Oorlog: Reddingsboei vir SA’ners wat moet vlug

Foto ter illustrasie van vlugtelinge. (Foto: AFP / Daniel Leal)

Die niewinsgewende organisasie We are South Africans het reeds byna R200 000 ingesamel om Suid-Afrikaners by te staan wat uit ’n oorloggeteisterde Oekraïne moes vlug en nou spook om tuis te kom.

Dit is danksy dié geld dat Johan Nel – ’n jong Kapenaar wat te midde van die konflik te voet na die grens van Slowakye gevlug het – Vrydag sal kan terugkeer en met sy familie herenig word.

Die nood onder Suid-Afrikaners in Oekraïne en die omliggende lande is egter groot en baie meer geld is nodig om in hul onmiddellike behoeftes te voldoen.

“Hierdie mense leef in vrees. Hulle het alles verloor. Hulle het in dié stadium nie meer ’n toekoms nie. Suid-Afrikaanse studente in Oekraïne wonder of hulle hul studie sal kan voltooi,” vertel Gilbert Martin, stigter van We are South Africans.

Dié organisasie is sedert Rusland se inval van Oekraïne drie weke gelede daagliks in verbinding met Suid-Afrikaners in die ooste van Europa om hulle by te staan. Die bystand behels in dié stadium enigiets van hulp met die verplasing na buurlande, die reël van verblyf en die uitsorteer van dokumente tot die opspoor van familielede.

“Jy moet onthou, dit is nie asof hierdie mense ’n Venter-sleepwaentjie kon aanhaak en enigiets saamvat nie. Hulle kon vat wat hulle in die hande kon kry en moes hardloop.”

Volgens hom sloer die departement van internasionale betrekkinge en samewerking (Dirco) en departement van binnelandse sake sedertdien met gestrande Suid-Afrikaners se dokumente.

Martin is dus vasbeslote om soveel moontlik Suid-Afrikaners in die vreemde by te staan, terug te bring na Suid-Afrika en hulle te help hervestig wanneer hulle in die land aankom.

“Hierdie ding gaan nie gou eindig nie. Dit gaan net nog erger raak en ons land gaan self nog swaar trek … Of jy nou ’n Suid-Afrikaner hier in Suid-Afrika, of ’n Suid-Afrikaner in die buiteland is, ons sal jou help. Ons sal nooit vorentoe gaan as ons nie mekaar help nie.”

We are South Africans staan ook burgers van ander Afrikalande by.

Mense wat betrokke wil raak, kan hul Facebook-blad besoek of vir Martin ’n e-pos stuur na [email protected].

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Miena ·

Ek het regtig nie gedink daar is nog veel meer SA’ners oor in daardie land nie. Hoop hulle almal – elke persoon SA of nie – word geholpe met n heenkome en veilige hawe, veilige warm slaapplek en warm kos. My hart gaan so uit aan die mammas met babas en klein kindertjies, die ou-mensies en die diere wat hulle moes agterlos met of sonder hul mans…

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.