Oorgrensaanvalle, veediefstal groot hoofpyn vir landbou

TLU SA is veral bekommerd oor die aantal veediefstalsake wat aangemeld word, teenoor die aantal suksesvolle vervolgings. (Foto: Jo Raubenheimer)

Vrystaat Landbou (VL) het sy diepe kommer te kenne gegee oor die soveelste aanval op die grens tussen Lesotho en Suid-Afrika. Dit lyk boonop of die polisie en weermag bewus is van die aanvalle, maar versuim om op te tree om dit te verhoed.

In die jongste voorval is ʼn plaaswerker dood nadat aanvallers Donderdag op die plaas Balmacara, in die Vanstadensrus-omgewing, toegeslaan het. Nog twee werkers is gewond. Die plaas is enkele kilometer van die Lesotho-grens geleë.

Maroela Media het vroeër berig volgens die polisie het vyf verdagtes die werkers se huise op die plaas binnegestorm en op hulle losgebrand.

Jakkals le Roux, voorsitter van VL se landelike veiligheidskomitee, sê die aanvallers was van Lesotho afkomstig en het glo ná die aanval terug oor die grens geglip.

Volgens hom word die plaas al jare lank beskou as ʼn brandpunt-gebied vir oorgrensmisdaad. Die weermag bedryf ook ʼn tydelike basis van daar.

“Die grenssituasie het die laaste paar maande geweldig versleg, met toenemende en groeiende oorgrensmisdade wat die veiligheid van landbougemeenskappe ernstig bedreig en ook groot eiendomsverwante verliese vir boere teweeg bring.” sê Le Roux.

Die organisasie sê die jongste voorval is een van ses die afgelope maand op verskeie grensdorpe waar slagoffers óf doodgeskiet óf daar op hulle losgebrand is. Dorpe is onder andere Wepener, Tweespruit en Ladybrand. VL sê misdadigers is gewapen, wat selfs groter druk op landbougemeenskappe plaas om hulself te beveilig. Boonop sukkel die polisie en weermag met ʼn tekort aan mannekrag, hulpbronne en toerusting om die probleem doeltreffend te pak.

“Boere is uitgelewer om na hul eie veiligheid en die van hul gesinne en werkers om te sien,” sê Le Roux.

Martin de Kock, VL-streeksverteenwoordiger in die Zastron-distrik, sê ook al hoe meer inligting dui daarop dat polisiebeamptes moontlik by oorgrensmisdade betrokke is.

“In baie gevalle sluit die weermag ook sy oë vir oorgrensmisdade en is baie klagtes van landbougemeenskappe af ontvang dat soldate bewus is van misdadige bedrywighede, maar niks daaromtrent doen nie.”

Die misdadigheid vind dikwels snags plaas met die polisie en weermag wat min of geen misdaadvoorkomingsoperasies in dié tyd van stapel stuur nie.

Volgens VL het landbougemeenskappe van 13 grensdorpe al skriftelik gevra vir sulke operasies.

Veediefstal knou boere

Boere is uitgelewer om na hul eie veiligheid en die van hul gesinne en werkers om te sien. (Foto: Jo Raubenheimer)

TLU SA sê ook polisiebeamptes is soms kop in een mus met misdadigers en boere verloor toenemend vertroue in die polisie. Die organisasie het Dinsdag sy kommer oor voorvalle van veediefstal te kenne gegee en sê veel meer sal gedoen moet word om die vlaag te stuit.

Met die Kerstyd op hande, gaan boere waarskynlik selfs meer onder veediewe deurloop.

Volgens die polisie se misdaadstatistieke het veediefstal tussen 1 April en 30 Junie vanjaar met 8% gedaal, maar die organisasie sê mense moet hul nie deur die syfers laat flous nie. Daar was ʼn daling in veediefstal in ses provinsies, terwyl voorvalle in die Vrystaat, KwaZulu-Natal en Mpumalanga toegeneem het.

TLU SA sê egter boere verloor toenemend vertroue in die polisie en meld uit moedeloosheid nie meer sake aan nie. Die afname kan moontlik hieraan toegeskryf word.

Mort Mortassagne, voorsitter van TLU SA se veiligheidskomitee, sê dié verlies aan vertroue is nie sonder rede nie. “Baie van die polisielede is deel van die sindikate. Veediefstal is ’n goed georganiseerde bedryf met groot geld op die spel.

“Tans word net sowat 20% van die sake aangemeld en ’n skamele 4% van die sake word suksesvol afgehandel. Kanse om die boewe vas te trek, is reeds so skraal en dan is die forensiese werk op veediefstal nie op standaard nie. Daar is ook die DNS-monsterdatabasis wat met sowat 400 000 monsters uitstaande is.

“Intussen steel die boewe voort.”

TLU SA is veral bekommerd oor die aantal sake wat aangemeld word, teenoor die aantal suksesvolle vervolgings.

Ronnie Schilling, ʼn streekbestuur van TLU SA, sê die organisasie neem kennis van die stappe wat die polisie doen om die situasie om te keer en is dankbaar daaroor. Hulle steun ook die polisie so ver moontlik hierin.

“Is dit te veel gevra dat die regering en die polisie ’n groter impak moet maak in die bekamping van veediefstal? Is die straf vir veediefstal enigsins ’n afskrikmiddel? Dit demoraliseer boere as hulle nie op hul eie of met die polisie se hulp ʼn uitwerking op die probleem het nie.

Schilling sê die hoeveelheid vee wat op een slag gesteel word, is boonop ekstra kommerwekkend.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Di ·

Weereens bewys dat die ANC geensins betrokke wil wees by die beskerming van ons boere nie. Lyk my al die Afrika lande sit met dieselfde probleem as ons, nou begin hulle al oor die grense kom om hier te moor en roof. In Lesotho is die doods vonnis stil in werking dus kom moor en roof hulle eerder hier.

Anoniem ·

Hou saans ‘n vuurplan in die rigting van die Lesotho grens.

Pieter ·

bring die komandos terug. hulle is al ouens wat die boere ordentlik beskerm het

Samuel ·

Waar is die eindbestemming vir hierdie vee? Sommige van ons ANC politici is ook groot veeboere.

Charl ·

Boere, bewapen en beveilig julself en skiet om dood te skiet, ongeag wie betrokke is !!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.