Oorgang na laekoolstof-ekonomie ‘nie so maklik’

sonkragpaneel-kernkrag-elektrisiteit

(Argieffoto: pixabay)

Dit is geen geheim dat die brand van steenkool een van die hoofbronne van lugbesoedeling is nie. Ten minste een kenner meen egter die oorskakeling na ʼn ander vorm van kragopwekking kan Suid-Afrika finansieel én maatskaplik duur te staan kom.

Dit is omdat steenkoolmyne duisende werksgeleenthede skep en Suid-Afrika se kragnetwerk boonop nie ontwerp is om krag by verskillende plekke in die stelsel in te voer nie.

Pres. Cyril Ramaphosa het Suid-Afrika verlede week tot ʼn ooreenkoms verbind om die land na ʼn laekoolstof-ekonomie te help oorskakel, maar presies hoe Suid-Afrika beoog om die voorwaardes verbonde aan die R130 miljoen-hulppakket na te kom, is nog nie bekend nie.

Ingevolge die ooreenkoms sal Frankryk, Duitsland, Engeland, die VSA en die Europese Unie die hulppakket, asook tegniese steun, aan Suid-Afrika gee om die oorskakeling te help versnel.

Roger Lilley, ʼn onafhanklike energiekenner, sê verkoling (“carbonisation”) dra by tot klimaatsverandering en uiterste weersomstandighede soos droogte en oorstromings. Die energiesektor, vervoerbedryf en groot nywerhede is verantwoordelik vir die grootste gedeelte van dié karbonisasie en daarom word pogings aangewend om ekonomieë te ontkool.

In Suid-Afrika is Eskom die grootste koolstofuitstraler – dit is ook die grootste op die vasteland – en om van dié verkoling ontslae te raak, moet Suid-Afrika steenkool met iets anders vervang, sê Lilley. Dié opsies sluit in wind- en sonkrag, natuurlike gas, kernkrag, hidro-elektriese krag en waterstof.

Die oorgang moet so gou moontlik gebeur, maar dit is makliker gesê as gedaan.

Lilley sê die gebruik van steenkool is vuil, besoedel ondergrondse water, soms selfs riviere, en ook die lug. Sowat 14 miljoen mense in Suid-Afrika woon in die onmiddellike omgewing van die land se 17 steenkoolkragsentrales en word blootgestel aan die besoedeling.

Die gehalte van Suid-Afrika se steenkool versleg – die beste steenkool is reeds gemyn en teen die huidige tempo waarteen gemyn word, is sowat 200 jaar se steenkool oor – wat beteken al hoe meer steenkool moet gebruik word dieselfde energie te verskaf.

Sosio-ekonomiese probleme

(Argieffoto)

Lilley sê steenkoolmyne is een van die grootste werkverskaffers in die land en myne – én die kragsentrales – kan nie bloot toegemaak word nie. Sou dít gedoen word, kan werkloosheidsvlakke volgens hom tot naastenby 70% opskiet.

Mynwerkers bestee boonop hul salarisse in die omgewing van die myne en indien dié geld nie meer dorpe bereik nie, sal hul plaaslike ekonomieë ineenstort. “ʼn Groot deel van ons bevolking word direk en indirek deur myne ondersteun. Ons kan dit nie net sluit nie en dit gaan baie lank duur om ʼn oplossing te vind.”

Lilley sê steenkoolkragsentrales kan omskep word in groener vorme van energieopwekking, maar dat dit ook ʼn uitwerking op werkers gaan hê. Sommige poste gaan heeltemal verdwyn, terwyl ander werkers heropgelei sal moet word.

Intussen moet die vraag gevra word hoe Suid-Afrika beoog om die R130 miljoen – wat by COP26 aan Suid-Afrika toegesê is – aan te wend. “Barbara Creecy [minister van omgewingsake, bosbou en visserye] het reeds gesê ons gaan nie wegbeweeg van steenkool nie, so wat is die plan?

