Oorsaak van brand by RDM nog onbekend

Rheinmetall Denel Munition se aanleg in Somerset-Wes. (Argieffoto: Phando Jikelo/ANA)

Die oorsaak van ’n brand wat Sondagaand by die Rheinmetall Denel Munition (RDM)-aanleg in Somerset-Wes uitgebreek is, is nog nie bekend nie.

Jan-Patrick Helmsen, uitvoerende hoof van RDM, sê interne en eksterne ondersoeke duur in dié stadium voort.

“Die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) en departement van indiensneming en arbeid was die afgelope paar dae by die terrein as deel van hul ondersoek. Hulle het egter nog nie voorlopige bevindings aan RDM bekend gemaak nie.”

Helmsen sê RDM het Maandag ook sy eie interne ondersoekspan aangestel.

“Terwyl ons nog nie deur die SAPD toegang tot die N86-gebou verleen is nie, ondersoek en verkry ons intussen enige inligting wat ons moontlik kan.

“Ons sal nuwe inligting bekend maak soos die ondersoek vorder en gratis beradingsdienste aan die gesinne wat in die voorval in 2018 geraak is, bied soos nodig.”

Niemand is Sondag in die brand beseer nie, maar dit het pynlike herinneringe opgeroep vir die geliefdes van agt werkers wat drie jaar gelede in ʼn ontploffing by dieselfde aanleg dood is.

Hoewel RDM nog nie weet wat die brand veroorsaak het nie, verseker Helmsen inwoners dat die maatskappy aan streng Suid-Afrikaanse en internasionale regulasies voldoen.

“Ons voldoen aan en oortref in sommige gevalle die veiligheidstandaarde en ‑rekords van die meeste lande in die Asiatiese streek. Vir ʼn maatskappy van ons grootte en kompleksiteit presteer ons nou al ʼn paar jaar beter as die internasionale norm.”

Helmsen sê RDM is ook ’n lid van Safex – ’n internasionale bedryf wat hom op die veilige gebruik van springstof toespits.

“Veiligheid, spesifiek die veiligheid van ons span en ons breër gemeenskap, bly ons topprioriteit. Vir daardie doel hersien ons alle stelsels, geboue, prosedures en vaardigheidsvlakke op ’n deurlopende grondslag –as ’n maatskappy en in samewerking met die betrokke departemente.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

1 Kommentaar

jongste oudste gewildste
Shakespeare

SAP julle is useless. Die opstokers by die KZN chaos is nog nie eers ge- tronk nie. Zuma en Zuma gespuis loop nog vry rond. DESPICABLE !!!