Oorgang na laekoolstof-ekonomie dringend nodig – Ramaphosa

Foto ter illustrasie. (Pixabay)

Pres. Cyril Ramaphosa sê ʼn billike en realistiese oorgang na ʼn laekoolstof-ekonomie is dringend nodig in Suid-Afrika.

Die president het Maandag in sy weeklikse nuusbrief gesê toenemende klimaatsverandering hou ernstige gesondheid- en omgewingsgevare vir die land in. Dit kan ook ʼn verreikende uitwerking op die land se ekonomie hê.

“Hierdie risiko’s sal toenemend nadelig vir mense se gesondheid, waterbeskikbaarheid, voedselproduksie, infrastruktuur en migrasie wees.”

Volgens Ramaphosa het van die wêreld se voorste klimaatwetenskaplikes onlangs in ʼn verslag gewaarsku dat die tempo van aardverwarming so vinnig toeneem dat lande suid van die Sahara temperatuurstygings ver bo die wêreldgemiddeld ondervind.

Hy sê talle Suid-Afrikaners gaan reeds onder die gevolge van klimaatsverandering gebuk met doogtetoestande en oorstromings wat hul lewensbestaan bedreig.

“Verskeie gemeenskappe in Mpumalanga word byvoorbeeld deur hoë besoedelingsvlakke, wat respiratoriese siektes en ander siektes verhoog, geraak.

“Diegene wie se lewensbestaan van die see afhanklik is, ervaar reeds ʼn afname in visvoorraad te midde van veranderende weerpatrone en veranderings in seetemperatuur.”

Breër ekonomiese risiko’s

Verhoogde beperkings op die invoer van goedere wat met koolstofintensiewe energie geproduseer word, kan ook breër ekonomiese gevolge vir Suid-Afrika inhou.

“Aangesien ons handelsvennote ʼn geen-koolstofvrystelling-mikpunt nastreef, sal hulle waarskynlik die beperkings op die invoer van goedere wat met koolstofintensiewe energie geproduseer word, verhoog.

“Omdat bedryf in so ʼn groot mate afhanklik is van elektrisiteit wat deur steenkool opgewek word, sal daar waarskynlik hindernisse wees met produkte wat na verskillende lande uitgevoer word. Boonop sal verbruikers in sodanige lande ook minder bereid wees om ons [Suid-Afrikaanse] produkte te koop.”

Nóg ʼn risiko, sê Ramaphosa, is dat beleggers sal wegskram van beleggings in nywerhede wat deur fossielbrandstof aangedryf word.  “Banke en finansiële instellings ondervind reeds druk van hul aandeelhouers om nie ondernemings te finansier wat afhanklik is van fossielbrandstowwe om hul produkte of dienste te vervaardig nie.

“Al hierdie neigings beteken dat ons dringend en ambisieus moet optree om ons kweekhuisgasvrystellings te verminder en ʼn oorgang na ʼn laekoolstof-ekonomie te onderneem.”

Billike oorgang wat werkers bevoordeel 

Ramaphosa benadruk dat die oorgang na ʼn laekoolstof-ekonomie billik, realisties en regverdig moet wees aangesien verskeie belangrike sektore, waaronder landbou, toerisme, mynbou, energie, vervoer en die biodiversiteitsekonomie – negatief deur só ʼn oorgang geraak kan word.

Dus moet sodanige oorgang in die behoeftes van werkers in hierdie bedrywe en betrokke gemeenskappe voorsien.

Ramaphosa sê die oorgangsproses moet op die volledige betrokkenheid van georganiseerde arbeid en ondernemings by doelgerigte programme vir herkwalifikasies en opleiding berus, asook die skep van werk en ander vorme van ondersteuning om te verseker dat werkers die grootste voordeel uit die “oorgang na ʼn groener toekoms trek”.

“As land ontwikkel ons gedetailleerde planne om ʼn regverdige oorgang moontlik te maak. Ons elektrisiteitsektor, wat tot 41% van Suid-Afrika se kweekhuisgasvrystellings bydra, sal die eerste fase van die oorgang wees. Dit sal die vinnigste bedryf wees om koolstof na behore te verminder en ʼn voordelige uitwerking op die hele ekonomie hê.