“Die geld is aan Suid-Afrika toegesê, maar dit kom nie sonder voorwaardes nie.”

Die land kan intussen voortgaan om ander vorms van energieopwekking te ondersoek, maar dit gaan na alle waarskynlikheid soveel as tien jaar duur voor die eerste steenkoolkragsentrale gesluit kan word. ʼn Land soos Australië het dieselfde dilemma. Hy kan ook nie bekostig om sy steenkoolmyne te sluit nie, maar pleks daarvan om self die steenkool te gebruik, word dit na lande soos Indië en China uitgevoer. “Dit is volgens my oneties, maar mynwese is egter so ʼn groot werkgewer dat dit nie net afgeskakel kan word nie.”

Lilley sê Suid-Afrika sal waarskynlik soos Australië voortgaan om steenkool te myn, maar stadigaan begin oorskakel na alternatiewe opwekkingsopsies.

Aanpassings nodig

Suid-Afrika se kragnetwerk is boonop nie ontwerp sodat krag op verskillende plekke in die stelsel ingevoer kan word nie, maar is beplan om krag van een sentrale punt – die kragsentrale – te versprei.  En hoewel wetgewing onlangs aangepas is om die lisensiëringsdrempel van 1 MW tot 100 MW te verhoog, maak Eskom dit steeds moeilik vir onafhanklike verskaffers om krag te lewer.

Lilley sê die netwerk kan aangepas word sodat krag veilig ingevoer kan word, maar dit kos tyd en geld. En die politieke wil om dit te doen.

ʼn Sonkragaanleg wat sowat 200 MW lewer beslaan boonop naastenby dieselfde ruimte as ʼn Eskom-kragsentrale, maar dié kragsentrale lewer vyf keer die krag wat ʼn sonkragaanleg lewer.

Groot ruimtes gaan dus nodig wees om ʼn beduidende uitwerking te hê.

Fase 2-beurtkrag beteken 2 000 MW word uit die stelsel gehaal. Lilley sê die land gaan dus 20 sonkragaanlegte, wat elk 200 MW lewer, benodig net om fase 2-beurtkrag te stuit. In hierdie stadium geld fase 4-beurtkrag, wat beteken 4 000 MW word uit die stelsel gehaal om die netwerk stabiel te hou.

Suid-Afrika het vroeg in die 2000’s nuwe steenkoolkragsentrales begin bou en Lilley sê dit was in daardie stadium die goedkoopste manier om krag op te wek. Sommige van die ou kragsentrales moes vervang word en dit was nie die moeite werd om die ou eenhede op te gradeer nie.

Die probleme by die Kusile- en Medupi-kragsentrale blyk egter nimmereindigend te wees. Lilley sê as dit in die eerste plek reg gebou is, sou Suid-Afrika waarskynlik nie vandag met beurtkrag gesit het nie.

Eskom sou boonop die geld wat hy nou aan instandhouding moet bestee, kon gebruik om uitlaatgasse te verminder.

Lilley sê Eskom kan nie tans bekostig om enige (werkende) kragsentrales onnodig af te skakel nie, omdat die land reeds aan beurtkrag onderwerp word.

“Ons moet die ligte aanhou, anders stort die ekonomie ineen.”

Die private sektor – en onafhanklike kragverskaffers – kan wel ʼn beduidende rol speel om die situasie te help verbeter. Hiervoor is buitelandse beleggings nodig, maar vir internasionale maatskappye om hul sake hierheen te bring, moet Suid-Afrika se sakeomgewing meer sakevriendelik gemaak word. In hierdie stadium is daar hopeloos te veel burokratiese rompslomp en weinig aansporing vir beleggings, sê Lilley.

“Indien dit te moeilik gemaak word, stap beleggers weg.”

Hy sê buurland Namibië volg ʼn slim benadering in hierdie opsig en is reeds besig om ʼn sonkrag- en waterstofaanleg te bou. “Hulle is ons vooruit want hulle regering verstaan dat hulle sekere kenners betrokke moet kry.”

