiliteringsproses ingevolge artikel 189 en 189A van die Wet op Arbeidsverhoudinge reeds gister ’n aanvang geneem. “Ons vertrou dat die nuwe konsultasieproses oor die beplande afleggings onder leiding van die fasiliteerder na behore sal plaasvind en deursigtig sal wees. Ons is verheug dat die regsproses en openbare druk teen Telkom se beplande afleggings die gewenste uitwerking gehad het,” het Kruger gesê.

Kruger verduidelik dat die hofbevel ’n oorwinning binne ’n groter geveg om die werk van Solidariteit se lede is. “Ons is deeglik bewus dat die groot geveg oor Telkom se besigheidsrasionaal en die voorgestelde seleksiekriterium van ras nog voorlê. Solidariteit sal alles in die stryd werp om sy lede se belange tydens die konsultasieproses en daarna te beskerm,” het hy bygevoeg.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.