“Ons sal steenkoolkragsentrales buite diens stel en hergebruik, asook in nuwe koolstofopwekkingsvermoë soos hernubare energie belê. Ons sal ook ʼn groen, omgewingsgunstige benadering nastreef, soos vervaardiging met behulp van groen tegnologie en die vervaardiging van elektriese voertuie.”

Benewens die vele risiko’s, sê Ramaphosa, is daar “groot ekonomiese geleenthede” wat aangegryp moet word. Hy sê dat Suid-Afrika oor menige hulpbron beskik wat ingespan kan word om innoverende geleenthede te skep en die ekonomie op nuwe terreine soos groen waterstof uit te bou.

Eskom onderneem eersdaags proeflopie

Ramaphosa sê Eskom stuur eersdaags ʼn loodsprojek by sy Komati-kragsentrale van stapel, waar dié opwekkingseenheid sy laaste steenkoolaangedrewe eenheid gaan sluit om krag deur hernubare energie te produseer.

“Komati sal ʼn goeie voorbeeld wees van hoe hierdie verskuiwing van steenkoolafhanklikheid bereik kan word.” Ramaphosa sê die regering het ten doel om teen 2050 koolstofvry te wees.

Hy sê dit sal slegs gedoen kan word met die finansiële ondersteuning van ander lande en die ontwikkeling van “groen bedrywe” soos elektriese motors en groen waterstof.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

16 Kommentare

annie ·

Lees soos ‘n lui student net die laaste paragraaf van die professor se lesing want dit sê gewoonlik alles soos in die geval van prof Pledge R hierbo: … Dit sal slegs gedoen kan word met die finansiële ondersteuning van ander lande en….

Jacobus ·

Geagte Pres. Ramaphosa. Het jy vergeet hoeveel jy en jou tjomme uit Kusile en Medupi in julle sakke gesteek het. Om jou argument erns te verleen gee dan massiewe belasting insentiewe vir ons gewone (belasting betalers) nie kaders, om son en windkrag te gebruik en nie die gebruiklike 15% roofbelasting te betaal nie.

Keith ·

Besoedeling is eintlik die probleem, meneer el presidente, en daar is n’ groot verskil tussen klimaatsverandering (waaruit jy n’ klomp geld wil maak) en besoedeling (wat jou departemente se verantwoordelikheid is … om stop te sit). So ja, hier gaan ons alweer.

Hardekwas ·

Die kaders se nuwe taktiek om n meksikaanse handdruk te wil beoefen, want geld raak nou baie skaars in ons land.

Marius ·

Asb tog,daar is grooter probleme waaraan jy aandag kan gee wat SA tot niet maak,hou op om die aandag van korrupsie weg te vat!!jy mors jou asem en fool net jouself

Pieter ·

Ramphosa is deel van die probleem. Sy steenkool myngroep Shanduka (nou deel van Glencore) het liederlik die waterbronne tussen Middelburg en Wonderfontein/Carolina vernietig en besoedel deur mynbou terwyl hy ryk geword het daaruit. Nou moet ons hierdie snert oopeet. Blykbaar het sy swaer Patrice Motsepe reeds baie belê in alternatiewe kragbronne. Dus ons weet weer wie word bevoordeel.

Nici ·

Wat meer en onmiddelik nodig is is ‘n funksionerende ekonomie en staatsdienste.

Barney ·

Suid Afrika het nie die Agenda 2030 koolstofdioksied probleem nie want Eskom is klaar in sy pekie in.

Dries ·

Maroela Media. Ons sal baie graag so n volledige artikel oor die werklike stand van sake wil sien van die energie kenner Ted Blom. Asb asb.

Janice du Plessis ·

Dagsê Dries
Baie dankie vir jou kommentaar.
Ons sal ondersoek instel.
Groetnis
Janice
nms Maroela Media

Dirk Mostert ·

Die klimaat- en covid-deuntjies word deur dieselfde orkes gespeel. Die klimaatpropaganda berus op pseudo-wetenskap. Kyk wat gebeur nou in die VK, Europa, China en Australie waar groenkrag fossielbrandstof vervang. Dit gaan gedurende die noordelike winter vermaaklik wees.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.