Groot ondernemings of myne kan besluit om hul eie krag op te wek en die surplus aan hul bure te verkoop – dit is nou wettig danksy die lisensiëringsdrempel wat verhoog is – maar dit gaan slegs klein gebiede help en nie die groter probleem oplos nie. Sommige maatskappye is byna heeltemal van die netwerk af, maar Lilley sê dit kom teen ʼn prys vir die res van die land, onder meer omdat dit Eskom van broodnodige inkomste ontneem.

Doen wat jy kan   

Om beurtkrag oor die korttermyn te verminder, moet Suid-Afrikaners so ver moontlik die druk op Eskom verminder. (Foto: pixabay)

Lilley sê Suid-Afrikaners moet so ver moontlik onafhanklik van die netwerk probeer bly, nie net ter wille van hulself nie, maar ook in belang van die breër gemeenskap. Hy stel voor dat diegene met die vermoë om byvoorbeeld ʼn sonkraggeiser of gasstoof te gebruik, dit moet doen om die druk op Eskom te help verminder.

“Ons het grootgeword met die feit dat elektrisiteit altyd beskikbaar is – en deesdae dink ons die heeltyd dit gaan volgende jaar beter word…,” sê Lilley terwyl hy terselfdertyd uitwys dat beurtkrag in die somer voorheen ongehoord was.

“Om beurtkrag oor die korttermyn te verminder, moet almal van ons so ver moontlik die druk op Eskom verminder. As die vraag tot onder Eskom se opwekkingskapasiteit daal, sal hy die ruimte hê om kragsentrales af te skakel en behoorlike herstelwerk te doen.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

27 Kommentare

Di ·

Ja nee as jy my vra sal elke huishouding nou dringend ‘n plan moet beraam om self ander alternatiewe in werking te stel om te kan oorleef. Die probleem is net dat dit ‘n ernorme bedrag beloop en met die huidige ekonomiese probleme in die land het min die fondse om dit wel te oorweeg.

VaalDonkie ·

Dit hoef nie vreeslik baie te kos nie. Ek het R4000 spandeer aan toerusting waarmee my rekenaar en internet heeldag kan werk (al my werk is aanlyn). Vir kos en warm water gebruik ons gas. Ek wil nog net ‘n sonpaneel of twee opsit sodat die battery nie deur Eskom gelaai hoef te word nie. Begin daar.

Pieter ·

Al die anc oom en tannies en broers en sisters werk mos vir eskom. En ons die belasting betalers betaal vir die klomp goed wat niks werd is nie.

Werner ·

Hy het net die land verbind sodat hy sy hande op die hulppakket kan kry.

Leana ·

Wat het van Koeberg geword? Dit was mos ‘n kernkragstasie?

Chris dupreez ·

Koeberg is funksioneel maar is heeltemal te klein, ons kort nog so n paar kragsentrales soos Koeberg.

annie ·

Sowaar… Gaan kyk eers hoe gaan dit daar en vind uit hoe en waar die volgende sirkusse beplan word voor jul ‘n plekkie by die see aanskaf. As selfs Duitsland sku is vir atoomkrag, sal Afrika sonder insig in die gevare dit beter doen as hulle nie eens steenkool kan hanteer nie?

JohanR ·

En die ANC kaders lek hulle lippe af vir die lekker tenders!

Hendrik ·

Een van Koeberg se opwekkers word Jan 2022 afgeskakel vir onderhoud. Nog ‘n 900MW minder vir die netwerk.

Dries ·

130 miljoen rand of is dit 130 miljard rand. Klink nie reg nie

Martie Smartie ·

Miljard. R130 miljoen blaas Lesufi in een oggend op klaskamers met santitasie bottels loop en spuit. (klaskamers wat maande lank leeg gestaan het let wel)

Chris dupreez ·

Daai geld gaan in elk geval weggedra wees voor hulle iets gedoen het. Die lande wat die geld skenk sal self die geld moet reguleer.

