Oorsaak van 6-jarige se hekdood steeds ondersoek

Chené Pretorius. Foto: Verskaf

Chené Pretorius. Foto: Verskaf

Die omstandighede wat tot die dood van die sesjarige Chené Pretorius gelei het nadat ʼn motorhek Maandag by ʼn naskoolsentrum op haar beland het, is steeds onduidelik.

Konst. Styles Maome, polisiewoordvoerder, het aan Maroela Media gesê dat die polisie steeds besig is met ʼn geregtelike doodsondersoek nadat Chené, ʼn gr. 1-leerder aan die Laerskool Oosterkruin in Germiston, dood is nadat ’n motorhek by die Slimkoppe-naskoolsentrum op haar geval het. Chené is per ambulans na ʼn nabygeleë hospitaal gehaas waar sy aan ʼn kopbesering beswyk het.

Maome kon nie bewerings bevestig dat die hek omgeval het nadat iemand daarteen vasgery het nie en het gesê dit sal deel vorm van die ondersoek.

Eric Ferreira, Chené se stiefoupa, het aan Maroela Media gesê dat die hek glo omgeval het nadat ʼn man wat sy kleinkinders by die naskoolsentrum opgelaai het teen die hek vasgery het. Volgens Ferreira het die man net weggejaag van die toneel af en word nou deur die polisie gesoek. Maome kon hierdie bewering egter nie bevestig nie.

Ferreira het ook gesê dat daar glo duidelike merke op die hek is waar die motor die hek getref het, maar dat personeellede by die skool glo die hek weer regop gesit het voordat die polisie by die toneel opgedaag het.

Petro Oosthuizen, hoof van die Slimkoppe-naskoolsentrum, kon nie Donderdag vir kommentaar bereik word nie.

Oosthuizen het Woensdag gesê die oprit na die perseel word met ʼn motorhek toegemaak. Die hek het ʼn klein ingeboude veiligheidshek wat deur ouers en leerders gebruik word om in en uit te kom.

ʼn Ouer het Maandag glo voor die hek stilgehou om sy kinders op te laai en het die veiligheidshek gebruik om weer die perseel te verlaat. “Toe hy by sy motor kom en omdraai, het hy net gesien hoe die groot motorhek op Chené val,” het sy gesê. Oosthuizen het gesê daar is nog geen verduideliking oor hoe die hek omgeval of losgekom het van sy spoor nie.

Volgens Ferreira is Chené se ma, Claudia, al sedert Maandag onder verdowing en sukkel om haar dogter se dood te verwerk. “Sy is in ʼn baie slegte toestand; sy kan dit glad nie hanteer nie,” het hy gesê.

Chené sal Vrydag uit die Pinkster Protestante kerk in Springs begrawe word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

anon ·

ai liewe ouers ek as ouer dink aan jul deur di tyd van hartseer.

ANTOINET ·

Kannie glo wat gebeur het nie sys die mooiste engel ooit gewees. Dis vreeslik wat gebeur het ek hoop daardie skool word so hard gedagvaar laat hulle toemaak wat gebeur het is
onanvaarbaar! . En as dit waar is laat n man die hek omgery het mag jy kry wat jou toekom! Gaan haar so baie mis poplap jys die blinkste ster in die Hemel. Ons familie se harte sal altyd gebreek wees ons mis jou so baie poplap. Ons sal jou nooit vergeet nie ons kriekie jy sal altyd in ons harte wees tot ons weer eendag ontmoet :-( Lief jou so baie

Daleen ·

Innige simpatie met rie ouers grootouers eb mede skoliere. In die hartseer tyd met al die rooftogte en ontvoerings behoort elke nasorg. Kleuterskool. Sorgsentrum vir wie ookal kringtelevisie met bandopnemers toegerus ye wees. So sou enige onduidelikheid uit die weg geruim word. Geen bespiegelinge en daadwerklik enige ondersoek bespoedig

Familie lid ·

Iemand moet verantwoordelikheid dra! n onskuldige kind is dood,sy was nie die kans gegin om groot te word nie,om na n skool sokkie toe te gaan nie,om uit te sien na haar 16de verjaarsdag nie,haar bestuurslensie,matriek jaar nie! Die waarheid word hier versteek om hulself te beskerm! God slaap nie….. 6jaar oud,en weg geruk van die aarde af!

Adri ·

Is daar nog geen terugvoering oor die situasie nie? Dis al n maand later en ek het nog nerens gesien dat iemand verdink word van nalatigheid nie? Asook dat dit dalk wel net n frats ongeluk was nie? Het alles maar net dood geloop en stil geword?

claudia ·

NOG GEEN TERUGVOERING OOR WAT MET MY POPLAP GEBEUR HET NIE. ONS LEWE IS WEG. ‘N HEK KAN NIE NET OMVAL NIE DAAR MOET REDES WEES.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.