Oorsaak van Bank of Lisbon-brand steeds raaisel

Die brandende gebou op 6 September nadat die brand reeds die vorige dag ontstaan het. Foto: Twitter via @CoJPublicSafety

Dis reeds langer as ʼn maand sedert die brand in die Bank of Lisbon-gebou in Johannesburg waarin drie brandbestryders omgekom het en steeds bly die oorsaak van die brand ʼn raaisel.

Johannesburgse Nooddienste (EMS) het Woensdag gesê hulle ondersoek nog die oorsaak van die brand op 5 September in die 23 verdieping hoë gebou, wat ook die departemente van gesondheid en menslike nedersettings gehuisves het.

Twee brandbestryders is dood terwyl hulle die brand geblus het en ʼn derde brandbestryder is dood nadat hy van die gebou geval het. Die oorledenes is as Simphiwe Moropane (28), Mduduzi Ndlovu (40) en Kathutshelo Muedi (37) geïdentifiseer.

Nana Radebe, EMS-woordvoerder, het Woensdag gesê die ondersoek na die oorsaak van die brand duur voort. “Ons wag nog op verslae, maar sal ʼn verklaring uitreik sodra ons dit ontvang het.”

Sy kon nie sê wanneer die verslag uitgereik sal word nie, het African News Agency berig.

Ná die brand het dit aan die lig gekom die gebou het aan net 21% van die gesondheid- en veiligheidstandaarde voldoen; 85% of hoër is wenslik.

Volgens Simphiwe Sibiya, ʼn brandbestryder wat op Woensdag 12 September tydens die slagoffers se gedenkdiens op Ellispark in Johannesburg gepraat het, sou die brand nie “so erg” gewees het as aan dié standaarde voldoen is nie.

Zwelinzima Vavi, sekretaris-generaal van die Suid-Afrikaanse Federasie van Vakbonde, het gesê hy het nog nooit ʼn plek gesien waar die regering toelaat dat mense sonder ʼn brandblusser en water werk nie, het Maroela Media indertyd berig.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.