Dries ·

Net die sekuriteit om hierdie panele op te pas gaan n fortuin kos. Diefstal van hierdie infrastruktuur skep groot moontlikheid vir diewe om weg te dra

Misky ·

500 Biljoen het ‘n jaar terug soos mis voor die son verdwyn. Wat dink hulle gaan van 130 miljoen word en dis kleingeld vir ons ministers

wessel ·

laekoolstof ekonomie…hier is dit eerder geen elektrisiteit ekonomie 1848..

Johanncb ·

As dit nie was vir al die bedrog voor en na beurtkrag se instelling in 2008 nie, sou ons voldoende fondse gehad het om oor te kon skakel na volhoubare energie!

annie ·

Is dit R130 miljard of miljoen? Met die draai in die pandemie raak mense hiper-angstig oor hul aardse oorlewing soos vroeër jare en hul aksies hiperbool. Windmakerige leiers wil grootse planne vinnig invoer maar vir minder besoedeling is geen alternatief op die tafel wat nie reeds getoets en maar so-so of (uiters) skadelik is nie. Nie net hier nie, maar oraloor sal probleme opduik in die poging om die halsoorkop-Greta-faktor te plesier. Die toekoms lê effe verder as wat die betogers wil beheer.

Pietvdpaarl ·

Daar is ‘n massiewe aantal boere wat baie graag hul eskom rekening wil laer kry deur sonkrag op te wek en terug te “pomp” in die netwerk al is dit teen tarief minus 50% of selfs meer. Maar gaan probeer dít nou by jou plaaslike munisipaliteit of eskom kantoor regkry! Dit gee jou grys hare. Eskom sal nie net sy werkswyse moet verander nie maar ook sy ingesteldheid. Mens sou dink alles loop tans seepglad so min wil hulle van jou hoor of weet.

Pietertjie ·

Dis nou ‘n mooi manier om te sê ons moet maar verlief neem met die huidige toedrag van sake. NIE SO AAN MY KANT NIE! Hoe gouer ons ou volkie begin saamstaan en alternatiewe planne maak, hoe beter. En hoe langer ons voortploeter, hoe swaarder gaan ons kry. Begin deur die huidige politieke bestel te kniehalter by die stembus. Ek het solank op my eie begin “saamstaan” en binne sewe jaar is ek totaal onafhanklik van Eskom, Rand Water en ook die stadsraad se rioolstelsel. Mens kán as jy wíl.

Hendrik ·

Tans het ons 4000MW tekort volgens eskom. En daar is net meer as 4000MW afgeskakel vir beplande onderhoud. As hulle dit net aanskakel en dan die ander wat stukkend is ordentlik regmaak, het ons ook nie beurtkrag nodig nie.

Papsak ·

Ja maak alles net reg en kyk laat dit werk dan sal beurtkrag nie nodig wees nie

Waarnemer ·

!30 miljoen of 130 biljoe,,,wat maak dit saak,hierdie bedrag gaan in die kaders se beursies verdwyn….en die steenkoolmyne kan steeds mynvoer net die steenkooluit na Zambie,Botswana,Mosambiek,Zimbabwe,Nigerie,Sudan ensovoorts….

4ntj13 ·

Ek dink dis uiters onregverdig dat óns lugkwaliteit en waterkwaliteit daaronder moet lei as Zim en Zambië se hidroëlektriese stasies ineenstort. Voer die werkers uit om daardie sentrales op te knap, asb!
Buitendien, sonkrag vereis ook mense wat die plate kan skoon hou, byvoorbeeld. Lyk my eerder ons kort bestuurders wat nuwe werkgeleenthede kan koördineer, en leeglêers kan regsien.
Die geld van COP26 hoort by die gebruiker om hulle onafhankliker van Eskom te maak.

Jacobus ·

Goeie begin is om belasting korting te gee aan belastingbetalers

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.