Oorsaak van brand op wynplaas ondersoek

Foto: Twitter

Die oorsaak van die brand wat Dinsdag pakkamers by Stellenbosch Vineyards vernietig het, word ondersoek.

Delana Green, bedryfsbestuurder van Stellenbosch Vineyards, het gesê ʼn werknemer het die brand opgemerk en dit dadelik aangemeld.

Foto’s en video’s van die brand is op sosiale media gedeel en volgens berigte is talle pakhuise in die brand vernietig.

Volgens Green is dit nog nie duidelik wat die brand veroorsaak het nie. “Mense is vinnig verwyder en daar is geen beserings aangemeld nie.”

Volgens berigte is daar miljoene rande se skade aangerig, maar Green het slegs gesê die omvang van die skade moet nog bepaal word.

Green het haar dank teenoor die brandweer op Stellenbosch, die polisie en die nooddienste uitgespreek vir hul vinnige reaksie.

“Ek wil graag vir al ons kliënte die versekering gee dat die nodige stappe gedoen sal word om te verseker dat sake soos normaal verloop,” het Eduan Steynberg, besturende direkteur van Stellenbosch Vineyards, gesê.

Stellenbosch Vineyards is op die plaas Welmoed in Lynedoch buite Stellenbosch geleë.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.