Oorleef beurtkrag só

huis eiendom

Argieffoto.

Die nuwe vlaag van beurtkrag het Suid-Afrikaners raadop. Dié kragonderbrekings hou nie net veiligheidsrisiko’s in nie, maar veroorsaak ook dikwels skade aan elektriese toebehore namate die krag aan- en afgeskakel word.

Maroela Media het vroeër berig Eskom het weer Maandagoggend aangekondig dat beurtkrag na fase vier verhoog word, ondanks aanduidings dat fase twee vir Maandag sou geld.

Daar is egter talle stappe wat huiseienaars kan doen om te verseker dat hulle veilig bly tydens beurtkrag, asook dat duursame elektroniese toebehore nie beskadig word nie.

“Baie mense is onder die indruk dat hul alarmstelsel gedeaktiveer word wanneer die krag onderbreek word. As jy egter ʼn stabiele en korrek geprogrammeerde stelsel het wat aan ʼn battery gekoppel is, sal jou eiendom steeds beskerm word,” sê Charnel Hattingh, nasionale bemarkings- en kommunikasiebestuurder van Fidelity ADT.

Sy waarsku egter dat ʼn alarmstelsel wel probleme kan gee wanneer daar tegniese foute is, of as die battery se krag te min is.

Die meeste moderne alarmstelsels het ʼn rugsteunbattery wat outomaties geaktiveer word as daar kragonderbrekings is. “Maak seker dat jou alarmstelsel voldoende batterytoevoer het en dat alle outomatiese hekke en deure gesluit is. Toets ook jou alarm tydens kragonderbrekings om te verseker dat dit wel werk,” sê sy.

Kragonderbrekings kan ook brandbeheerstelsels beïnvloed. Dié stelsels moet gereeld nagegaan word, omdat die gebruik van gas en kerse tydens kragonderbrekings die risiko vir brande kan vergroot.

Wees voorbereid op kragonderbrekings

Hattingh stel voor dat huiseienaars ook LED-ligte aan die alarmstelsel se battery koppel. Die ligte trek nie baie krag nie en kan steeds sigbaarheid verskaf. “As daar ʼn ekstra batterypak is, bly die klein LED-ligte vir hoogstens 40 uur aan,” sê sy.

Intussen het die Stad Kaapstad in ʼn verklaring aan sy inwoners gesê dat dit belangrik is om energievriendelik en so voorbereid moontlik op Eskom se beurtkrag te wees. Dié wenke is op alle landsburgers van toepassing. Huiseienaars kan die lewe vir hulself vergemaklik deur tydelike beligting soos flitse, gaslampe en kerse op plekke te sit waar dit maklik in die donker gevind kan word.

(Foto: pixabay)

“Sorg dat jou selfoon, skootrekenaar, tablet en radio altyd ten volle gelaai is as daar krag beskikbaar is. Dit sal jou in staat stel om met vriende en familie te kommunikeer tydens beurtkrag,” sê Phindile Maxiti, ʼn Wes-Kaapse burgemeesterskomiteelid vir energie en klimaatsverandering.

As jy weet dat jy in ʼn omgewing bly wat deur beurtkrag beïnvloed word, skakel toestelle, geisers, swembadpompe, lugversorgers, ligte en ander elektriese toerusting af om die risiko van skade weens die kragonderbrekings te verminder.

As hierdie toestelle afgeskakel bly tydens beurtkrag, verminder dit ook die tydsduur wat dit neem om krag na huise te herstel, omdat daar nie ʼn eenmalige oorlading op substasies is nie.

Beplan jou dag

Sorg dat jou voertuig altyd brandstof in die tenk het, aangesien die meeste vulstasies nie brandstof kan pomp tydens kragonderbrekings nie. Hou ook kontant in jou beursie, aangesien kitsbanke nie sonder elektrisiteit kan werk nie.

As jy nie ʼn gasstoof het nie, berei jou etes voor voordat die krag afgeskakel word. Kook water in ʼn ketel en hou dit in termosflesse vir warm drankies. Jy kan ook ʼn bedekking op teepotte, potte en panne gebruik om drankies en maaltye warm te hou.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

14 Kommentare

Vonkprop ·

Of Eskom kan net vir ons krag gee waarvoor ons so baie betaal en dan hoef ons nie so planne te maak nie. Dit is tyd dat Eskom by ons aanpas en nie anders om nie.

Kandas ·

@ Vonkprop. Se ek ook!! Hoeveel belaglike verskonings kan daar nog wees vir beurtkrag!!??

daniel ·

Ek is die mening toegedaan dat die ekonomie net gered sal kan word indien BBEE en AA afgeskaf word.

SjN ·

As die werk reg gedoen word is die maatreels nie nodig nie!!!!

Hanno ·

Onafhanklike tuisland is nie die oplossing nie. Net n kwessie van tyd voor dit ook weggegee sal word, a la 1992 styl.

Tammy ·

Hulle moet meer bevoegde mense aanstel wat vooruit kan beplan en wat behoorlik opgelei is. Hulle het reeds vir ons bewys dat Eskom nie die ding kan doen nie. Kry asseblief mense wat kan!!!!!!!!!!!!!!!!!!!!!!!!!!!!!!!!!!!!!!!!!!!!!!!!!!!!!!!!!!!!Ons is gatvol vir julle verskonings Dis onaanvaarbaar

johan ·

Hoekom kan ons nie net direk by eskom krag koop nie. sny die skelm mislukepaliteite uit. Eskom kry buitendien nie hulle geld al betaal ons die treurige stadsrade nie. betaal eskom direk dan is daar minder probleme…flip tog moet mens vir hulle dink ook

Lourens ·

Toe ek ‘n jong seun was, het ons koolstoof tog te lekker gebrand mét nat steenkool.
Dan ook, hoekom beurtkrag hulle nie die nie-betalers deur SA nie, dan spaar hulle al die krag wat hul kort is.

Sakkie ·

Soo aanvaar ons dit maar net weer maak planne en gaan aan soos met als wat hulle ons mee bevark

Skepties ·

Johan , maak seker waarvoor jy vra, ek koop direk by Eskom, R 3000.00 per maand vir lynhuur sonder enige eenhede. Ons word net so deur beurtkrag geraak soos enige munisipaliteit. Probeer om beproeiingstelsels suksesvol te laat loop met beurtkrag. Ek moet na elke onderbreking weer die goed gaan aansit en dit moet inpas in my leibeurte.

Luke ·

Ek lag lekker! Lankal van die network af! Maak n weer n heerlike potjie op my Jikokoa stofie! Gebruik net 300g houtskool, vinnig en effektief!

Tania ·

Fase 6????. Geen woord kan frustrasie opsom. Die skedules bly errors uitgooi. Het iemand ‘n werkende link vir die Wes Kaap.

Gert Retire@Midstream ·

Die oortollige en oneffektiewe personeel by Eskom saamgelees met nie betalers vir krag beloop etlike derduisende rande. Kwaliteit van kragnetwerk saamgelees met bogenoemde asook besparing van 20% deur myne skep benarde posisie. Besparings verminder inkomste. Steeds benard. Sterkte aan almal wat betrokke is by hierdie fiasko,

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.