Ooreenkoms tussen Rand Water en vakbonde bereik

Argieffoto

Argieffoto

Rand Water het Maandag gesê die onderhandelingsproses met vakbonde is nou afgehandel.

Justice Mohale, woordvoerder van Rand Water, het gesê die onderhandelingsproses was “robuust en dinamies”, maar is in goeder trou afgehandel. “Tydens die proses het Rand Water deurentyd water van hoë kwaliteit aan sy kliënte gelewer,” het hy gesê.

Hy het gesê die uitvoerende direkteur van Rand Water wil namens die raad en die uitvoerende bestuur al die belanghebbendes bedank vir dié uitkoms wat Rand Water in staat stel om uitvoering te gee aan sy mandaat van grootmaat-watervoorsiening.

Mohale het gesê die partye het op die einde mekaar halfpad ontmoet. Hy wou egter nie die besonderhede van die uiteindelike besluit bekendmaak nie. Die munisipalewerkersvakbond Samwu was nie dadelik vir kommentaar beskikbaar nie.

Samwu het Vrydag gesê hy sal met sy lede vergader oor ʼn nuwe aanbod wat deur Rand Water voorgelê is. Chumani Gqeke, die vakbond se onderhandelingsbeampte, wou nie die besonderhede van die hersiene aanbod bekendmaak nie.

“Ons het Donderdag met die werkgewer vergader waartydens hulle hul loonaanbod hersien het. Ongelukkig is ek nie in die posisie om besonderhede van die aanbod bekend te maak nie. Dit is nou in die hande van die lede by Rand Water om aan te dui of hulle die aanbod aanvaar of nie. Ons sal nie besonderhede van die aanbod deel sodra die proses afgehandel is,” het hy gesê.

Die vergadering het gevolg nadat Rand Water Donderdag onsuksesvol was om ʼn interdik in die arbeidshof in Johannesburg te bekom om die staking te verhoed. “Die regter het die partye opdrag gegee om terug te keer na die onderhandelingstafel en te werk aan ʼn ooreenkoms,” het Gqeke gesê.

Die vakbond het ʼn verhoging van 10% geëis vir die laagsbetaalde werkers, 9% vir middel-inkomste werkers en 8% vir toesighouers. Die vakbond het ook ʼn 12% aansporingsbonus en R2 150 algemene behuisingstoelae vir almal geëis.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.