Oorlog gaan SA’ners se kosmandjies (én badsakkies) duurder maak

Foto bloot ter illustrasie. (Foto: Viki Mohamad / Unsplash)

Hoewel geografies ver geleë, sal Suid-Afrikaners na verwagting binnekort die uitwerking van die Russiese oorlog in Oekraïne regstreeks aan hul sakke begin voel. Rusland en Oekraïne is groot uitvoerders van graan, oliesade, kunsmis en ruolie en sedert die Russiese inval op 24 Februarie het die pryse van dié kommoditeite reeds aansienlik gestyg.

Kenners meen die oorlog gaan boonop nie net ʼn uitwerking op brandstof- en oliepryse hê nie, maar ook verskeie landbou- en alledaagse verbruikersprodukte wat onder meer graan, koring, plantolies en -vette bevat.

GraanSA sê die produkte wat waarskynlik die meeste geraak gaan word, is produkte waarvan die onderliggende kommoditeit se prys die skerpste gestyg het.

“Sonneblom- en koringpryse het die sterkste toegeneem. Die prys van produkte soos brood en sonneblomolie sal dus na verwagting die skerpste styg.”

Volgens Morné Botes, kommersiële direkteur van Soill, wat die B-Well‑ en African Gold‑kookolie-handelsmerke besit, sal die prys van proteïene soos vleis, suiwelprodukte, margarien, souse en smere, peuselhappies soos aartappelskyfies, sjokolade en lekkers, kookolies en selfs kos vir die vierpotige lede van die gesin ook styg.

Plaaslike verbruikers gaan na verwagting ook al hoe meer begin opdok vir toiletware soos reukweerder en skoonheidsprodukte.

Botes verwag dat stygings van tussen 15% en 20% vanaf 1 April op winkelrakke ondervind gaan word.

“Landboukommoditeitspryse reeds verhoog”

Wandile Sihlobo, hoofekonoom by die Landbousakekamer (Agbiz), sê die oorlog vind boonop plaas op ʼn tydstip waar wêreldwye landboukommoditeitspryse reeds hoër is weens laer graan- en plantolievoorraad.

“Die droogte in Suid-Amerika, spesifiek Brasilië en Argentinië, wat saam 14% van wêreldwye mielieproduksie en 50% van sojaboonproduksie uitmaak, het internasionale pryse reeds vir ʼn groot deel van die afgelope twee jaar opgestoot.

“Boonop het die stygende vraag in China en Indië na sojabone en ander plantolies, gekombineer met swak palmolieproduksie in Indonesië, opwaartse druk op wêreldwye plantoliepryse gevoeg.”

Sihlobo sê Rusland en Oekraïne was verlede jaar gesamentlik verantwoordelik vir byna 30% van die wêreld se koringuitvoere, sowat 14% van alle mielie-uitvoere, ongeveer 32% van wêreldwye garsuitvoere, byna 60% van alle sonneblomolieuitvoere en sowat 14% van die globale kunsmisuitvoere.

“Die vernietiging van ekonomiese infrastruktuur binne Oekraïne, tesame met verskeie skeepsmaatskappye wat die Swartsee-streek vermy en die uitgebreide sanksies wat Westerse lande teen Moskou ingestel het, beteken dat daar beperkings op die beweging van die landbouprodukte uit hierdie lande sal wees.  “Dit sal vererger word deur ander faktore soos die ooreenkoms om sommige Russiese banke uit te sluit van internasionale betalingstelsels soos Swift.”

GraanSA sê brandstof- en energiepryse sal ook intussen hoog bly. Die vloei van kunsmis kan boonop ontwrig word terwyl dié pryse ook kan styg.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

41 Kommentare

jongste oudste gewildste
Rayman

Hoekom moet ons goed duurder raak as daar meer as genoeg is in ons eie land, want ons voer ons A graad goed uit en voer C graad gemors terug, dit maak nie sin nie

Kompas

Wat is fout met Suid-Afrika dat ons nie in ons eie koring en sonneblom behoeftes kan voorsien nie?

Kwikkie

…kan ons salarisse dan ook asb styg…

…of hulle kan laat ons minder tax betaal – die regering gebruik in elkgeval nie die fondse soos wat dit moet gebruik word om die land in stand te hou nie…

Ugh hulle maak dit so moeilik om positief te bly :(

annie

So, wie gaan Rusland regeer as Navo die Weste sover kry om Rusland oor te vat? Dit is mos die hele idee van Biden et al. Sommer so. En dan word boetie die tsaar in St Petersburg: baas van die olieryk: al die skatte, Zolly die keiser oor die ganske wêreld. Dat Rusland verantwoordelik is vir alle wêreldprobleme, al ons produkte verskaf en die hemelruim bo ons ok bestuur… Solank ons darem net tp (asb Rusland) mag opgaar loop als nog klopdisselboom.

Roebs

Koop Suid Afrikaans en hou op om die goed in te voer regtig bele in ons land en sy mense en hou op om ander lande ryk te maak.