Oorname van Anglo-myne verwelkom

Argieffoto

Argieffoto

Die vakbond Solidariteit het die Mededingingskommissie se goedkeuring van Sibanye Gold se oorname van drie Anglo American Platinum- en Aquarius Platinum-myne verwelkom.

Die vakbond het voorts die bestuur van Sibanye Gold bedank vir sy belegging in die Suid-Afrikaanse mynbedryf, en het die myngroep alle sterkte met die oorname van die myne toegewens.

Gideon du Plessis, hoofsekretaris van Solidariteit, het egter die hoop uitgespreek dat die werkverliese wat weens die onderhandeling tussen die myne beoog word, steeds verhoed kan word. Daar word tans voorsien dat 510 poste by die twee Anglo-myne en 14 poste by die Aquarius-myn afgeskaf gaan word.

“Deur onder meer die vestiging van stabiele arbeidsverhoudinge kan die werksverliese verhoed word. Ons doen ʼn beroep op alle rolspelers in die mynbedryf om Sibanye Gold met die oorgang by te staan. Goeie samewerking tussen rolspelers in die bedryf is nou broodnodig om groei in die bedryf te stimuleer en die krisis waarin die mynbedryf hom bevind, op te los,” het Du Plessis gesê.

Du Plessis het voorts ʼn beroep op Sibanye Gold gedoen om Anglo American se steenkoolmyne wat ook in die mark is, te koop. “Sibanye Gold is die ideale maatskappy om ook dié myne oor te neem. Nie net het hulle die regte profiel en ’n suksesvolle prestasierekord nie; dit sal ook verhoed dat Tegeta Resources met sy Gupta-bande nog steenkoolmyne bekom,” het Du Plessis bygevoeg.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.